Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kleinboer voltooi ’n skryfsirkel met sy debuutdigbundel

Hy is bekend as romanskrywer, maar die skrywer Kleinboer gee met sy debuutdigbundel uiting aan sy eerste liefde. Hy het reeds in die 1980’s – terwyl David Bowie se liedjie ‘Space Oddity’ in sy woonstel gespeel het – besluit om ’n digbundel uit te reik. Hy het met AJ Opperman gesels. 

Kleinboer is al in ’n kroeg berispe omdat hy ’n staaltjie in te veel besonderhede vertel het.

“Toe sê ek vir my Engelssprekende vriend: ‘I can’t apologise … I specialise in detail!’ Ek skryf maar wat ek aan eie bas voel,” sê Kleinboer, skryfnaam van Fanie de Villiers (64).

Kleinboer, oftewel Fanie de Villiers.

Dit is ook die geval met sy debuutdigbundel, Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels. ’n Mens voel jy ken die skrywer Kleinboer beter nadat jy die bundel gelees het.

Dit is onlangs deur Naledi uitgereik.

Kleinboer is bekend om sy romans Kontrei, Werfsonde en Hierdie huis, maar poësie is sy eerste liefde.

“In die vroeë 1980’s, toe ek op die boonste vloer van die hoogste woonstelblok in Pretoria gewoon het (die adres, Sunnypark 2107, is in my kop geëts, en ek onthou die rook van die kanonskote by die Uniegebou op Republiekdag), het ek my voorgeneem om ’n digbundel te skryf, alleen een aand toe David Bowie se liedjie “Space Oddity” gespeel en ek Durban poison in die longe gehad het.

“Ek het ’n verbete briefskrywer en houer van ’n dagboek geword, wat tot drie romans gelei het. Maar om die digbundel te skryf, was vir my om die sirkel te voltooi. Dis meestal ’n geval van ‘write what you know’, maar die gedig ‘Sprankie’ in my bundel, asook ’n paar ander, is wel voorbeelde van fantasievlugte.”

Hy het as kind in Kempton Park aan die Oos-Rand nooit dagboek gehou nie. Hy het soms briewe aan sy ouma aan moederskant geskryf. ’n Brief wat hy in 1964 aan sy ouma geskryf het, verskyn in Hierdie huis.

Sy digbundel het ’n baie langer titel as enige van sy romans.

Die sanger en skrywer Koos Kombuis het die titel van Kleinboer se debuutroman, Kontrei, gekies.

“Ek het bloed gesweet om met Werfsonde en Hierdie huis vorendag te kom, maar toe, vir die digbundel, vat ek die maklike roete en steel ’n frase uit Hierdie huis: ‘Van my beste vriende is groen pyltjies, bruin biere.’ Die hoofkarakter in daai boek het ’n obsessie om sinne te versamel wat presies 42 letters bevat, maar ek het ‘en’ tussen ‘pyltjies’ en ‘biere’ ingevoeg vir die bundeltitel. Dit is gepas, want heelwat gedigte gaan oor bruin dinge drink en groen goed rook.”

“Ja, ek sal seker hier in die ghetto Yeoville doodgaan as ek die lotery nie wen nie. ’n Kusdorpie klink idillies, maar dokters is ver en die kroeë skaars.”

Die sprong van prosa na poësie was nie vir hom moeilik nie.

“In my romans het sommige sinne reeds na poësie geneig, byvoorbeeld hierdie stukkie uit Kontrei: ‘ ’n Glas bier is ’n guerrillabeweging; mens kan dit sien aan die borreltjies wat asof van nêrens sonder ophou boontoe beweeg.’ ”

Hy verwoord dinge wat hy ervaar. So ook sy daaglikse bestaan. Die meeste van die verse het gestalte gekry in sy huis in Yeoville in Johannesburg, waar hy al 30 jaar woon.

Vandag is hy pa en oupa. Hy was al wewenaar. Hy woon tans saam met sy derde vrou.

“Ek het vir jare in woonstelle gewoon voor ek my eerste huis as 34-jarige betrek het (hierdie einste huis in Yeoville), en toe het ek braai met vuur en vlam aangeleer. Ondenkbaar sonder drank. En ja, ek los dalk nie al die wêreld se probleme op tydens ’n braai nie, maar dis ’n oer-aktiwiteit wat my groot welbehaaglikheid besorg.”

Met sy romans het hy dikwels met aantekeninge by die huis aangekom wat in kroeë of op ander plekke geskryf is.

Sy gedigte het hy meestal “uit die bloute” in sy studeerkamer “kom sit en tik”.

Hy kan in chaos funksioneer.

“Mits daar ’n safe space van orde ook is.

“ ’n Marmot op ’n skoon wieletjie wat tol te midde van al die strooi. My kosbaarste besitting in my studeerkamer is ’n Japanse draaitafel, ’n Micro Seiki met ’n swaar houtbasis, wat ongelukkig nie meer werk nie. Hier is ook ’n leë bottel, ’n hele liter groot, van Ketel 1-graanjenewer wat my vriend Bas eenkeer vanuit Nederland hier aangebring het. En hier is ’n klipharde knopkierie uit Kenia en ’n effense sagter een uit Swaziland (hulle werk nog).”

Dis ook danksy sy woonruimte, waar hy graag braai, dat hy sy skryfnaam gekry het.

Einste Kombuis het ook ’n aandeel in die naam.

“Dit was in die dae toe Koos nog die little magazine Ons Klyntji uitgegee het,” sê Kleinboer.

“Hy het my gevra om ’n gereelde rubriek te skryf. Ná ’n paar kere het hy voorgestel dat ek dit onder ’n skuilnaam doen, want die krieketspeler Fanie de Villiers is my naamgenoot.”

Kleinboer het Kombuis herinner aan die skrywer Chris Barnard wat dieselfde naam as die bekende hartchirurg het.

Kleinboer se debuutdigbundel.

“Koos het my wel omgepraat om ’n skuilnaam te kies, en dit was maklik. In daai stadium het ek ’n rissiestruik en ’n lappie spinasie in die agterplaas van my erfie gehad, en ek bring die ‘klein’ landbou-aktiwiteit en my kort gestalte toe bymekaar.”

As prosaskrywer het hy in 2004 die Jan Rabie-Rapport-prys gewen.

Met die prysgeld het hy ’n joernalisvriend in Kenia besoek.

“Ek het minder rassespanning in Kenia as in Suid-Afrika aangevoel, seker deels omdat hulle ‘uhuru’ verder in die verlede as apartheid is, en ook omdat Keniane nooit sulke brutale rasseskeiding deurgemaak het nie.”

’n Mens kry die indruk Kleinboer se omgewing beïnvloed sy digkuns.

“Groter digters se invloed is wyd, maar ek mik hoogstens om ’n grinnik van herkenning te ontlok.”

So ook sy werk as subredakteur by die tydskrif Farmer’s Weekly en stap as ’n tydverdryf.

“Marlene van Niekerk het in Sophiatown in Johannesburg kom woon om ’n gevoel te kry vir haar roman Triomf. Ek herinner my sy het gesê Johannesburg is te kru vir die skryf van poësie.”

Kleinboer meen egter aangesien sy poësie “maar kru” kan wees, kon hy sekere brokkies oplewer:

voorwaar voorwaar sê die mediese biljet

die Viagra wat jy onder die maatemmer sluk

gaan ’n uur later tot ’n dringende blikgeluid lei

Kleinboer mymer meer as wat hy hunker wanneer hy stap.

“Ek is gek oor stap, al kan ek nie Johnnie Walker Black Label bekostig nie (die goedkoper Red Label herinner my aan die EFF, nou drink ek maar VAT69 nes my pa destyds). Yeoville was ’n heerlike plek vir rondloop en drink in die 1990’s, maar dis nou gevaarliker en meer wetteloos, daarom het ek grootliks in my kokon teruggetrek.

“Ek braai en drink op eie erf en kyk verby die duiwelsvurkheining na die wuiwende boomtoppe en swewende wolke. Ek mymer meer as hunker. En my voornemens is gerig op oorlewing: koop pleisters, eet meer spinasie, onthou die honde se inentings.”

Hy hou van Johannesburg. Hy het in sy romans aan die geskiedenis van die Goudstad geraak.

Hy verwys na die ontslape skrywer Ryk Hattingh wat geskryf het Johannesburg was ’n plakkerskamp wat ’n stad geword het en nou weer ’n plakkerskamp word.

“Ja, ek sal seker hier in die ghetto Yeoville doodgaan as ek die lotery nie wen nie. ’n Kusdorpie klink idillies, maar dokters is ver en die kroeë skaars.”

Met dié dat poësie sy eerste liefde is, het verskeie digters hom geraak wat in die Groot verseboek opgeneem is.

Hy verklap egter Elisabeth Eybers se gedigte was soms vir hom te rigied.

“En haar foto’s het haar streng laat lyk.”

Tog het hy waardering vir haar. Hy haal haar in Hierdie huis aan.

“My gedagtes maal terug na my vroeë twintigs – ’n moeilike fase vol ware en denkbeeldige kwellings, ’n adolessensie wat amper ’n dekade te lank aangehou het. Die kleinste puisietjie in my gesig het my ontstel en nog skamer gemaak teenoor jong vroue. Ek het Elisabeth Eybers se ‘GOD GOD GOD GOD GOD GOD vat terug jou geel! (in haar gedig ‘Midas’) gereeld hardop gebid terwyl ek as gefrustreerde laat adolessent puisies in die spieël uitdruk.

“Groter digters se invloed is wyd, maar ek mik hoogstens om ’n grinnik van herkenning te ontlok.”

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels word deur Naledi uitgegee en kos R240.

Meer oor:  Poësie  |  Boeke  |  Skrywers  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.