Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kortverhaal: Bitter daisies

‘Bitter daisies’, ’n Hantam-verhaal deur Marie Toerien, is aangewys as wenner in die US Woordfees se vyfde jaarlikse kortverhaalkompetisie. Die illustrasies is deur Piet Grobler.

Ma Bybie Danster is dood. Ma is van Koeboes se karretjiemense van die tyd toe vensters klein was, skaapvelle sag soos borste, en van brood in ’n klei-oond gebak. Die tyd van dans om ’n skermvuur en voetpad loop na Rachel-se-wasklip in die Doringrivier.

Die dag ná Ma Bybie se dood is Kato Danster vroegoggend op. Sy pak hardebrood in haar knapsak, knoop haar kind op haar rug en die witbok los van die vyeboom, en roep die hond uit die skerm. Sy kyk nie om soos die halfmense toe sy wegloop van Ma Bybie se werf nie.

By die Kamiesberge maak sy staning in ’n kol pietsnotte en kook lamsknatertjies. Toe trek sy verder, Soebatsfontein en Rietpoort langs, tot by Maskam wat soos ’n hoender op die Knersvlakte hurk.

Kato is so maer soos ’n sening en so taai soos ’n ratel in ’n bynes. Sy steek ’n stuk veld aan die brand sodat die uintjies weer kan groei. Smiddae gaan maak sy haar bene reguit op die winkelstoep. Sy gee haar lyf weg in die skoenlapperdans met Dawid Perrang, en saans knoop sy die matjiesdeur toe teen spoke wat in die geel katstert staan.

Kato is so maer soos ’n sening en so taai soos ’n ratel in ’n bynes.

Kato dra haar bybiekind uit die woestyn met ou riviere teen die bergpas op, tot bo in Anna Strauss se kombuis. Anna sien haar vroegoggend by die plaashek staan met haar blou rok en rookpyp, kind op die rug, en nêrens om te loop nie as vorentoe.

Kato bou self vir haar ’n huis van latte en matjiesriet in die rooi tulpe. Sy maak ’n skerm van soutbos om skoenlapper te dans en lammersterte te kook in die swartpot. Sy gooi ’n streepsak vir die hond oop en knoop die witbok aan ’n taaibos vas.

Kato vat die kind met die gifbosoë en hare soos ’n wildevoëlnes saam met die possak in die dorp toe sy ma hom op die winkelstoep los. Sy dra hom in die noordewind op die ou trekpad tot by haar matjieshuis tussen die melkbosse. Sy roep hom Kabbo en sy maak hom groot saam met haar eie kind, Katriena.

DIE JARE SKUIF AAN en die kinders raak bekwaam.

Sonop loop Kato en Katriena met die bleshoenderneste langs na Jakob Strauss se werf. Bedags terwyl Anna in die veld dwaal, werk hulle in die groot huis met die groen luike. Kato knie deeg so geel soos kuikens en Katriena dra die wasgoed na die wasklip toe.

Kato sien hoe hou Jakob Strauss haar dogter dop waar sy met blink bene by die wasklip sit.

“Katriena is opstroppelis,” kla hy.

Kato pluk ’n heelhoender dat die vere waai, gooi growwe uintjies by en stamp die pot op die stoof. Haar mond is ’n oester as sy met die panne in haar voorskoot bakoond toe loop.

Smôrens loop Kabbo weg na die bakkrans op die plato om sy rietfluit te speel. Kato is bang hy val oor die rand.

Katriena se hare is ’n kraaines en sy dra haar rok binnekant-buite. Sy bêre ’n storie wat sy nie kan vertel nie. Sy het ’n rivier in haar lyf en riete in haar hare, want sy het te na aan die skermvuur met Kabbo gedans.

Kabbo is die kersbas wat eenkant op die plato in die westewind groei. Hy dra ’n gelapte broek en ’n volstruisveerhoed. Sy rooi hare is met ’n riem vasgemaak. Smiddae kom staan hy soos ’n vraagteken by die groot huis se agterdeur.

Jakob Strauss maak reg vir die trekpad, hy is besig om die skape met die sweep veld toe te jaag. Hy verdra nie basterbrakke op sy werf nie.

“Vir wat staan jy met jou bek vol tande soos ’n boerbok?” vra hy as hy vir Kabbo sien.

Jakob ry met ’n lang stie­beuel en ’n kort toom. Hy spring oor die gorreldraad en breek skilpaaie en ysterklip met die perd se hoewe. Hy is so sterk soos ’n os en so vinnig soos ’n koperkapel. Hy tem die hantamhingse in die witgekalkte stal en skop Kato se hond op die streepsak in die skerm.

‘Loop weg van hierdie plek met die rooi tulpe, Kato.’

Sononder, as Anna nog met die geelslang by die fontein dans, jaag hy haar troppie leghorns met die sweep hok toe. En Anna, wild en ontembaar, verf botterblomme op die mure van die huis met die kleur van ou heuning.

“Ek moet Anna inbreek soos ’n merrie,” sê Jakob vir Kato.

Sy klap ’n hoender van die skerm af, maar sy bly stil vir pap in die swartpot en haar matjieshuis tussen die tulpe. En uit jammerte vir Bella, Anna se kind.

Sonop vat Kato haar knapsak om veldkos te gaan soek. Sy pluk suurvye en froetangs vir vaalpotjie maak, en grawe termiete en kambro uit die grond. Sy versamel kalmoes vir die maag en perdepis vir die lyf, en hande vol van die rondeblaarboegoe vir toorgoed teen die waterslang.

Saterdae smous sy kruie op die winkelstoep. Sy wil vir haar kinders ’n platdakhuis in die dorp koop. Sy bind haar ware in ’n bondel op haar kop, stop ’n paar skilpaaie in haar sak en loop met die gorra langs dorp toe.

Haar mense sit en wag met sikspense vasgeknoop in sakdoeke. “Hoekom sit ons hier op streepsakke met kopdoek en reguit bene?” vra Kato as sy haar rookpyp aansteek en blou dampe die lug in blaas.

Sononder loop sy terug plaas toe in ’n dikbekwind wat oor die platorand waai. Die wind gooi die kraaie uit die bloekoms en flenter spookbos teen haar bene vas.

Marie Toerien

DIS DROOG. Die reën bly weg. Die skape wei op niks.

Stof slaan op die trekpad uit. Jakob Strauss bring die dorpers huiskamp toe, want die jakkalse pla snags in die veld. Die skape blêr en druk dors teen die draad.

Anna staan soos ’n stingel by die droë fontein, haar hare ’n kraaivlerk, haar mond ’n rooi granaat. En voor haar dans die geelslang op sy stert in die bittergousblom.

Toe die slang pik, slaan Jakob ’n langbeenmerrie dood in die stal. Kato vat vir Bella en dra haar op haar rug deur die rivier, na die buurmense toe.

Met volmaan, as Kabbo sy fluit by die grot gaan speel, kruip Jakob soos ’n sleg esel uit sy huis om spore op Kato se werf te maak.

Sy gaan sit buite in die skerm. Sy draai die rooikatkaros styf om haar lyf en gooi nog houtjies op die kole. Sy hoor die jakkalse in die veld en die uil wat uit die skuur skree. Sy het droëhoutvuur in haar hart en blou donnerweer in haar mond.

Maar Kato kan nie oral keer nie.

Toe Jakob uit die stroois kruip, staan sy soos ’n spoegslang op, reg om te pik. “Jy is duiwelsklou!” skree sy agter hom aan.

DIS WARM. Dis ’n mooi dag. Alles blom.

Die son skree oor die werf en in die rante. Bosstert-honde jaag ’n skropsel tarentale deur die rivier. Donnerweer dreun bokant die klipkoppe en weerlig slaan ver op die ou trekpad uit.

Katriena dra die wasmandjie op haar kop. Sy loop deur die melkbosse na die wasklip naby die waterval. Sy was die klere met blouseep, sprei hulle op die bosse oop en gaan sit langbeen in die son.

Toe sy opkyk, staan Jakob agter haar met sy karwats.

“Hoe lyk jy vanoggend so koeskop?” vra hy.

Sy spring op en hardloop deur die rivier, tot op die rand van die waterval. Sy staan met gebalde vuiste in die noordewind en haar nat rok klou aan haar bene. Haar voete voel so swaar soos skilpaaie en sy ruik die gekneusde wilderoosmaryn. Die wind is in haar mond en in haar hare, dit ruk haar kappie teen ’n taaibos vas.

Kato dra ’n baksel brode in haar voorskoot toe sy Katriena daar sien staan.

“Jou maaifoedie!” skree sy. “Ek vloek jou, Jakob Strauss! Ek vloek jou en jou bleddie plaas!”

Toe gooi sy die panne neer en hardloop deur die melkbosse soos ’n broeis hen.

Katriena maak haar nek dik vir Jakob. “Ek sal nie weer op die skaapvel met jou dans nie!” skree sy. “Ek dra nie weer my rok verkeerd-om vir jou nie!”

Toe sprei sy haar arms oop soos vlerke en vlieg tot in die diep poel aan die voet van die waterval. Haar mond raak vol slym en haar hare vleg vas in die fluitjiesriet.

Kato klim in ’n wildevy om vir haar kind te wag.

Ná drie dae dryf Katriena in die poel met riete in haar hare en blou lug in haar mond.

Kabbo dra haar huis toe en Kato klim uit die wildevy. Jakob se mond is ’n turksvy toe hulle met lang treë oor die werf loop.

DIE HELDER NOTE van ’n rietfluit weerklink oor die plato. Kabbo vertel Katriena se storie vir die suidewind. Dan steek hy die veld aan die brand.

Kato Danster se basterkind staan in ’n ring van vuur op die bakkrans. “Jy moet ghaap staan!” skree hy toe die trewwa soos tontelbos brand en Jakob se stal in ’n vuurbal ontplof.

Toe vlieg Kabbo oor die platorand, tot in die doringbome wat die rivier vashou by Troe-Troe.

Kato sit in die skerm by ’n koue swartpot, haar mond ’n skulpslak van verdriet.

Toe die skuuruil roep, staan Katriena by haar. “Ek het ’n rivier in my mond,” sê sy. “My hare is fluitjiesriet. Hoekom sit jy alleen sonder vuur en sonder jou rookpyp, Ma? Hoekom dans jy nie skoenlapper nie?”

Kato steek ’n vuur aan en maak askoeke rond soos klippe. Toe stamp hulle hulle voete in die platriel.

Dagbreek loop Katriena met dun bene weg oor die werf, sonder omkyk. Sy draai die windpomp vas in die oostewind en smyt die put se sinkplate in die hoenderhok. Toe loop sy terug tot in die rivier wat noord vloei na die donker poel toe.

Ma Bybie verskyn skeef uit die katsterte. “Loop weg van hierdie plek met die rooi tulpe, Kato,” sê sy. “Loop terug na jou mense toe.”

Met sonop pak Kato ’n paar goedjies in die ou knapsak. Sy trek haar blou rok en velskoene aan en sit haar rookpyp in haar sak. Sy draai haar karos styf om haar maer lyf en maak die matjieshuis se deur vas. Sy roep die hond uit die skerm en knoop die witbok los.

Toe loop sy oor die werf, by die hek uit en vat die ou trekpad. Die pad Koeboes toe is ver. Sy wil daar kom voor die eerste reën.

Die skrywer

Marie Toerien (73), ’n oudonderwyseres van die Paarl, sê haar wenverhaal is gegrond op ’n tragiese, ware gebeurtenis in die Nieuwoudtville-distrik, waar sy grootgeword het.

“ ’n Boer het ’n meisie swanger gemaak in ’n tyd toe vroue geen regte of ’n stem gehad het nie en alles is tipies kleindorps onder die mat ingevee. Die skuldige het nooit aan die pen gery nie en die vloek wat oor die plaas en die nageslag van die destydse eienaar uitgespreek is, het oor die jare tot verskeie ongelukkige voorvalle gelei wat reeds die lewe van minstens vier mense geëis het.

“Sedertdien het niemand nog die ‘guts’ gehad om uit te praat nie, maar die storie pla my al vandat ek kan onthou en het dus as’t ware vir my gekies, soos daardie aanhaling van Maya Angelou wat sê: ‘There is no greater agony than bearing an untold story inside you’.

My hoop is dat my storie afsluiting en sielerus bring vir Kato Danster en haar dogter Katriena en die ou vloek hopelik uiteindelik gebreek word.”

Die bundel

“Bitter daisies” en nog 24 van die beste inskrywings verskyn in die 2020-kortverhaalbundel, Aanhou beweeg en geraas maak, wat saamgestel is deur die keurpaneel, wat vanjaar bestaan het uit die skrywer Valda Jansen, wenner van vanjaar se Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs, en die manuskripontwikkelaars en skryfmentors Suzette Kotzé-Myburgh en Madri Victor, wat onlangs aangestel is as fiksieredakteur by Lapa.

Die kompetisie het die ruimste prysgeld vir kortverhale in Afrikaans: Die wenner kry R30 000 en die skrywers van die ander 24 verhale R5 000 elk danksy ’n borgskap van Du Toitskloof Wyne.

Die bundel kos R250 en is slegs by die US Woordfeeskantoor beskikbaar. Besoek www.woordfees.co.za of stuur ’n e-pos na adminfees@sun.ac.za.

Meer oor:  Karretjiemense  |  Us Woordfees  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.