Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Klikbek’ verryk ons krimikorpus

Ondanks ’n paar gebreke lewer Sidney Gilroy met sy misdaadromandebuut, ‘Klikbek’, ’n stewige bydrae tot die groter gesprek rondom geweld, seksuele misbruike en mishandeling en magsverhoudinge tussen plaaseienaars en plaaswerkers, skryf Jonathan Amid.

Klikbek deur Sidney Gilroy. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R280.

Hierdie debuut, ’n onegalige, soms rou misdaadroman wat nietemin beïndruk, stel aan die resensent ’n aantal vrae wat ek tot die beste van my vermoë sal beantwoord.

Is alle resensente klikbekke wat moontlik gegewens kan uitblaker wat die leeservaring kan bederf? Is ’n verantwoordelike resensent – of anti-klikbek – dus iemand wat selektief met die “feite” van die teks omgaan om nie willens en wetens “geheime” te ontbloot of verrassende wendings te verklap nie en wat uiteindelik ’n bespreking lewer wat so sinvol, gebalanseerd en onpartydig moontlik is?

Só ’n neutrale oordeel is gewis makliker wanneer die resensie gaan oor ’n debuutwerk waar die skrywer nog nie sterk in die openbare domein figureer nie.

Die titel Klikbek, wat verskeie onaangename assosiasies met my laerskooldae ontlok, het uit die staanspoor my nuuskierigheid tot in die oortreffende trap geprikkel. Is daar slegs een klikbek, of meer as een? En indien wel, sal die verklikkers iets ontbloot of kommunikeer oor dieselfde kwessie of gebeurtenis of sal hulle oor verskeie probleme “verslag doen”?

Die klikbek speel ’n belangrike dog ambivalente rol: om sekere inligting te onthul, om iets te laat herleef as taal wat reeds as ervaring “dood” is of tot die verlede behoort, en om die verhouding tussen verlede en hede te problematiseer. Die klikbek kan kies om so veel of so min van die saak se “feite” weer te gee en word sodoende deur die aandra van die “storie” bemagtig.

Die klikbek kan ook in ’n posisie van gevaar verkeer: Hoe ver sal mense gaan om hulle geheime te bewaar, die status quo te beskerm en die klikbek se mond vir so lank as moontlik te snoer?

Kierkegaard het gesê “Life can only be understood backwards; but it must be lived forwards”; Zadie Smith meen “The past is always tense, the future perfect”; Shakespeare laat in The Tempest val “What’s past is prologue”; en Faulkner slaan dalk die spyker die beste op die kop: “The past is never dead. It’s not even past.”

Elkeen van dié vier aanhalings betrek die verhouding tussen die verlede, hede en die toekoms en die belang van die verlede namate ons vorentoe beweeg.

Die struktuur van die misdaadroman, spesifiek die speurverhaal, behels ’n omgekeerde proses van Kierkegaard se sinmaak. Die misdaad – dikwels en gewoonlik moord, dog nie noodwendig tot moord beperk nie, maar iets wat gewoonlik ál verder uitkring ná ’n motoriese moment – is die einde van ’n bepaalde storie, die storie van ’n sekere persoon se lewe.

Daar word dan van die einde – die dood – terugskouend gewerk om die “geheim” te ontrafel en die “klikbekke” of getuies en die getuienis te laat praat. Die verlede is altyd “tense”, aldus Smith, in die opsig dat die speurproses poog om dít wat wegkruip in die skadu’s bewustelik of onbewustelik aan die lig te bring. Om te praat oor traumatiese gebeure is tog moeiliker as om te swyg tot die dag dat dit onuithoudbaar word.

Die verlede is “proloog” in soverre dit konteks vir die hede verskaf. Wie misluk om die verlede te ontsyfer, misluk ook om die hede te begryp.

Faulkner se aandrang dat die verlede lewend en met ons is, eerder as dood en dus staties, is ’n uiters belangrike veronderstelling vir die misdaadverhaal. Daar is geen kans om tot verhaal te kom, om genoegdoening te ervaar, en om afsluiting oor traumatiese, gewelddadige gebeure te kry, indien daar nie behoorlik met die verlede gereken word nie.

Met hierdie “agtergrondkennis” word dit veel makliker om oor die teks self te praat. Klikbek verskyn ná Karin Brynard se Plaasmoord (2009), Coldsleep Lullaby (2012) deur Andrew Brown en Dibi Breytenbach se Vrediger (2016) wat na my mening drie van die belangrikste krimi’s is wat die ruimte van die plaas aktiveer en opsetlik meedoen aan ’n groter gesprek rondom geweld, seksuele misbruike en mishandeling en magsverhoudinge tussen plaaseienaars en plaaswerkers. Dit is ook onmoontlik om Klikbek te lees sonder dat Jonny Steinberg se Midlands (2002) mistroostig weergalm.

Klikbek se basiese buitelyn is betreklik eenvoudig: Eers verdwyn die welgestelde Tillman Wagenaar, ’n ou vriend van die polisiekommissaris, en ’n week later word twee mense noodlottig gewond in ’n aanval op die Wagenaars se plaas, Onverwacht. Belangrike kodes is opgesluit in detail soos die naam Tillman (Angel-Saksies vir “plaasboer”) en die van Wagenaar, wat in Duits heel voor die hand liggend “iemand wat waens maak of bestuur” beteken.

Die skrywer van Klikbek neem implisiet kennis van die tekste hier bo en besluit om sy eie verhaal te laat kopknik: Die Tillman Wagenaar-patriarg se letterlike reis waar hy, die betrokke plaasboer op die wa, ontvoer word en sekere gebeure plaasvind, word speels vooropgestel deur Gilroy. Die plaas se naam is Onverwacht, maar die leser weet uit die staanspoor die onheil wat gaan manifesteer, sal allesbehalwe onverwags wees. Dis slim, onderspeel en eintlik onmisbaar.

Ongelukkig is die intrige rondom Wagenaar se oorlewing en die motiewe agter sy ontvoering iets wat die skrywer vroeg reeds uitspel; die idee is om die leser ’n soort medepligtige te maak in Wagenaar se lot. Hierdie verhaallyn word myns insiens gekelder deur ongeloofwaardige gebeure en ’n verloop van sake wat my mateloos gefrustreer het, iets wat die “hekwagters” moes gekeer het.

Dan is daar die tweede, veel sterker intrige wat twee dooies betrek. Dit is met hierdie verhaallyn – een wat die skrywer toelaat om sy deugde as spanningskrywer behoorlik te laat geld – wat Klikbek behoorlik vlamvat.

Gilroy lewer indringende kommentaar oor die patriargie, wit skuld, rasseverhoudinge, die verraderlikheid van intieme verhoudings (dalk veral tussen mans), ambisie, die verlies van onskuld, verterende passie, jaloesie en haat, en die wyses waarop die sondes van die vaders aan die nageslagte besoek sal word.

Daar is asemsnaktonele, soos dié wat lig werp op die krap van ’n naam teen ’n kamermuur. Daar is nommerpas beskrywings en ’n groot aantal karakters wat eg en diep menslik geskets word.

Ek het ’n sagte plek ontwikkel vir die speurder Sollie Mthembu wat hom so graag as ondersoeker wil bewys. Mthembu se verhaal is werklik fassinerend en baie oortuigend vasgevang deur Gilroy. Sy letsel, wat beskryf word as ’n vloek en ’n tipe seën, maak hom ook ’n soort buitestander en profetiese figuur.

Daar is in die laaste derde van die boek ’n bitter teleurstellende wending, een wat Mthembu se speurvernuf onder verdenking plaas, maar dit word gered deur ’n kragtige, weldeurdagte laaste 20 bladsye en briljante slot wat die gebeure tot ’n skok-stilstand bring.

Gilroy skryf met gesag oor die ruimtes van die Vrystaat en lewe op die plaas, een wat veel meer kompleks is in die postapartheid-arena as wat ons dikwels wil glo. Ondanks die gebreke lewer Klikbek ’n dinamiese bydrae tot die plaaslike krimikorpus, een wat grondbesit en die verhouding tussen vertel en verswyg, verantwoordelikheid en selfvernietiging, onder die loep neem.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.­
Meer oor:  Human & Rousseau  |  Resensie  |  Debuut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.