Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Krimi lewer dodelike leesgenot

‘Doodskoot’ verplaas jou na die wêreld van film noir,  skryf Deborah Steinmair.

Doodskoot deur François Bloemhof. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R220.

In die huis van die Afrikaanse spanningsverhaal is daar baie wonings en François Bloemhof het daar vir hom ’n ruim kamer oopgeskryf. Leon van Nierop noem hom die koning van die cliffhanger, maar ek dink hy is die noir nar, die donker klong. Sy styl is elegant en sensueel met gitswart ondertone. Doodskoot se voorblad herinner aan ’n ou fliekplakkaat en dis ’n goeie aanduiding van die inhoud: Dink Hitchcock en film noir, met rowwejeks, gefolterde gewese cops, blinkstefaanse, dodelike femmes fatales soos swartweduweespinnekoppe, antieke meubels, kerslig, kristal, kandelare en beleë brandewyn. Verplaas dit na ? wynplaas in die Boland. Soos in Meulenhof se mense ratel die geraamtes van die verlede nog kletterend in die hede.

Paul Matthee is ’n gewese polisieman. Hy was ’n probleemkind, die soort wie se ouers hul van hom distansieer, die soort seun wat ander seuns tot in die hospitaal opdinges en meisies op die paal sit en versaak. In die polisiediens het hy uiteindelik ’n positiewe rolmodel gekry, maar alles eindig in ’n sinnelose tragedie wat daartoe lei dat hy doelloos rondswerf met ’n rugsak vol klere en ’n kop vol spoke.

Die noodlot waai hom tot op die miljardêr Bernard Ackerman se wynlandgoed. Laasgenoemde het ’n aanvallige, ongekunstelde dogter Lanie; weerloos, met ’n mooi hart. En dan is daar Ackerman se minnares, Michelle. Soos heldinne in ou swart-en-wit flieks weet sy hoe om ’n duisend skepe te kelder terwyl sy stadig by ’n stel trappe afbeweeg. Sy tart en onderwerp, sy laat magtige mans soebat.

Sy het arm grootgeword, maar sy het gerief lief en besef dat sy die einde van haar rakleeftyd nader. En Matthee was nog altyd iemand wat moeilikheid tegemoetloop. Uit die vroue se reaksie op hom lei die leser af hy is ’n aantreklike kêrel. In die huishouding is ook die chauffeur, Johnny, wie se jop Matthee oorneem, en die huishoudster, Mary. Alles is ’n magspel, met geld en seks die valuta.

Die verhaal speel oor vier dae af, meestal in die herehuis. Die karakters wat almal saamgegooi is waar onheil uitbroei, herinner aan Agatha Christie, die terugflitse na ondraaglike innerlike bagasie aan Ruth Rendell – dit het beslis ’n gesofistikeerde Britse stempel.

Bloemhof weef ondraaglike spanning met kort hoofstukke. Tussendeur is daar terugflitse na Matthee se dae in die polisie, veral die noodlottige dag wat hom ’n lewende dooie gemaak het. Die verteller is alomteenwoordig: Soms is die leser in die slaapkamer met die paraplegiese miljardêr en sy minnares, dan weer tussen Matthee se beswete lakens. Bloemhof slaag meesterlik in die uitbeelding van erotiek, begeerte, die tartende spel van lus. Of die versmelting self ewe meesterlik uitgebeeld word, is ek nie seker nie: “ ’n Moewiese simfonieorkes is aan die speel in sy balle en die eggo’s kring oral uit” – maar moontlik verstaan ek nie balbesit nie.

Dan breek alle hel los onder die ses inwoners van die huis. Iemand word ontvoer, iemand het gekonkel, ou bagasie en agendas tuimel uit die kas. Niks is soos dit voorkom nie; daar is heelwat op die spel en verrassings om elke draai. Die leser bly op die punt van haar stoel.

Doodskoot vervul die kontrak met die ­leser en lewer dodelike leesgenot. Die ­leser word verplaas soos in ’n ou moewie; begogel, verlei, verlok, ontnugter en ­enduit geboei.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en ­vryskuttaalpraktisyn.
Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.