Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Klopper se debuutroman het ware temalied
Annie Klopper Foto: Retha Ferguson

Die voormalige musiekjoernalis Annie Klopper se debuutroman ís suiwer fiksie, maar die boek bevat ’n temalied wat gewis bestaan.

Gaan luister maar, “Tyd om eerlik te wees” is op alle musiekplatforms uitgereik.

“Met dié lied het fiksie nou die waarheid geword,” sê Klopper oor haar Die tragiese saak van Pamina Vermaak wat onlangs deur Kwela uitgereik is.

Soos die storie in haar roman, is die musikant Wolf de Jager ook bloot ’n verdigsel, maar hy “sing” nou in die regte lewe onder meer op iTunes.

“Tyd om eerlik te wees” is die pennevrug van Hunter Kennedy, Fred den Hartog, albei van Heuwels Fantasties, en Laudo Liebenberg van aKING, wat dit spesiaal vir Klopper se boek geskryf het.

“Mense het nou al Laudo se stem herken in dié lied en hulle het al begin wonder of hy dalk solo begin sing het,” sê Klopper, wat nog altyd ’n roman wou skryf en ook bekend is as digter en skrywer van Biografie van ’n bende: die storie van Fokofpolisiekar.

Die boek het ook sy eie klankbaan en ’n speellys verskyn agterin.

Lede van die groep Heuwels Fantasties, Jaco van der Merwe van Bittereinder en Klopper se man, Pilot de Wet, figureer ook as karakters in die boek.

“Ek het dit in oorleg met hulle gedoen. Om die karakter Wolf de Jager as musikant outentiek te maak, moet hy in daardie musiekkringe beweeg. Alles is fiksie, maar ek het dit in oorleg geskryf met die mense wat regtig bestaan.”

Vir Klopper, wat deesdae deeltyds Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland doseer, voel dit vreemd om aan die ander kant van die skryftafel te sit.

Sy het baie onderhoude en resensies gedoen en haar hoofkarakter is ook ’n joernalis.

“Daar is wel parallelle tussen my en Pamina, maar ek wil dit pertinent stel dat sy nie ek is nie. Daar is wel dinge uit my biografiese wêreld wat ek gebruik het, soos my verbintenis met die mediawêreld en my verwysingsraamwerk rakende die vryskutwêreld.

“Ek spot dalk so ’n bietjie met die media, maar dis nie bedoel as suiwer satire nie. Dit gaan oor Pamina se ervaring in haar laat 20’s. Sy is ongelukkig in haar werk.”

Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper.

Die naam Pamina het sy nie lukraak gekies nie, ook nie haar van nie.

“Ek dink Vermaak is die coolste van om te hê. Jou van is entertainment.

“Daar is ’n kontras tussen vermaak en tragedie, want die storie is eintlik ’n tragiese komedie, hoewel dit baie meer komies is. Pamina is natuurlik die karakter in Mozart se Die Towerfluit (Die Zauberflöte).

“Musiek het ’n magiese effek in hierdie opera en so het musiek ook ’n effek op Pamina (in Klopper se boek) se lewe.”

Klopper se gedigte het onder meer in Nuwe Stemme 4 verskyn.

“Ek is baie bly dat ek nou eers ’n roman geskryf het. Noudat ek weet waarvan ek hou en nie hou nie.

“Ek voel nogal blootgestel met hierdie boek. Dit voel vir my of ek nou solo gegaan het.”

Met die Fokofpolisiekar-biografie het sy die groep agter haar gehad.

“Met hierdie boek was dit net ek.”

Sy sal weer ’n boek wil skryf.

“Ek dink ek sal in die genre van rom-com in boekvorm bly, maar ’n mens kan natuurlik nie voorspel wat om die volgende draai lê nie.”

* Die tragiese saak van Pamina Vermaak word uitgegee deur Kwela en kos R245.

Meer oor:  Fokofpolisiekar  |  Musiek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.