Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Koos Kombuis betree ander 'universe' met kinderboek
Koos Kombuis

Koos Kombuis se nuwe kinderboek was vir hom soos “om in ’n ander universe in te stap”.

Nee, sê hy beslis, hy is nou nog bang – selfs al is Eben die ellendige eenhoring klaar geskryf en word dit einde Maart deur Naledi uitgereik.

“Die genre van jeuglektuur is ’n gogga wat ’n mens nie moet onderskat nie. Kinders is nie onnosel nie!”

Dié boek spruit gedeeltelik uit sy eie kinderjare en ’n voorval in sy “prille jeug”.

“Ek besef nou eers – nadat die boek klaar is – dat ek met hierdie boekie onbewustelik die Bybel se skeppingsverhaal en Darwin se evolusieteorie probeer integreer het.”

Hy verwys na sy dae op laerskool en ’n sekere onderwyser.

“My opstandigheid het nie eers by die Voëlvry-musiektoer begin nie. Daar was voorvalle lank voor dit wat al veroorsaak het dat ek die establishment wantrou het.

Eben die ellendige eenhoring deur Koos Kombuis.

“Daar was byvoorbeeld ’n juffrou op laerskool wat met die eerste les van elke dag – godsdiensonderrig – vir ons van die Bybelse skeppingsverhaal vertel het. Dit was vir my ’n mooi storie. Maar net daarna het diesélfde juffrou, wat ook vir ons omgewingsleer gegee het, haar oorhoofse projektor aangeskakel en vir ons van die evolusieteorie vertel. Dit was vir my net so ’n mooi storie, maar dit kon tog nie albei waar wees nie!”

Nou het hy die boek geskryf.

“Eindelik, ná al die jare, het ek in my kop vrede gemaak met daardie juffrou.”

Kombuis beskryf sy boek verder as ’n moderne variasie van die ou verhaal van Die lelike eendjie.

Reeds in 2016 het hy ’n kinderboek, Monster-goggas, geskryf wat deur Anna Emm Uitgewers uitgereik is.

In 2018 het Blasjan en die blou kitaar, ’n “jeugboek vir 16-jariges” by Penguin die lig gesien.

“As die goeie mense by Naledi-uitgewers nie hierdie manuskrip so ernstig opgeneem het nie, sou ek die heeltyd gewonder het of ek nie bloot met ’n sinnelose klomp grappies besig is nie. Ek wonder nog steeds.”

Hy het lank met die idee vir die boek rondgeloop. Dat die boek nou eers verskyn het, skryf hy daaraan toe dat hy te lui was om die illustrasies te teken en dit behoorlik af te rond.

Hubert the Useless Unicorn deur Joe Kitchen.

Kombuis verwys na twee mites oor kinderboeke:

dat kinderboeke maklik is om te skryf en dat kinderboeke net soos boeke vir volwassenes is, maar eenvoudiger.

“Om kinderboeke te skryf, is meer as net ’n aanpassing. ’n Mens moet alles wat jy dink jy weet by die venster uitgooi en oor begin.”

Die boek het ook ’n Engelse weergawe, Hubert the Useless Unicorn, maar dié Engelse skrywer heet Joe Kitchen.

“Daar raak jy nou aan een van die sentrale krisisse van my bestaan,” sê hy oor die dramaturg William Shakespeare se vraag, “What’s in a name?”.

“Wie is ek? Ek het seker in my loopbaan meer pseudonieme gebruik as enige ander lewende kunstenaar.”

Vir die Engelse weergawe van die boek wou hy aanvanklik teruggegaan het na sy regte naam, André le Roux du Toit, of André Letoit.

“Van al my noemname was Koos Kombuis egter die een wat gebly het. Daarom het ek besluit om dit regstreeks in Engels te vertaal. Ek wou aanvanklik die naam “Jack Kitchen” gebruik, maar daar is klaar so ’n ou iewers in Amerika. ‘Joe’ is die voor die hand liggende tweede keuse en dis maklik om te onthou!

“Dit was toe nie nodig om Shakespeare te raadpleeg nie. Ek weet nou wie ek is.”

* Die Afrikaanse en Engelse boeke kos elk R120 en word deur Naledi uitgereik.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Kinderboeke  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.