Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kortverhaal: Witmeid

‘Witmeid’ deur Kirby van der Merwe  is een van 13 voorheen ongepubliseerde verhale wat opgeneem is in ‘Die nuwe Afrikaanse prosaboek’, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk. Die skrywer het self die verhaal vir Rapport geïllustreer.

My ma het ’n manier van kyk wat jou takseer, maar niks sê nie. Daai kyk wat jou as kind op jou plek kon sit as jy grootmense se tande tel. Ek kom kuier af en toe vir haar, soos vanaand, en dan bring ek gewoonlik ’n present saam – iets ongewoons, nie die gewone blomme of eetgoedjies nie. Iets wat ek weet haar sal beïndruk, soos ’n tarentaaleier of die geraamte van ’n padda, al bly sy haar ongeërgde self. Amper tagtig en nog net so hardegat soos altyd.

Ek het ’n groot surprise vir jou, sê ek toe ons op die agterstoep gaan sit. Haar skerp swart oë wat sê, ag waarmee kan jy my surprise. Ek lees vir haar die doodsberig wat ek vanoggend uit die koerant geknip het en nie kon wag om vir haar te gee nie:

Retief, Elizabeth Magdalena (Bettie), 07/02/1923 – 05/01/2019. Met groot hartseer neem ons afskeid van ’n geliefde ma, ouma en oumagrootjie, Bettie, wat vir 95 jaar aan ons geleen was. Dankie Ma/Ouma vir alles wat ons by jou kon leer en al die liefde ontvang. Rus sag, ons sal Ma altyd onthou . . .

Koot, sê my ma, is die oumeid nou eers dood? Dit was ’n surprise, kan ek sien, al is sy haar gewone onverstoorde en self-contained self.

Ja, sê ek. Daar sit en lees ek ve’oggend die koerant toe iets vir my sê, maar dis mos Bettie Retief.

As my ma opstaan, sit Bettie eers ’n stuk koerant op die sitplek voor sý gaan sit.

Al kan ek nie onthou dat ek ooit dié vrou in lewende lywe gesien het nie, is dit ’n naam wat ek altyd met my ma assosieer. Ek sê dit vir my ma. Sy weet waarvan ek praat.

Ek het grootgeword met die storie oor haar en Bettie en die stoel en die koerant toe my ma vir Bettie begin werk het. Ek vertel dikwels vir mense daai storie:

My ma was twintig, pas getroud en sy begin werk by Retief Dames-uitrusters as dressmaker. Eintlik het sy aanvanklik net die stukke lap wat Bettie reeds gesny het aan mekaar vasgewerk met ’n Singer-trapnaaimasjien, heel agter in die winkel agter ’n afskorting van hardebord. Bettie was in die vertoonlokaal agter die toonbank, maar sy het my ma kom aflos agter die Singer as dit stil was of oor etenstyd.

Maar nou, as my ma opstaan, sit Bettie eers ’n stuk koerant op die sitplek voor sý gaan sit. En sy vat haar stuk koerant saam as my ma weer kom sit. En so gaan dit die eerste dag. Toe sê my ma vir haarself: Voertsek djy. Sy kom sê die aand ná werk vir my pa: Moos, wiet djy wat doen daai witmeid? Maar sy gaan sien wat maak ek môre.

Die volgende oggend op pad werk toe koop my ma Die Burger. Bettie was al aan die stik toe my ma by die werk kom. Toe sy opstaan en haar koerant vat, sit my ma háár nuwe koerant op die sitplek neer voor sý gaan sit. Bettie steek in haar spore vas, maar loop dan weg. Sy kom ná ’n ruk weer terug, kom staan agter my ma, maar loop dan weer sonder om iets te sê. Maar ná ’n ruk stap sy klieps-klaps-klieps-klaps op haar stiletto’s op my ma af en sê: Rosa, vir wat sit jy die koerant neer as ek opstaan, hè? En toe sê my ma, doodonskuldig: Ek maak mos maar net wat missies Retief maak.

Watter jaar was dit nou weer? vra ek vir haar.

1952, sê my ma. Diep, harre apartheid. Bettie was toe net so oorie dertig daai tyd, so tien jaar ouer as ek. Sy’t een dag uitgevat hie innie gopse aangekom met haar Pontiac – haar oudste klong, Dicky, het agter die stuurwiel gesit, want hy’t toe net sy kar-licence gekry – en kom sê ek moet stikwerk vi haar kom doen. Sy gaan ’n klerewinkel oepmaak en sy gaan al die stock, klere, kinnerklere en costumes self maak. Sy was nogal goed. Sy het self die patrone gesny en gecopy uit Butterick en McCall’s. Ek moet sê, ek het baie by die oumeid geleer, sê my ma.

Daai Bettie het destyds mos ’n affair gehad met ’n polisieman, Mostert.

Ons sit oudergewoonte buite op die agterstoep op gemaklike draadstoele onder die hanepootprieel in die koel aandluggie. Bolandse somersaande is bliksems warm en bedompig. Swerms muskiete steek die hel uit ons uit, maar ons sit.

Ek onthou die werkplek agter en die afskorting goed, want ek het baie tyd daar deurgebring voor ek skool toe is. Die kamer het so ’n amper stowwerige reuk van pasgesnyde lap, nuwe materiaal, knope, stysel en die naaimasjien se 3-in-1-olie gehad. Die plek was vol afvallappies, gare van alle kleure, houttolletjies, houers vol knope – plat, rond, ovaal, konveks, konkaaf – wat as jy daarin grawe, klink soos skulpe by die see. En die aanhoudende tik-tak-tik-tak van die naaimasjien.

                                                                                ***

My ouers het kort voor my ma daar begin werk het, twee groot aangrensende erwe in die middel van ’n krotbuurt vir twaalf pond gekoop van hulle huisdokter, dokter Futterman, en dié huis met hul eie hande op een van die erwe gebou. Dis nou dieselle dokter Futterman wat haar linkerwysvinger geamputeer het toe sy dit as tiener byna afgekap het met ’n houtbyl toe sy fynhoutjies gekap het vir die kolestoof. En die einste dokter Futterman wat my as ’n nege maande oue baba met kroep dood verklaar het voor ek deur die wonderwerkende krag van gebed teruggebid is deur die gebedsgroep waaraan my ma en pa behoort het, wat ’n volle dag en ’n volle nag op hul knieë deurgebring het.

Die grond was destyds ’n eiland in die uitgestrekte krotbuurt en woonbuurte gereserveer vir Kaapse Kleurlinge ingevolge die Groepsgebiedewet van 1950, en hier het my ma en pa vier jerseykoeie, drie landrasvarke, ’n mengelmoes hoenders en die legendariese kwaai hond, Oubaas, aangehou, lynreg teen dorps- en gesondheidsregulasies in. Van hier af het hulle gesmous met armmansnyblomme – stinkafrikaners, jakobregops, dahlias, asters, shastadaisies en katjiepiering – vir begrafnisse; die snyblomme vir kranse en die katjiepieringblomme vir geur om die lyk se gesig in die doodskis te omraam. En vis en vleis en kafferwaatlemoenkonfyt (wat deesdae makataan heet) en klapperlekkers.

In die begin het Dicky my ná werk huis toe gevat, sê my ma. Maar toe ek jou oudste suster verwag, toe skop Dicky vas. Die mense gaan begin wonner oor hom en ’n pregnant bruin girl agter in sy kar. Vir ekstra inkomste doen sy ekstra stikwerk by die winkel en wat sy nie klaarmaak nie, bring sy huis toe om deur die nag te stik. My pa ry soggens met sy resiesfiets werk toe. Hy werk by Woollens, die kombersfabriek, langs die Bergrivier. Ná werk gaan kry hy my ma by die klerewinkel en dan loop hulle saam terug huis toe. My pa help. Hy sny patrone en trap die naaimasjien as sy nie meer kan stik en trap nie. Sommige aande, as sy te moeg is, tel hy haar op sy fiets en stoot haar teen die bult uit huis toe.

Die huis se naam is Mon désir. Die naam, gevorm uit metaalletters, pryk steeds bo teen die muur langs die voordeur op die voorstoep, maar die oorspronklike stukke crazy paving-leiklip wat geblink het asof dit natgespuit was, is nou bedek met mak vloerteëls van Italtile. Kleintyd, in die vroeë 1960’s, was daar drie porseleineende in gelid hoog op teen dieselfde muur.

                                                                           ***

Nou, in die soel aand, vertel sy my ’n nuwe ding: Sy het die werk by Bettie gekry oor háár ma, my ouma, by Bettie se ma, oumissies Retief, op ’n plaas in Franschhoek gewerk het. Jou ouma, sê my ma, het in die plaashuis gewerk as binnemeid en kok, en ’n anner vrou, ta Pamie, het oek daar gewerk vir die vuilwerk, soes om die slopsemmers leeg te maak, vloere op haar knieë te skrop en polish, en bonnels wasgoed met die hand te was en stryk. En jou oupa was ’n plaasjong en hy het oek bouwerk oppie plaas gedoen.

In die 1940’s blaas oubaas Retief een Sondagoggend voor kerk sy kop weg met ’n haelgeweer by ’n sluis in sy perskeboord. Dis tóé, sê my ma, dat Pappa besluit: kom stront met dit, en ’n goiingsak vol klere en kos en sy toolkis met messelgereedskap op sy fiets gooi en na die naaste dorp toe trap. Hy’t gesweer hy sit nooit weer sy voet in daai boord nie. Hy’t hier innie dorp werk gekry as ’n messelaar, en toe ’n huis, en toe laat kom hy my ma en al ons kinners. Hy’t gesê hy kan nie die gedagte uit sy kop kry van die man se bloed en die stukkies van sy verstand en sy worries wat met die leiwater af is en in die grond weggesink het nie. Dis in die bome se wortels op en saam met die taaipitperskes mark toe. Pappa het vir die res van sy lewe nie sy mond aan ’n perske gesit nie. Nie vars, gedroog of ingelê nie.

My ma sê: As ek vi Pappa oor die tyd op die plaas uitvra, is al wat ek uit hom kry: Swaar dae. Smiddae oppie plaas het ons assie skool uit is by die opstal se agterdeur gaan staan en geduldig gewag tot oumissies Retief sê: “Ou Atta, gee vir die kleingoed daar ’n stukkie brood.”

                                                                                 ***

Ai, daai Bettie, sê my ma. Daai Bettie het destyds mos ’n affair gehad met ’n polisieman, Mostert. Al die winkels het vir middagete toegemaak. Dan moet ek padgee, want dan glip Mostert by die klerewinkel se agterdeur in.

Nou, oumies Retief het ’n goeie vriend, Johnny Saayman, gehad wat gereeld by haar oppie plaas kom bly het ná die oubaas sy kop weggeblaas het, sê my ma. Toe ve’koep oumies Retief die plaas en trek dorp toe. Ta Pamie kom saam. Johnny Saayman kom oek saam. Bettie was op hoërskool, maar vroeg ryp met sulke stewige borste en knopstêre, vertel my ma. Naweke en ná werk bring Johnny Saayman lekkergoed en drinkgoed saam. Bettie los skool en toe skielik trou sý met Johnny Saayman. Toe sê die mense dis oor Johnny Saayman se suikerpiel. Dicky is kort daarna gebore.

Oumies Retief laat kom my ouma. Dicky het saam met my ouma se laatlam aan haar bors gedrink.

Sê my ma: Dicky en ’n meisiekind wat kort daarna gebore is, is Johnny se kinders. Poliesman Mostert is die pa van Bettie se laaste klomp rooikopkinders. Maar Dicky het ook Mostert se rooikop en gesproete vel.

Ta Pamie het later vir Bettie kom char, sê my ma. Toe was sy oud, maar sy het gewerk soes ’n slaaf. Ou ta Pamie was ’n mooi vrou met ’n pikswart vel, sê my ma en streel haar gesig. Sy was klein en fyn gebou met mooi skerp features. Sy was altyd verfynd en saggeaard, sê my ma.

Ou Pamie, soos Bettie haar genoem het, kom maak twee keer per week Bettie se huis skoon. Sy skrop die vloer op haar knieë – so stadig, teen die tyd dat sy die drumpel haal, is die vloer agter haar spierwit en kurkdroog. Maar daai ou vrou het gewerk sonder om te kla of om weg te bly, vir kos vir haar en haar ou man, sê my ma. En wanneer sy laatmiddag daar klaar is, kom sy winkel toe en dan begin sy die winkel regtrek tot Bettie vir haar vra: Ja, ou Pamie, is jy reg om te gaan? Dan antwoord ta Pamie skamerig asof sy nie lus is om huis toe te gaan nie: Ja, missies. Dan sê Bettie: Nou ja toe, en tel die pennies vir ta Pamie op die toonbank uit.

My ma vryf oor haar gesig en vervolg: Wanneer ta Pamie weg is, sê Bettie trots: Daar is darem nie nog ’n meid wat ’n kombuisvloer kan skrop soos ou Pamie nie.

Kan jy dink, sê my ma: Alles net vir haar daaglikse stukkie brood. Daai Bettie was so hard dat sy daai arme vrou op haar ouderdom vloere laat skrop het. Sy het wragtag ’n vuil, harde hart gehad om die ouvrou so te laat werk vir ou brood en ’n bord kos. Sy was nes haar ma, gevoelloos.

My ma kyk vir my en haar oë is skerp en pikswart. Toe sê sy ongeërg: Sy was ook maar ’n ou kaalgat, die ou Boermeid. Daai tyd het ek gesweer ek sal my vrek werk sodat my kinders hulle nie vir ’n witmeid hoef af te sloof nie. En dit vir ’n oulap en ’n stuiwer.

Die skrywer

Die oudonderwyser en -joernalis Kirby van der Merwe is ’n skrywer en kunstenaar wat in 1999 met die roman Klapperhaar slaap nie stil nie gedebuteer het. Hy woon in Johannesburg en die Sandveldse dorpie Aurora en het die afgelope jare talle Suid-Afrikaanse fiksieboeke deur onder andere Carol Campbell in Afrikaans vertaal en pas ook die eerste weergawe van sy volgende roman voltooi.

Die boek

Die nuwe Afrikaanse prosaboek “wil ’n viering van verskeidenheid wees en ’n verruimende, vars blik op die Afrikaanse kortverhaal bied”, verklaar die samestellers, dr. Sonja Loots van die Universiteit van Kaapstad en prof. Steward van Wyk van die Universiteit van Wes-Kaapland, in hul voorwoord.

Jan Rabie, wat in die laat 1950’s die kontoere van die Afrikaanse literêre landskap verlê het met sy soms absurde, soms filosofiese, soms politieke “prosas”, het as inspirasie vir die samestellers gedien.

Nege Rabie-verhale word as invalshoek gebruik vir die nege afdelings van dié bloemlesing met sy “versameling van eggo’s, spore en teenspraak” in die werk van die wyd uiteenlopende skrywers wat Rabie opgevolg het.

Dit is voorwaar ’n interessante keuse. Die sagtebandknewel van 672 bladsye bevat 120 verhale deur 58 skrywers (waarvan 13 nog nie voorheen gepubliseer is nie). Van die volgende skrywers is die meeste verhale opgeneem (aantal in hakies): Petra Müller (14), Nathan Trantraal (10), Jan Rabie (9), Nataniël (9), Riana Scheepers (8), Breyten Breytenbach (7), Dana Snyman (7) en Herman Lategan (6).

Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R380.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.