Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Krimi eenvoudig uitstaande

Heiliger

Dibi Breytenbach

LAPA, R230

Dibi Breytenbach is ’n regsgeleerde wat praktiseer in die dorpie Vryheid in KwaZulu-Natal. Haar eerstehandse ervaring van die masjinerie van die staat en daaglikse omgaan met die effek van geweldsmisdade op slagoffers, maak haar die ideale kandidaat vir die skryf van misdaadfiksie.

Breytenbach se vorige twee romans, Saliger en Vrediger, het groot indruk op hierdie leser gemaak. Die skrywer onderskei haar van menige ander wat plaaslik in die genre van die spanningsroman skryf deur die sterk filosofiese onderbou van haar romans.

Waar Vrediger gefokus het op kwessies van grondbesit en rasseverhoudings en macho manlikheid onder die loep geneem het, bied Heiliger die terugkeer van Hendrik en Amalia uit Saliger. Hierdie paartjie moet nog met verskeie krokodille onder die oppervlak van hul intense verhouding afreken.

Hendrik is bitter lief vir Amalia, maar as private sekuriteitskontrakteur staan hy in vele opsigte buite die gereg. Amalia daarteenoor is onverskrokke in haar stryd as staatsaanklaer teen dié wat die lewens van ander as minderwaardig ag.

Breytenbach se sosiaal betrokke skrywe bied ’n alternatief tot stadsgebonde misdaadfiksie. Sy hou die leser vasgenael met die sentrale konflik en ondersoek: ’n Jong swart seun, een van Hendrik se bure, word dood aangetref kort nadat Hendrik ’n paar skote afgevuur het om ’n rondloperhond in die buurt van kant te maak. Hendrik word spoedig in hegtenis geneem.

Soos detail stuksgewys ingesamel word, bied Heiliger ’n fassinerende blik op die vooroordele wat dikwels aan die lig kom met omstrede moordsake. Veral indrukwekkend is hoe die roman toelig hoe die euwel van misdaad oor verskeie grense strek en slagoffers en misdadigers uit totaal verskillende oorde intiem byeenbring.

Die Dood is immers die groot gelykmaker. Heiliger fokus ook op die pogings van die feilbare individu om deur geloof, bygelowe en tradisionele of inheemse medisyne en toordokters uit die dood se kloue te ontsnap.

Die menslikheid en beweegredes van die Ander word so ingekleur dat ’n tipe onverwagse skoonheid en liriese dimensie na vore kom. So is die paar dae rondom die Kersfees waarin die gegewens afspeel, en die sin van toegeneentheid, familie en dankbaarheid wat gewoonlik hiermee gepaardgaan, op sy kop gekeer met die beproewing wat verskeie karakters ervaar.

Heiliger kan met Rudie van Rensburg se Kamikaze en Madelein Rust se Moordhuis vergelyk word as die hoogtepunt van die skrywer se oeuvre tot dusver. Eenvoudig uitstaande.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.