Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Klokhelder stilte uit ’n bedrewe hand

Knapsekêrels

Pieter Fourie

NALEDI, R175

Pieter Fourie tydens ’n vroeëre onderhoud by die Woordfees op Stellenbosch. Foto: Leánne Stander

Pieter Fourie is ’n gesiene Afrikaanse dramaturg en een van die grotes. Die mees gepubliseerde en bekroonde dramaturg, dié is hy.

Hy debuteer onverwags met ’n pragbundel, Knapsekêrels, met kontreiverse wat sterk herinner in stylaard aan N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks. Louise Viljoen se bekende artikel “Digterlike gesprekke met N.P. van Wyk Louw” op Versindaba wys op al die gesprekke met Van Wyk Louw. Ook hierdie digbundel is dan ’n belangrike ­wederwoord of voltooiing.

Hierdie bundel neem ’n mens vérder terug na Ezra Pound se vers “In a Station of the Metro” (1913):

The apparition of these faces in a crowd;

Petals on a wet, black bough.

Hierdie kort, kriptiese vers (wat net 14 woorde het) is al beskou as ’n minisonnet.

Dan in Literator is daar T.T. Cloete se briljante analise van Louw se vers “dat akkers op die sinkdak val / en vye op die ringmuur breek” wat die leser attent maak op die kompleksiteite wat opgesluit lê in sulke skerfies gedigte. Cloete beklemtoon dat jy as leser die gedigte moet “voltooi”.

Boerneef, ons ander groot volksdigter, staan skielik op uit die ­dode, onder meer in Breytenbach se Die na-dood en Johann de Lange se ’n Hunkering se grein.

Fourie praat dus met gekanoniseerdes, hier te lande en buitelands. Die nuttige woordelys maak die gedigte “oop” vir die leser om die streekgebonde woorde in gedigte te begryp. Fourie, soos wyle ­Anton Prinsloo, een van my helde, bewaar “annerlike” Afrikaans.

Hierdie soort skerfgedig word dikwels geskryf deur ’n volwasse digter wat terugkyk op sy jeug.

Dis verse gevul met nostalgie, verlange en pyn; oor ’n wêreld wat vir ewig verby is. De Lange skryf tereg in die blakerteks dat sowel die taal- as die emosionele register wyd is. Kortom, dit is nie die soort gedig wat ’n jongeling sal kan skryf oor sy jeug nie. Fourie is 77, wat hom ’n ou debutant maak en die oudste in Afrikaans. Maar sy ouderdom is net tersaaklik wat die ­terugkykaksie betref.

Gebore en getoë in Philippolis, gee hy vir ons sy “hardnekkige knapsekêrels” digterlik weer. Pound se gedig aktiveer die dood van mense in die Eerste Wêreldoorlog en sy kennis van die Japannese digvorms (soos die haikoe), word ’n wrang-ironiese kommentaar op die oorlog.

Fourie skryf boere-haikoes. Punt-digte. Onvoltooide verse wat wag vir invul en klaarskryf. Die gedig as blokkiesraaisel vir die leser.

Van Wyk Louw se “Klipwerk”- reeks is volksliedjies en guitighede wat hy aangepas en verdigterlik het. Fourie se gedig “Voorbode” het dieselfde ingeboude premonisie as Pound se vers:

voorbode

’n ouvolk sit

op dophouklip

skielik gil

tinktinkie skril

in huisnok skuil

die nonnetjie-uil

dan kou die lam

aan doodsnot van

witappeltjie

Witappeltjie as die giftige karoobossie wat die gevreesde gousiekte by skape veroorsaak, word hier met die ouvolk, ’n primordiale dier, verbind. Die uil is eweneens ’n simbool van die dood wat die leser moet voltooi en neem na Jeanne Goosen se ’n Uil vlieg weg (1971).

Maar dis nie alles net dood en ellende nie. Daar is ook humor – soos by Van Wyk Louw – met verwysings na idiome soos “die swart varkie skrou”, oftewel die drang na drank, of ’n “lekmy”, wat ’n oorvol bottel wyn beteken. Of “ou snuif” vir die vroulike jy-weet-wat.

By Van Wyk Louw is die skunnige eweneens aanwesig. Kyk hoe laai Fourie ’n varkblom met seksuele innuendo. Die reeks “los kraletjies” is ’n hoogtepunt in hierdie bundel met sy speelse aanslag:

2

tietermantollie

tonteldosie

in knippievlam

kring ons krosie

En hoe pragtig om te verneem van die “bokwagter” se kaviaar in die diep Tankwa.

Die verskillende afdelings snoer die gedigte saam: kiekie, knelter, oumeidsoen, veervolk, goljaartjie, duwweltjie, stilte. (“Goljaartjie” ­beteken vrolikheid!)

Die “kartetsies son” in hierdie gedigte dra jy saam met jou met groot plesier. Die gedigte is dikwels klein dramas met ’n poelpetaanjol (dit verwys na die tarentaal).

Die gedig “voorland” is weer ’n besinning oor verskillende landskappe en die wete dat ons uiteindelik beweeg van verneukpan na buitepos tot by bokveld.

Bekende akteurs word aangespreek en die digter-literator ­Merwe Scholtz, wat op sy dag besinnende essays oor Van Wyk Louw geskryf het. “Gebed”, ’n pynlike lykdig, word aan Chris Louw opgedra.

’n Man wat só kan dig, verdien al die akkolades. Om so ’n “geurtjie in gebeurtjie” om te sit, vereis ’n vaste hand én oor.

Pieter Fourie het met hierdie digterlike oes iets presteer: min woorde maar baie implikasie én nadink. Die digkuns as klokhelder stilte.

Die uitgewer Naledi het hier ’n belangrike bundel gepubliseer en hiermee ou woorde aan die vergetelheid ontruk.

Joan Hambidge is ’n professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Pieter Fourie  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.