SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Boeke
‘Koningin van Nordiese noir’ kom na US Woordfees

Met gewone romans wat al meer as R300 kos, raak dit al moeiliker om sommer ’n nuwe boek te koop. Daar is egter ’n paar skrywers wie se boeke jy sonder ’n tweede gedagte aan die prys van die rak afhaal en reguit na die betaalpunt stap.

Die Yslandse skrywer Yrsa Sigurðardóttir is een van hulle. Verslaafdes aan haar werk is dus baie opgewonde omdat sy na die US Woordfees kom, waar Suid-Afrika se misdaadskrywer Deon Meyer ’n onderhoud met haar gaan voer.

Die Yslandse skrywer Yrsa Sigurðardóttir. Foto:

Volgens Elmari Rautenbach, hoof van die skrywersfees van die US Woordfees, het sy reeds probeer om Yrsa by verlede jaar se skrywersfees te kry aangesien die rolprent gegrond op haar roman I Remember You toe ook pas op die kringloop gekom het.

Die roman het die Yslandse misdaad-fiksie-toekenning gewen en is vir die gesogte Glass Key-toekenning genomineer.

Sy kon nie verlede jaar kom nie, maar het gesê Rautenbach moet haar weer kontak. Hierdie keer het sy dadelik ingestem.

“Ek het Yrsa in 2014 leer ken toe ek Leserskring se katalogus gedoen het. Haar riller Silence of the Sea was in die katalogus opgeneem. Hiervoor het sy in 2015 die Petrona-toekenning vir die beste Skandinawiese misdaadroman ontvang.

Sy is ook die eerste Yslandse skrywer wat internasionaal vir haar werk bekroon is.

“Daardie boek is so donker en misterieus. Die hele tyd terwyl ek dit gelees het, het ek so ’n boosheid in die lug voel hang,” sê Rautenbach.

In die Publishers Weekly word die roman ’n intelligente raaisel met ’n groot skeut van die bonatuurlike genoem. In die Seattle Times is dit ’n verhaal genoem wat by jou bly spook – met spook in meer as een opsig.

In Ysland is mense bloot bekend onder hul eerste name en Sigurðardóttir is bloot ’n vadersnaam en nie haar van nie. Sy het destyds aan Rautenbach gesê dat kinders in Ysland met rillers grootword.

“Dis volgens haar ook sommer baie erge rillers. Voeg daarby al die legendes van die land en jy het ’n regte riller-kultuur.”

Sy het in 1998 begin skryf en haar romans is gou in Engels vertaal. Hulle is egter nie vertaal in die volgorde waarin hulle in haar tuisland verskyn het nie – tot frustrasie van haar lesers.

Sy het ’n sentrale karakter – Thóra Gudmundsdóttir – in ’n reeks romans. Thóra is ’n regsgeleerde wat verskeie misdade help oplos. Die volgorde waarin hierdie reeks in Engels vertaal is, is Last Rituals (2007), My Soul to Take (2009), Ashes to Dust (2010), The Day is Dark (2011), Someone to Watch Over Me en The Silence of the Sea (2015).

Sy het ook verskeie losstaande misdaadromans geskryf en is sommer gou die koningin van Nordiese noir genoem. Sy het ook reeds twee romans in die Children’s House-reeks geskryf. Die eerste een is The Legacy en die tweede (wat verlede jaar in Engels verskyn het) The Reckoning.

Hoewel sy hoofsaaklik bekend is vir haar rillers onder die sambreel van Nordiese noir, skryf sy ook kinderboeke.

In 2000 het sy die Yslandse Ibby-toekenning (Icelandic Department of International Board of Books for Young People Award) vir haar kinderboek Vio viljum jolin i juli (We Want Christmas in July) en in 2003 vir Biobörn ontvang.

Yrsa is ’n opgeleide siviele ingenieur wat haar ingenieursgraad in Ysland en haar meestersgraad in Kanada verwerf het.

Sy werk steeds as ingenieur en is ’n afdelingsbestuurder by Fjarhitun, een van die grootste ingenieursmaatskappye in Ysland. Sy en haar gesin woon in Reykjavik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.