Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kombuis dig oor ’n godlose wêreld

Die beste gedigte in Koos Kombuis se nuwe digbundel – die eerste een in 20 jaar – bevat vernuftige beeldspraak en interessante idees, maar Jaco Barnard-Naudé kon nie die geheelindruk afskud dat te veel van die gedigte by mymerende rymelary vassteek nie.

Vandag wil ek my blou skoene dra deur Koos Kombuis. Uitgewer: Naledi. Prys: R175

As God nie bestaan nie, is alles toelaatbaar. Dié beroemde gesegde kom uit Dostojefski se Die Karamazof-broers, en in Koos Kombuis se nuwe digbundel gaan dit hoofsaaklik om ’n eiesoortige worsteling met hierdie stelling.

Die programgedig, “dag een”, is ’n soort dankgebed: Nadat die spreker besluit het om nie “langer u gat te lek / en onmoontlike gewaagde geraserige / gebede soos onkruid / op u akker te laat groei” nie, is hy dankbaar vir die bevryding wat hierdie oorgawe bring. Dit is dus ’n gebed wat die gebed kanselleer.

Kombuis se beeldspraak in hierdie gedig is oorspronklik en ryk. Die dag is ryp aan genade wat glinster “soos die uil-oë / van eiers / in my brekfispierinkie” en gewaagde gebede is “soos onkruid / op u akker”. Die opeenstapeling van paarrym in die gedig het my egter herinner aan ’n laerskool-eisteddfod.

In “van vandag af is alles moontlik” is daar sprake van ’n ontwaking wat nuwe moontlikhede bring. Dié ontwaking kan in verband gebring word met die skynbaar gelate aanvaarding van die programgedig. Die spreker is hier “aanpasbaar” en “inskiklik”.

Dit is egter in “die dood van god, deel I” waar Kombuis Dostojefski se gesegde tromp-op loop en verklaar dat god weg is, “en waar hy was / is ’n gat wat soos die hemel / sing / en sing // en // sing”. Wát dit is wat die gat sing, is egter nie duidelik nie, behalwe dat dit “geil musiek” is.

In “die dood van god, deel II” kom dit aan die lig dat dit ná die dood van God gaan om “die broederskap van pyn”. In toonaard is hierdie gedig meer somber as die jubelende majeur van die vorige een: As God dood is, is ons ook in die moeilikheid, juis omdat alles moontlik word.

Hierdie gedagte word bevestig wanneer Kombuis in die volgende gedig praat van die “messe” wat “oor die pleine van / ongeregtigheid” marsjeer.

Die titel van die bundel kom uit die gelyknamige gedig waarin die “smarterige jare” van die ek afval: “ou bloedpleisters weg in die grou / van al my christelike gisters” en “daardie dae” gegroet word “want hulle is / vir altyd verby”. Interessant genoeg word hierdie dae “ingesluk” (dit word dus geïnkorporeer) en die spreker verklaar sy rou is verby. Die gedig is ’n goeie voorbeeld van die eenwording van vorm (vroulike volryme met die “blou” van die titel deurlopend) en inhoud (dit is ’n liefdesgedig) in geslaagde poësie.

Snaaks genoeg word hierdie assosiasie van blou met die liefde en met hoop weer onmiddellik gekanselleer in “alles vergeel” waarin dit met die geel van verganklikheid in verband gebring word en ’n mens wonder of die assosiatiewe waarde van blou in die vorige gedig hier ingeboet word vir maklike rymelary met behulp van die opeenstapeling van paarrym (wat alte dikwels in die bundel in sy geheel aandoen).

Afgesien daarvan dat Kombuis se oorkoepelende tema aan die swaar kant is, skroom hy nie om deur ’n ligter, grapperige lens te kyk na die wêreld waarin God dood is nie. Daar is ’n gedig oor die ongoddelike lus vir pampoenkoekies en ’n skreeusnaakse verdigting van die ontploffende Samsung-slimfoonsage, circa 2016.

In die beste gedigte bevat Kombuis se nuwe bundel vernuftige beeldspraak en interessante idees. Ek kon egter nie die geheelindruk afskud dat te veel van die gedigte by mymerende rymelary vassteek nie. Veral die gedigte waarin beroemde intertekste betrek word, slaag nie.

Die klassieke Kombuis is egter steeds hoorbaar in Vandag wil ek my blou skoene dra, en wanneer hy met sy eie interteks in gesprek tree, klink “net / andré” se stem op sy helderste.

  • Prof. Jaco Barnard-Naudé is die Britse Akademie se Newton- gevorderde genoot in die fakulteit geesteswetenskappe aan die Westminster-Universiteit in Londen.
Meer oor:  Koos Kombuis  |  Gedigte  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.