Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Knap roman met ’n legkaart binne legkaart

Eindspel

Wilna Adriaanse

TAFELBERG, R270

Wilna Adriaanse Foto: Johan Wilke

Met die intrapslag is Wilna Adriaanse se Eindspel ’n wenner met ’n eerste sin wat lui: “Dis skemeraand toe Ellie die dorpie inry”. Dit adem die atmosfeer van ’n Western wat versterk word deurdat sy sommer dadelik die enigste kroeg op die dorp binnestap. Die aankoms van die onbekende . . .

Die kwessie van die belangrikheid van die eerste sin kry deesdae baie aandag in die buiteland. Daar is selfs ’n kwartaallikse tydskrif, The First Line, wat skrywers raad gee, aanmoedig en vertel hoe daardie eerste sin dikwels die toonaard van ’n boek bepaal. Dit dien as ’n soort stemvurk.

Adriaanse het duidelik geen raad nodig gehad nie, en die leser sit dadelik regop en vol verwagting. Eindspel is die vervolg op die blitsverkoper Dubbelspel en mense wat laasgenoemde gelees het, sal dan ook weet dat Ellie McKenna op die een of ander manier moeilikheid spel.

Hierdie skryfster is egter baie slim, soos dit ook verderaan in die boek blyk. Pleks van bloed en die reuk van kruit in die kroeg volg hier ’n eg landelike tussenspel. In ’n bladsy of twee word vertel dat Ellie net buite die dorpie ’n huis gehuur het met ’n leidam en groot boom, in die kroeg werk en in die kerk orrel speel. Die jong plaaslike dominee het ook sin in haar.

Die vrede duur nie lank nie. In die truspieëltjie van die orrel sien sy twee mans met donker brille instap en sy weet hulle soek haar. Sy leen ’n motorfiets en ’n mens dink: Hier gaan ons nou! Aikona. Van die gejaery kom eintlik niks.

Terug in die stad verneem sy ’n vriendin van haar is ontvoer en dié se minnaar het verdwyn. Met die hulp van oudkollegas in die polisie en veral van kol. Nick Malherbe van Interpol begin die soektog na die twee. Vir lang periodes gebeur daar egter nie veel nie. Soos een van die karakters waarneem, is hierdie soektog soos ’n legkaart waar stukkie vir stukkie ingepas word.

Die eienaardige ding is dat ’n mens geen oomblik verveeld raak nie. Terwyl niks asemrowends gebeur nie, word die spanning volgehou. In aansluiting hierby is die manier waarop die gebeure in Dubbelspel hanteer word. ’n Mens sou verwag dat lesers wat dit nie gelees het nie iewers in die boek ’n duidelike aanduiding sou kry van wat vooraf gebeur het. Adriaanse is baie meer subtiel. Hier en daar is daar ’n skuins verwysing; ’n legkaart binne ’n legkaart. Soos gesê: Slim.

Kennismaking met die karakters is nogal verkwikkend. Adriaanse het ’n slag met die inklee van die verskillende mense. Dis opmerklik hoe sy karakters deur hul taalgebruik definieer. Jy hoor duidelik die polisieman praat, f-woord en al. Of daardie oorlamse klong op straat wat een van Ellie se informante is. En die ekstroverte prostituut.

’n Karakter soos Ellie word amper ’n huisvriend. Sy is hardegat, befoeterd, weerloos en het ’n diepe hartseer wat soos ’n sluier oor haar hang. Haar pa is in die vorige boek by ’n blokkade dood, blyk dit. Sy het ook ’n probleemverhouding met haar ma wat baie drink. Ondanks die feit dat ander mense haar gou kan irriteer, het sy empatie en is sy sensitief vir die behoeftes van ander. Sy het voorheen verhoudings gehad, maar skram nou weg van mans.

In Dubbelspel is sy gruwelik vermink met aaklige letsels op haar maag en waar haar een bors afgesny is.

Tussen haar en kol. Malherbe is daar ’n vertrouensbreuk en hulle sit gereeld vas. Die leser kan egter amper die diepliggende aangetrokkenheid tot mekaar ruik.

Malherbe het haar op ’n keer kaal gesien en weet hoe haar lyf geskend is. Dit skrik hom nie af nie. Trouens, dit verdiep sy aangetrokkenheid. Soos sy, het hy ook ’n ongelukkige jeug gehad en ná twee huwelike is hy emosioneel tam en klaarblyklik eensaam, hoewel dit nie uitgespel word nie.

Nader aan die einde draai Adriaanse die vlam op. Mense word geskiet, die verdwene minnaar opgespoor en die ontvoerde meisie gekry. In hierdie gedeelte loop die spanning hoog, en hou ’n mens regtig asem op.

Die beskrywing van die gebeure is ontstellend realisties, maar die leser word beloon met ’n ontknoping wat ’n verrassing in die oortreffende trap is. ’n Mens kan die boek net hiervoor lees.

Hierdie boek is knap geskryf. En inderdaad goeie leesstof. As Audrey Blignault destyds die Afrikaner leer lees het, is dit skrywers soos Adriaanse, Meyer en Brynard wat mense weer eens laat lees en aan ’t lees hou. Afrikaans kon nie vir beter ambassadeurs gevra het nie.

Cas van Rensburg is ’n oudjoernalis en vryskutresensent van Onrusrivier.

Meer oor:  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.