Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kleinkind inspireer niefiksie-skrywer se kinderboek

Sy is die skrywer van niefiksie-boeke oor misdaad en sielkunde, maar as ouma van twee kleinkinders verskyn die joernalis Carla van der Spuy se eerste kinderboek eersdaags.

Poppedonsie, soos Van der Spuy haar oudste kleinkind noem, word deur Minimal Press uitgereik.

Carla van der Spuy Foto: Hermann Liebenberg

“Die boek volg beslis op my status as ouma,” sê Van der Spuy (69).

“Ek het op 65 ’n ouma geword. Ek is mal oor babas.”

Van der Spuy het vir haar kleinkind begin stories lees toe sy drie maande oud was. Sy word in November vier jaar oud.

“Ek dink dit gaan oor die knus geselligheid van sit op ouma se skoot. En sedert sy kan loop, dra sy vir my boekies aan. Ek sal baie graag vir haar ’n eksemplaar in haar hande wil gee.”

Van der Spuy se boeke sluit in Mens of monster: Die psige van ’n misdadiger en Mishandel, misbruik, miskien: Joey Haarhoff was my ma, ’n boek wat sy geskryf het in samewerking met Amor van der Westhuyzen, dogter van Joey Haarhoff, houvrou van die pedofiel Gert van Rooyen.

“Ek skryf my lewe lank niefiksie. Ek het in 1974 by Volksblad begin werk. Dit was my vuurdoop.

Ek het sowat 25 jaar gelede begin vryskut. Ek het wel ’n paar kortverhale gepubliseer, maar vir my is fiksie baie moeiliker om te skryf.”

Sy het baie respek vir fiksieskrywers.

“Hierdie ouma-ding het maar natuurlik gekom. Dis losweg op my gegrond, want soos die ouma, maak ek ook droog in die kombuis. Poppedonsie sê altyd vir my sy wil hoor van die stoute ouma.”

Van der Spuy het die stories in die boek getoets op vriendinne van haar wat oumas is.

Die boek gaan oor die avonture van Poppedonsie en haar ouma.

Die ouma kan nie kook nie en sy is baie deurmekaar, maar sy is baie kreatief.

“Poppedonsie haat byvoorbeeld ertjies, maar dan meng die ouma dit met Jelly Tots en Smarties. Sy is gedurig in die moeilikheid by die ouers. Want sy sal die hele bottel borrelbadskuim in die bad gooi. Ouma is nie suinig nie. En dan moet Ouma in die stoute hoekie gaan staan.”

Die storie word vertel uit die oogpunt van ’n baba in doeke wat nog nie kan praat nie.

Van der Spuy het op die ingewing van die oomblik aan die boek begin skryf.

“Ek is nie die soort ouma wat hekel en brei nie. Ek spring op die trampolien en speel wegkruipertjie. Ek is meer ’n aktiewe ouma as een wat bak en kook. Dit is losweg gegrond op goed wat ek met my kleinkind doen.”

Dié kleinkind het ook ’n sussie bygekry. Van der Spuy noem haar Katjiepiering.

Sy dra haar boek aan haar oudste kleinkind op, maar nou sê mense sy sal vir haar tweede kleinkind ook ’n boek moet skryf.

Intussen werk Van der Spuy aan haar volgende boek. Dit handel oor bendes, maar meer as dit mag sy nie verklap nie.

Poppedonsie verskyn binnekort, maar die datum moet nog bevestig word. Martie van Niekerk is die illustreerder.

Meer oor:  Carla Van Der Spuy  |  Boeke  |  Kinderboek  |  Niefiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.