Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Koos Human: ’n Koning in die Afrikaanse uitgewerswese
Die uitgewer Koos Human in sy kantoor.

’n Waagmoedige rigtingwyser met ’n uitstekende snert-meter, ’n belese mens en ’n bobaasstorieverteller.

Só onthou bekendes in boekkringe die invloedryke uitgewer Koos Human, wat Vrydag in sy huis in Kaapstad aan longontsteking dood is. Hy was 86.

Die skrywer en digter Wilma Stockenström het kort en nadruklik gesê: “Koos Human is onvervangbaar.” Dit was haar enigste kommentaar.

“Die grootste geluk wat my ooit getref het, was om vir Koos Human te kon werk. Hy was ’n besielende mens, wat die kuns verstaan het hoe om na mense te luister,” het die skrywer en afgetrede uitgewer Kerneels Breytenbach gesê.

“Hy kon beuselagtighede vermy, hy had styl in alles wat hy doen. Wyd belese, gretig om nuwe dinge te leer. Dit het neerslag gevind in ’n uitgewershuis

Koos HumanFoto: Taryn Carr

waar daar ’n allesoorheersende liefde was vir boeke – veral Afrikaanse boeke.

“Hy het berekende risiko’s geneem, en had ’n intuïtiewe aanvoeling vir idees wat blitsverkopers kon word. Daar is baie prinse in die uitgewerswese, en min konings. Koos Human was laasgenoemde,” het Breytenbach gesê.

Hy was ’n uitsonderlike intellek wat groot skrywers soos Karel Schoeman en Etienne Leroux kon inskat en Stockenström se besonderse Die kremetartekspedisie gepubliseer het, meen die digter en literator Joan Hambidge.

“Hy was uiters belese en het onder meer by geleentheid opgemerk dat ’n mens War and Peace moes ken alvorens jy kon saampraat oor die letterkunde.”

Leon Rousseau, Kerneels Breytenbach en Koos Human met die viering van die 50ste bestaansjaar van Human & Rousseau in 2009.Foto: Natalie Gabriels

Verder het hy jong digters uitgegee en kon hy kundig praat oor lettertipes en presies waar ’n digter inpas. “Hy het jong literatore in die 1980’s ook aangevat oor los uitsprake. Hy had ’n ingeboude snert-meter,” het Hambidge gesê.

“Hy was ’n bon vivant.”

Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers, sê Human en Leon Rousseau het “in die laaste eeu die toonaangewendste uitgewery opgebou, van Afrikaanse boeke wat vensters oopgeruk het sodat die vars lug die muwwe sensuurbelaaide regime kon aanpak”.

Human sal altyd onthou word as dié uitgewer wat ’n bepalende rol in die Suid-Afrikaanse uitgewerswese gespeel het, sê die uitgewer Hettie Scholtz.

Koos Human in 2006.Foto: Nasief Manie

“As natneus-uitgewer in die vroeë 1980’s was hy vir my en my kollegas by HAUM-Literêr ’n rigtingwyser van wat dit beteken om ’n uitgewer te wees. Sy belesenheid, professionaliteit, waagmoed en vaardigheid as raconteur is goed bekend. Op my beurt sal ek hom ook altyd onthou as ’n gewer wat nie suinig was met goeie raad nie, selfs vir die onervare ‘opposisie’.”

Human het die uitgewershuis Human & Rousseau (H&R) in 1959 saam met Leon Rousseau gestig, nadat hy sedert 1954 by die Nasionale Boekhandel naam gemaak het as uitgewer van algemene publikasies.

H&R het in die 1960’s die toonaangewende uitgewer van Afrikaanse literêre publikasies geword. Werke van N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Etienne Leroux, André P. Brink en Breyten Breytenbach het bygedra tot H&R se dinamiese groei.

“Hy was veral bekend vir die besonderse manier waarop hy die uitgewer se verhouding met skrywers tot ’n fyn kuns vervolmaak het,” het Kerneels Breytenbach, gesê, wat ook aan H&R verbonde was.

Onder Human se leiding het H&R nie alleen die klem sterk laat val op die inhoudelike versorging van boeke nie, maar ook op hul voorkoms en die gehalte van drukwerk, vertel Breytenbach.

Human was ’n leiersfiguur vir sowel skrywers as uitgewers. Hy was in die vroeë 1980’s ’n bestuurslid van die Afrikaanse Skrywersgilde, waar hy gesorg het vir baanbrekerswerk ten opsigte van tantième vir skrywers, asook ’n bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging in die 1980’s en 90’s.

Nadat H&R in 1977 aan Nasionale Pers verkoop is, het Human aangebly as besturende direkteur. Ná sy aftrede einde 1994 was hy ’n tyd lank die redakteur van die meningstydskrif Insig.

Human was ook bekend as ’n musiekliefhebber en kenner van ballet. Hy was lank betrokke by die destydse Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste as voorsitter van die musiekkomitee. Hy het radio- en musiekrubrieke vir Die Burger geskryf. Die handleiding Die A tot Z van klassieke musiek het ook uit sy pen verskyn.

Hy is in 1959 getroud met Nakkie, dogter van N.P. van Wyk Louw, en drie kinders is uit hul huwelik gebore: Joan, Maria en Jacobus. Ná Nakkie hom in 1984 ontval het, is hy in 1986 getroud met Trewhella Cameron.

Reëlings vir ’n gedenkdiens sal aangekondig word sodra dit gefinaliseer is.

Meer oor:  Koos Human  |  Oorlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.