Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Koors’ verreweg sy spannendste, sê Deon Meyer
Deon Meyer Foto: Mlungisi Louw

Dit is verreweg die spannendste boek wat hy nóg geskryf het, sê Deon Meyer oor sy nuwe roman, Koors, ’n verhaal wat hy plaas in ’n situasie “wat nie ons huidige werklikheid is nie, maar wat baie maklik sou kon gebeur”.

Hoewel dit ’n toekomsroman en moordstorie is, beskou hy dit in die eerste plek as ’n spanningsverhaal.

“Om die waarheid te sê, ek dink dit is my beste werk tot nog toe.”

Die boek word vandeesmaand by verskeie geleenthede bekend gestel.

Volgens sy webwerf speel Koors hoofsaaklik af in die dorpie Vanderkloof, langs die Vanderkloofdam in die Oranjerivier.

“Dit is die plek wat die hoofkarakter, Nico Storm, se pa kies om ’n nuwe gemeenskap te vestig nadat ’n virus meer as 90% van die wêreld se bevolking uitgewis het. Twee van die grootste redes waarom Willem Storm Vanderkloof gekies het, is omdat die dorp hoog in die heuwels lê, en maklik verdedig kan word, en omdat dit oor hidro-elektrisiteit beskik.”

Meyer is ’n internasionaal gerekende speurspanningskrywer en is vanjaar op die kortlys vir ’n internasionale Dagger-prys vir die Engelse vertaling van Ikarus. Hy spits hom ook toe as rolprentmaker op Suid-Afrikaanse verhale.

Hy beskou die skryf van romans en draaiboeke as die keersye van dieselfde munt.

Naproduksiewerk word tans gedoen aan Jagveld, ’n rolprent waarvoor hy die draaiboek geskryf het.

“Ons het verskriklik lekker daaraan geskiet en het ’n ongelooflike klomp jong mense gehad wat daarin speel. En dit het ’n jong regisseur, Byron Davis,” sê hy.

“In die rolverdeling is Neels van Jaarsveld, Bouwer Bosch, Leandie du Randt en Tim Theron. Die groep is almal briljant. Ek sien baie uit na die uitreiking van die rolprent. Dis ’n eerste Afrikaanse spanningsaksiefliek en ek is opgewonde daaroor.”

Hy kry baie navrae van mense wat vra hoe skryf ’n mens ’n draaiboek. Wanneer Jagveld volgende jaar op die silwerdoek is, sal al sy draaiboeke na verwagting in boekformaat op die rakke wees. Hieronder tel Die Ballade van Robbie de Wee, Die laaste tango, Jakhalsdans en die televisiereekse Orion en Transito.

Intussen werk hy aan ’n geskenkboek vir die Nederlandse Spannende Boeken Weken, wat van 9 tot 25 Junie 2017 plaasvind. Na verwagting sal die boek in ’n oplaag van 400 000 eksemplare verskyn. Die Nederlanders het vir ’n jaar eksklusiewe reg op die werk, waarna dit in Afrikaans sal verskyn, sê Meyer.

Daarbenewens is hy die uitvoerende vervaardiger van die rolprentweergawe van Marita van der Vyver se roman Dis koue kos, skat. Van der Vyver het die draaiboek geskryf. Etienne Fourie is die regisseur. Dit sal op die Silwerskermfees en van 26 Augustus op die kringloop te sien wees.

* Koors word vandeesmaand by die volgende geleenthede bekend gestel:

  • Dinsdag 2 Augustus om 19:30 in die Drostdyteater in Stellenbosch, regstreeks op RSG in gesprek met Ilse Salzwedel, met ’n voorlesing deur Zoë Brown en musiek deur Lize Beekman en Jaconell Mouton.
  • Woensdag 10 Augustus om 18:00 in die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum in Bloemfontein. Francois Smith sal met Meyer gesels en Take Note sal vir die musiek sorg.
  • Donderdag 11 Augustus om 18:00 in Weylandts Meubels in die Brooklyn Mall in Pretoria. Meyer sal met Ilse Salzwedel gesels. Bouwer Bosch en Almero Welgemoed sal vir die musiek sorg.
  • Dinsdag 30 Augustus om 18:00 in die CNA, Oos-Rand Mall in Boksburg. Jo Prins sal met hom gesels.
  • Woensdag 31 Augustus om 18:00 in die Durban North College, Durban-Noord. Helana Olivier sal met Meyer gesels.

Meer oor:  Deon Meyer  |  Rolprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.