Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Konfrontasie met ’n nuwe manier van dink

Tweespoor

Helena Gunter

PROTEA, R180

Kortverhale

Daar is woede, ontnugtering, maar ook selfspot en humor wat van hierdie bundel ’n treffende besinning oor onder meer Afrikaneridentiteit maak, skryf Frederick Botha.

Tweespoor is Helena Gunter se derde bundel kortverhale. Foto: Michael Hammond

In die openingstoneel van Dominique Botha se Valsrivier (2013) waarsku die verteller se broer haar dat sy te naby aan die water is en dat sy op die babers in die modder gaan trap en hulle wakker gaan maak. Hierdie beeld word uiteindelik ’n metafoor vir die verteller se jeugherinnerings wat sy uit haar onderbewussyn oproep en tot roman omskep.

In Helena Gunter se derde kortverhaalbundel, Tweespoor, word daar ook in die gevaarlike waters van die geheue getreil om die monsters van die verlede vas te vang. Tweespoor sluit op verskeie wyses by vorige verhale in Op ’n plaas in Afrika (2007) en Met koffer en kaart (2011) aan. Die belangrikste ooreenkomste is die leser wat ook hier teruggeneem word na die verlede wat binne ’n plaasmilieu afspeel, en die konfrontasie met vrae oor eietydse Suid-Afrika.

Die voorblad waar ’n strook afgeskeurde bruin papier ’n versteekte beeld onthul, herinner aan dié van Juanita Louw se digbundel In die grot van die sibille (2016). Hier is dit Paul Klee se skildery Angelus Novus wat deur die skeur gesien kan word. Saam met die motto uit Dan Sleigh se 1795 (2016) – “Praat met die verlede, dáár sal jy leer” – word dit duidelik dat dié kortverhaalbundel juis gaan oor die ontbloting van ’n verlede en die oopskryf van ’n waarheid.

Die bundel bestaan uit vyf verhale. In die eerste vier verhale word daar op die jong Tilla en haar gesin gefokus: kleinsus Bettie wat altyd ’n matroospak dra, hulle pa wat in sy studeerkamer boeke lees oor hoe om te boer, en hul ma wie se aandag altyd by iets groots is wat in ’n ander tyd en wêreld gebeur.

Die tema van ’n dubbelspoor wat deur die bundeltitel geaktiveer word, vind neerslag in die verhaalstruktuur van hierdie vier verhale deurdat elkeen eindig met die volwasse Tilla wat terugdink aan die reeds vertelde jeugervaring en daarvan probeer sin maak. Hierdie vier verhale vorm dus ’n sterk eenheid deurdat daar spanning tussen Tilla se hede en verlede is, met spesifiek die slotgedeeltes wat die kompleksiteit van trauma belig.

Wanneer Tilla saam met haar maat Elise in “Diefstal” wegkruipertjie speel, word sý die verloorder – nie van die speletjie nie, maar van haar kinderlike onskuld. Daarom steel sy uit wraak Elise se hangertjie, en só word die bundeltitel ook in hierdie dubbele misdaad geresoneer.

In “Kapokeiers” is dit Tilla en kleinsus Bettie se kattekwaad wat hul ma se onvergenoegdheid op die spits dryf. Hier is dit die ma-dogter-verhouding wat ’n tweespoor van verlange en frustrasie word, met die besef dat herinneringe so broos soos eierdoppe is.

Die spanning in Tilla se ouers se huwelik vorm die verhaalgegewens in “Padkos”, met die volwassenes se leuens en ontkenning wat die eintlike padkos word wat Tilla op haar lewensreis met haar saamneem en as herinneringe by die bekende stilhouplekke van haar jeug vir haarself opdis. “Ons diamant” vertel hoe dit gekom het dat Tilla se pa geestelik ontspoor het, en hoe kleindorpse geskinder ’n verwarde kinderhart kan slyp.

Die laaste kortverhaal, “Angelus Novus Africanus”, is ’n epiese verhaal van 80 bladsye wat uit sewe afdelings bestaan, en wat my betref die hoogtepunt in hierdie knap en weldeurdagte bundel is.

Fransina is ’n wit, Afrikaanse, middeljarige vrou wat as Afrikaner – oftewel “white noise” – ontuis voel in die hedendaagse Suid-Afrika. Haar situasie tree in gesprek met Klee se engel op die voorblad wat oor iets nadink en op die punt is om daarvan af weg te beweeg.

Gunter daag die leser met Tweespoor uit om saam met haar naby die waters van die geheue te beweeg en herinneringe wakker te roer.

Fransina dink na oor die Afrikaner se stormagtige verlede, die wit bevoorregting van haar jeug, en die posisie waarin die Afrikaner homself vandag in Suid-Afrika bevind. Anders as haar susters sukkel sy om te “kreoliseer” en aan te beweeg, want ook in haar vind die tweespoor van die bundeltitel gestalte: Met een voet staan sy nog rotsvas in die verlede, en met die ander voet soek sy vastrapplek in die hede.

Die verwerking van verlies verbind hierdie verhaal tematies met die vorige vier kortverhale. Wanneer Fransina en haar man deel word van die land se misdaadstatistiek, dwing dit haar om al haar onverwerkte traumatiese verliese te konfronteer, insluitende haar veranderde rol as Afrikaner in die hedendaagse Suid-Afrika.

In Sutherland besluit sy om die planete in haar kop te herrangskik en haarself in ’n nuwe wentelbaan te plaas en só word Fransina uiteindelik getransformeer: as vrou én as Afrikaner.

Daar is woede, ontnugtering, maar ook selfspot en humor wat van hierdie verhaal ’n treffende besinning oor Afrikaneridentiteit maak.

“Angelus Novus Africanus” bied verder ook ’n korrektief op kritiek wat Gunter op haar vorige skryfwerk ontvang het: Hierdie verhaal is nie bloot net beskrywings van die Afrikaner se ontnugterde en verwarde situasie in die land of ’n tekening van geweld en verslegtende omstandighede nie, maar ’n werklike konfrontasie met ’n nuwe manier van dink oor hierdie kwelpunte.

Gunter daag die leser met Tweespoor uit om saam met haar naby die waters van die geheue te beweeg en herinneringe wakker te roer. Die rimpels van die verlede kring dalk net uit tot ’n beter verstaan van die hede.

  • Frederick Botha is ’n draaiboekskrywer van Kaapstad en doktorale student in Afrikaanse letterkunde.
Meer oor:  Boekresensie  |  Boeke  |  Kortverhale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.