Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Komplekse ‘Vin’ ’n loutere plesier

Die prosa in Lien Botha se tweede roman, ‘Vin’, is skerp, beeldryk en gespierd, en sy wéét van storievertel, skryf Jean Meiring.

Lien Botha

Vin deur Lien Botha. Uitgewer: Queillerie. Prys: R280.

Soos in haar eerste roman, Wonderboom (2015), hef Lien Botha in Vin weer die dun membraan tussen werklikheid en waansin (maansin?) op.

Die aanhaling voorin uit Lewis Carroll se Alice’s Adventures in Wonderland maak die leser uit die staanspoor hierop bedag. Wanneer die dag nag en die lug see word, in die donkerste uur, sal sý terugkeer Wonderland toe, om die onmoontlike te vermag: om die tyd se hande terug te wen.

Nes Magriet Vos, Wonderboom se hoofkarakter, onderneem Vin Verster, kunstenaar en kurator, ’n reis deur ’n uitwaaiering wêrelde – op soek na haarself, na die betekenis van haar ouers se lot én na die heilige graal: ’n manier om in vandag se Suid-Afrika minder “selde” te lag (bl. 218).

Die roman open met wat ’n Proloog genoem word, maar wat in 2017 afspeel, ná die roman se hoofnarratief. Die buitevertellersoog verwissel hier tussen die Weskus – waar daar in die winterveld, onheilspellend, ’n eienaarlose oor rondlê – en Hermanus, waar ’n byderwetse buitenshuise kunsrondleiding teenaan die kus ’n aanvang wil neem.

Tog is die kurator van die beeldhou-tentoonstelling Klankspoor skoonveld. Tussen die kunsmense luier Vin se half-vervreemde argeoloogman, Ryk Human. Al sy oproepe na haar selfoon toe word met ’n stemboodskap begroet. Al het dít te vertelle dat Vin gaan visvang het, blyk dit dat sy soos “ ’n speld in die niet . . . verdwyn” het (bl. 21).

Ook is daar heelwat skalkse humor.

In hoofstuk een, wat in die Proloog se kielsog kom, verskuif die verteller se blik etlike dekades terug na wanneer Vin en Ryk, tóé albei studente aan die Universiteit van Kaapstad, mekaar vir die eerste keer – voor ’n opgestopte selakant – ontmoet.

Só begin die verhaal oopvou wat uiteindelik op Vin se verdwyning uitloop.

Gou is Ryk en sy in ’n verhouding gewikkel. Vin onderneem haar eerste kuns­tenaarsresidensie in Florence in Italië. In die opeenvolgende hoofstukke bevind sy haarself – iets soos Eben Venter se Simon in Groen soos die hemel daarbo (2017) – oor jare heen telkens in ’n ander eksotiese wêrelddeel, tussen eksentrieke kunsmense.

Keer op keer verdiep sy haar in haar gasstad of -streek se kunsgeskiedenis en -skatte en kom sy met ’n skeppende en dikwels aweregse idee vorendag om as kunstenaar – wit en die afstammeling van koloniste – ’n brug te span tussen haar heimat, wat sy blyk te wil ontsnap, en die plek waar sy besoek aflê.

Onvermydelik word die teks gou iets tussen ’n besinnende kunstenaarsdagboek en ’n reisjoernaal, waarin ’n onkeerbare stroom verwysings na skilderye, musiek en boeke met beskrywings van die natuurlike en stedelike landskap ineenvloei.

Die verhaalloop word ook elke dan en wan deur teksfragmente onderbreek, wat soos eilande in die stroom dobber.

Sodoende verkry die teks, waarin Vin meesal die fokalisator is, moeiteloos en heel oortuigend ’n digte en komplekse intertekstuele en tematiese onderbou: Watter kunstenaar is immers nie ’n palimpses van honderde indrukke, beelde en subtekste nie?

Bowe als is Vin met water behep: riviere; die see; visse (“vis, visser, visste”, bl. 61). Hierdie is by verre die sterkste samebindende netwerk motiewe. Dis asof Vin deur die helende, bewarende water swem wat oor die ou Karoo lê – tussen duisternooientjies, maanvisse en selakante (bl. 13).

Vir haar man sê sy: “En jy´, Ryk, sonder visvin . . . jy leef in die klipharde formaat van die hiëroglief . . .” (bl. 18).

Die keersy van die tematiese munt is, soos in Wonderboom, ’n bemoeienis met aftakeling; die opbreek van wat heel was of geblyk het heel te wees. Met verlies en tenietgaan.

Van haar sintuie is Vin durend bewus, van die moontlikhede wat hulle bied en die dood wat deur hul verlies ingelei sou word. Ook van haar sesde sintuig. Op ’n stukkie papier wat sy in Bamako, Mali, optel, staan dit in Portugees geskryf: “Vertrou jou sesde sintuig” (bl. 199).

Telkens, soos dit met kunsresidensies gaan, kom hulle tot ’n einde en keer Vin terug Kaapwaarts, na Ryk en haar huis in Onrusstrand, na sy ouers en sibbes en na haar enigste oorblywende familielid, haar beskermtante, Alice Visser, wat in Maggie Laubserstraat in die Strand woon. Van haar het Vin se ma eens gesê: Sy’s met die maan gepla (bl. 221).

Deur die inmessel van die ontwikkelingsgang van Vin se verhoudings met hierdie familielede, na wie sy keer op keer terugkeer, word die oorsese episodes tot ’n hegte narratiewe eenheid saamgebind.

Vin, vind die leser weldra uit, is kort vir Lavinia; die liefste heksie? Nes dit met Lewis Carroll se Alice die geval is, neem haar omswerwinge haar gaandeweg al dieper in ’n newe-, ’n benedewêreld in. Dáár is sy met Sloan Kent in ’n stryd gewikkel, haar onverklaarbaar vyandige voormalige klasmaat, wat met reikhalsende skrede sukses in die kunswêreld najaag.

Veral in die Kent-storielyn, wat langs die buiterand van die hoofvertelling omloop, werp Botha – self ’n fotokuns­tenaar en kurator – ’n satiriese blik op die kunsekosisteem. Gaandeweg ontwikkel haar en Kent se tweestryd in iets soos ’n primordiale mitologiese geveg tussen goed en kwaad.

Soos Wim in Wonderboom vir Magriet op haar swerftog begelei, is Vin se meeloper Hendrick Avercamp, die sewentiende eeuse Amsterdamse skilder van ystonele, haar eie doofstom man op die maan, met wie sy al hoe drukker in gesprek tree.

As sy ooit die pryslose skildery deur Avercamp opspoor wat uit haar ouers se huis weggerokkel is, sal sy sekerlik die sleutel in die hand hê om haarself – haar komvandaan, haar hierwees – enigsins te begryp.

Lien Botha se tweede roman is ’n komplekse en uitdagende boek. Tegelyk is dit, dalk verrassend, ’n loutere plesier om te lees.

Soos in so baie onlangse Afrikaanse romans – onder meer in Willem Anker se Skepsel (2020) en Ingrid Winterbach se Voorouer. Pelgrim. Berg. (2021) – word iets soos ’n tradisionele storielyn met die wêreld van sprokies, magie en onwerklikhede vervleg.

Boonop blyk die reële gegewens in Vin ten dele aan die skrywer se eie lewe ontleen te wees. Wonderboom se teks is met afbeeldings van verskillende weergawes van dieselfde pastiche deurspek. Hiér gaan Botha ’n waagmoedige stap verder.

Voorin die roman is daar die adres van ’n webblad waarop kiekies gelaai is wat saam met die storie gelees kan (moet?) word. Wanneer daar in die verhaal ’n verwysing na ’n kunswerk is, is dit op die webblad geliasseer. Ook, byvoorbeeld, boekvoorblaaie waar boeke ter sprake kom.

Uit dié webblad lei die leser gou af dat foto’s wat in die verhaal aan Vin toegeskryf word, inderwaarheid deur Lien Botha, die skrywer en fotograaf, geneem is. Kunsprojekte wat in die hande van regte kunstenaars waaragtig van stapel gegaan het, is in die verhaal ingeknoop. Daaronder tel die beeldhou-uitstalling in die Proloog, wat inderwaarheid as Sculpture on the cliffs deur Botha gekureer is. Derhalwe vorm Vin ook deel van die groeiende biblioteek van sogenaamde faksie-tekste in Afrikaans.

Botha se webblad vol beelde bied vir die leser ’n uitdaging. Hoe word dit ten beste hanteer? Self het ek die storie aanvanklik sonder verwysing na die beelde deurgelees. Ek wou ’n heen-en-weer tussen blad en webblad vermy. Ten spyte van die rykheid aan visuele verwysings in die teks, was die titels van skilderye, ensovoorts, aanvanklik vir my genoeg.

Met ’n tweede, meer talmende lees, en met die storie reeds beeldmatig in my kop ingelood, het ek al lesend elke dan en wan die webblad besoek. Natuurlik het daardie proses iets toegevoeg; soos prente maak, het hulle verhelder. Eweneens egter, het dit, soos ’n boek wat ’n fliek word, dalk die verbeelding se prestasie ietwat verskraal.

Die leser – as skeppende deelnemer aan die proses om die boek tot wasdom te bring – moet self op ’n roete besluit.

Maar wat vasstaan, is dat Botha, soos sy reeds met Wonderboom gewys het, wéét van storievertel. Haar prosa is skerp, beeldryk en gespierd: “ ’n plunderende heimwee” (bl. 45); “die somerlig van middaghoogte” (bl. 91); “by die huis stamel hulle vindingrykheid” (bl. 129).

Nét dikwels genoeg verdraai of vervreem sy die geykte om nuwe, verrassende segging in die hand te werk: “waar land afrots in die see” (bl. 9); “die Amerikaanse wêreld sper” (bl. 68); “[h]ulle avontuur voort in die [m]useum” (bl. 155).

Ook is daar heelwat skalkse, soms onverwagte humor.

Uit stukkies koordferweel en sy, dryfhout en knarsskulpies weef Botha ’n ryk, vernuftige en uiters genotvolle roman. Lank ná boektoemaak, ná die tong-in-die-kies slot “fin” (bl. 259), bly ’n mens daaroor mymer – soos in die maanlig oor ’n sprokie.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.