Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kovsies net deur één lens bekyk
In ‘Brugbouers’ bekyk Rudi Buys die sukses van die goedbedoelde versoeningspogings by die Vrystaatse Universiteit, maar hy rep ongelukkig nie ’n woord oor waarom dit gedeeltelik misluk het nie, skryf Jan-Jan Joubert. 

Brugbouers: Die Reitz-video en die pad na versoeningdeur Rudi Buys. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R250.

Die helleweg, so beweer die Engelse, is met goeie bedoelings geplavei. Hierdie boek is nie net die verhaal van so ’n verskynsel nie, maar in ’n sin ook ’n vergestalting daarvan.

Rudi Buys was betrokke by die groep iGubu, wat in 2008 aangestel is om versoening op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) te probeer bewerkstellig nadat die instelling lamgelê is deur rasopstande en die nagevolge van die sogenaamde Reitz-video (waar wit inwoners van die koshuis Reitz onder meer voorgegee het hulle urineer in die kos van niksvermoedende swart skoonmakers).

Later, tydens die ampstermyn van prof. Jonathan Jansen as rektor, was Buys as studentedekaan in die middel van die storm en drang waarbinne probeer is om die universiteit te hervorm.

Dit was ’n goedbedoelde poging waarvan die beperkte sukses vir alle welmenendes pynlik was.

Hierdie boek neem ’n mens aanvanklik – en later weer – op Buys se persoonlike reis as iemand wat in 1974 gebore is en grootliks in ’n gesegregeerde Suidwes-Afrika (vandag Namibië) grootgeword het. Sy ouers het as sendelinge en predikantepaar nie rasseskeiding goedgekeur nie, en Buys het as derdegeslag-teologiestudent op Stellenbosch die buitestander en versoener Beyers Naudé as rolmodel begin nastreef, in so ’n mate dat hy later gereeld Naudé se mantel – of dan sy toga – letterlik oorgeneem het.

Benewens Buys se persoonlike reis is die boek ’n aanpassing van sy doktorale proefskrif met versoeningsmetodiek as tema. Hy neem vier gevallestudies van UV-studente as voorbeeld van mense wat hul eie agtergrond en ras in ’n rasverdeelde omgewing wou oorkom, en neem ons op hul onderskeie lewensreise voordat hy uit hul belewing van versoeningspogings by die universiteit ’n reeks waarnemings, “lesse” en insigte vir versoening formuleer.

Hoekom is dieselfde empiriese navorsing wat met ondersteuners van die versoeningsmodel gevolg is, nie ook met die teenstanders – swart en wit – onderneem nie?

Dit is alles baie interessant en boonop geskryf in die klokhelder Afrikaans van ’n taalvirtuoos. As iemand wat dit feil het vir die UV (een van my alma maters) en altyd ’n uitgesproke ondersteuner en bewonderaar van sowel Jansen as sy versoeningspogings sal bly, weet ’n mens hoe hard daar probeer is om van die kant van die rektoraat die regte ding te doen, en hoeveel goeie vrugte gedra is.

Maar net so weet ’n mens die boektitel is misleidend: Versoening is nié bereik nie en die proses was nie ’n sukses nie. ’n Belangrike vraag is waarom nie?

Maar hieroor is die boek – tot sy nadeel – stom.

Waarom? Dalk kan ’n mens dit soos volg verduidelik: ’n Persoonlike vriend het enkele jare gelede nagraadse studie in die regte aan die Universiteit van Oxford gedoen. Die onderwerp van sy verhandeling was boeiend en ek wou weet wat sy gevolgtrekking is. Hy het verbaas gereageer: Ek weet nie – dis tog hoekom ’n mens navorsing doen.

Hieruit het ek geleer die doel van navorsing moet eerstens wees om die onbekende te verken eerder as om die bekende reg te bewys. Daar moet altyd twyfel wees oor of jy reg is. En ek dink – in liefde gesê – dít is waar dit ikabod was vir sowel die versoeningsproses by Kovsies as vir hierdie boek.

As ondersteuner het ’n mens destyds altyd die gevoel gekry die versoeningsproses is te veel van buite en van bo gedryf eerder as van binne en van onder, vanuit die studentemassa self. Daar was ’n welmenende, maar vermanende vingertjie wat van beter geweet het – as die studente geweet het wat goed is vir hulle, sou hulle luister en doen soos wat vir hulle voorgesê word.

Dit sou noodwendig tot ’n teenreaksie lei – en dit het.

Die boek, wat in ’n groot mate die beskrywing van die proses behels, dra as spieëlbeeld swaar aan die tekortkomings wat die proses gekniehalter het.

Twee voorbeelde: Die skrywer voel aan dat sy gereelde dra van Beyers Naudé se toga – die oorneem van sy mantel – ander lede van die NG Kerk irriteer, maar dit is asof hy nie besef hoekom nie; dat mense, ook dié wat oortuig is van die edelheid van Naudé se lewe en strewe, dalk kan voel dit is onvanpas – en dalk ’n punt kan beethê, veral vanuit hul eie hoek beskou.

Die tweede voorbeeld: Dit is jammer dat die vier studente wie se ervarings geboekstaaf word, sulke presiese onderskrywers van die versoeningsproses is; dat hulle – ongetwyfeld eerlik en soms ten spyte van aanvanklike voorbehoude – die proses uiteindelik sterk onderskryf en volkome uitgedra het. Hoewel die vier edel en, uit eie hoek beskou, reg opgetree het, sou dit die boek versterk het as die uitreik na wat Hannah Arendt “die Ander” sou noem, ook die mening van die ander (mense wat nie die proses van uitreiking onderskryf het nie) ingesluit het.

Ewe belangrik as die redes waarom ’n proses en model gedeeltelik geslaag het, is tog sekerlik hoekom dit gedeeltelik misluk het, al is dit net om die gevare en gebreke vir die gekose model vir die toekoms te verreken sodat diegene wat dit wil implementeer, bedag daarop kan wees.

Hoekom is dieselfde empiriese navorsing wat met ondersteuners van die versoeningsmodel gevolg is, nie ook met die teenstanders – swart en wit – onderneem nie?

Verder sou dit beter gewees het om die vier studente meer sélf te laat praat, in aanhalings en eie woorde, oor hul belewenisse as om die skrywer dit te laat oorvertel. Dit is ’n verdere vergestalting van die leemte in die boek: dat ’n enkele lens gebruik word, dat die kern van die bevinding eintlik vooruit bepaal is en dat die navorsing hierby inpas.

Ondanks my fel kritiek en enkele voorbeelde ter stawing moet ek toegee dat hierdie boek ’n nodige en nuttige dog onvolkome blik bied op die gebeure in Bloemfontein en die uitdagings om in openbare, relatief gedwonge saamblyruimtes soos onderwysinstellings versoening te bewerkstellig.

Die sterkste aspekte daarvan is die beskrywings van Buys en andere se persoonlike bedevaarte sodat ’n mens van hul goeie bedoelings oortuig is.

Wat dit egter kort, is balans en die verkenning van die denke wat verskil, en kennelik vir die voorstanders van die proses ’n onbekende gebied bly.

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en die skrywer van Wie gaan in 2019 regeer?
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.