Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Kraak’ gee g’n tiener sooibrand

‘Kraak’ is nie net een van die beste Afrikaanse toekomsromans sedert die ‘Fritz Deelman’-reeks nie, meen Henri Malan – dis ook gewoon wonderlik om ’n Afrikaanse jeugboek te ontdek wat jou nie ná bladsy tien sooibrand gee nie.

Kraak deur Rouxnette Meiring. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R170.

Dit is die jaar 2315. In die stad //Hui !Gaeb aan die suidpunt van Chinafrika woon derduisende weeskinders soos Kara, Amber, Kaleb en Mohlomi in ’n kinderhuis omdat hul ouers – en baie ander volwassenes in die stad – skielik in ’n diep koma gaan en nou in ’n droomhospitaal versorg moet word.

’n Virtuele koepel beskerm die inwoners van //Hui !Gaeb teen die giftige oseaan, vuil lug en die gevaarlike wêreld buite die koepel, maar nou doen stories die ronde dat die gereelde aardbewings wat die stad teister, besig is om die koepel te kraak . . .

Kara, Amber, Kaleb en Mohlomi word deur die wyse Sophia aangesê om noord te trek deur die onbekende woestynlandskappe tot in Egipte. Volgens haar is dit hul enigste kans om hul slapende ouers te red, en al het hulle baie vrae, sal hulle moet uithou tot in Egipte, waar al die antwoorde wag.

Op hul reis ontmoet die vier ander mense wat buite die koepel leef, maar hul paaie kruis ook vir die eerste keer met diere wat buite die koepel bestaan, soos visse wat deur evolusie vervorm is en wreedaardige gediertes wat enigiets, selfs mense, sal eet.

Vir my is Kraak een van die beste Afrikaanse toekomsromans vir jong mense sedert Leon Rousseau se Fritz Deelman-reeks, waarvan die eerste boeke reeds in die 50’s verskyn het. In dié boeke word dinge beskryf soos sendings na Mars en myne en geboue onder die see wat 50 jaar gelede geklink het soos sprokies of blote teorieë oor hoe dinge gaan lyk in die toekoms. As jy egter vandag ’n Fritz Deelman-boek lees, kom jy nie agter dit speel nie in die toekoms af nie omdat ons leef in ’n tyd waar ondersese myne en sendings na Mars ’n werklikheid is. Dit laat my wonder wat my kleinkinders eendag van Kraak sal dink. Sal dit ook so akkuraat wees soos die Fritz Deelman-reeks?

Ek dink Kraak is ’n wonderlike boek. Dit laat ’n mens besef hoe dankbaar ons moet wees vir ons wêreld wat steeds relatief ongerep is. Ek sal baie eerder ’n boek wil lees oor ’n verwoeste wêreld terwyl dit nog ’n fantasie is as wat ek sal wil leef in die tyd waarin die boek afspeel.

Baie jong lesers, ek inkluis, lees deesdae liewer Engelse jeugboeke omdat ons nie te veel van Afrikaanse boeke verwag nie. Vir ander lesers wat soos ek voel, sal Kraak ’n aangename verrassing wees. Die boek laat ’n mens besef Afrikaanse tienerboeke hoef nie te gaan oor ’n seun wat permanent rugby speel, sukkel met wiskunde en heeltyd agter ’n blondine met mooi bene aanhardloop nie.

Kraak is spannend, snaaks en interessant – die soort boek wat vinnig jou leeslus aanwakker en jou gedurig in die moeilikheid sal hê in die klas omdat jy beslis eerder dit sal wil lees as om jou werk te doen. Dit is ook die perfekte oplossing vir ma’s wat iets anders as Fortnite soek om Japie oor die naweek besig te hou.

Die enigste kritiek wat ek het, is die baie spannende oomblik waarop dit eindig en wat ’n mens natuurlik dwing om die opvolgboek te lees. Ek kan nie wag nie.

Vir my is Kraak ’n briljante boek wat ek sal aanbeveel vir enigiemand op soek na spannende, interessante Afrikaanse leesstof – en wat jou nie ná bladsy tien sooibrand sal gee nie.

* Die opvolgboek, Snak, verskyn op 22 Oktober vanjaar.

  • Henri Malan is ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.
Meer oor:  Kraak  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.