Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kroate se rol in Anglo-Boereoorlog in boek belig

’n Boek oor Kroate wat 120 jaar gelede in die Anglo-Boereoorlog (ABO) saam met die burgers teen die Engelse geveg het, word in Maart 2020 uitgereik.

Zvonimir Navala doen nou afronding aan sy boek oor Kroasiese betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog. Foto: Charné Kemp

Croats in the Anglo-Boer War is die Kroasiese skrywer Zvonimir Navala se eerste boek. Hy besoek Kimberley nou en doen reeds navorsing vir sy tweede boek, hierdie keer oor historiese Amerikaanse immigrasie na Suid-Afrika en hul deelname aan die ABO.

Navala sê 35 Kroate het aan die burgers se kant geveg, van wie drie gesneuwel en 12 gevange geneem is.

Die boek sal in Engels en in Kroasies gepubliseer word. Sy boek handel nie net oor Kroate in die ABO nie, maar ook oor Kroate wat sedert die 19de eeu na Suid-Afrika geïmmigreer het.

Prof. Fransjohan Pretorius, ’n ABO-kenner, het Navala se boek geredigeer.

Navala, wat deesdae in Kalifornië in Amerika woon, gaan vanaf Woensdag die kongres van die 120ste herdenking van die ABO by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bywoon.

Hy het in die vroeë negentigs ten tyde van die oorlog tussen Bosnië en Herzegowina, waarin Serwiërs en Kroate ook betrokke was, na Suid-Afrika geïmmigreer.

“Ek was nog altyd in oorlog geïnteresseerd. My pa het saam met Tito in die Tweede Wêreldoorlog geveg.”

Josip Broz, beter bekend as Tito, het die weerstand teen Nazi-besetting in Europa gelei.

“Ná my immigrasie na Suid-Afrika het ek my by geskiedenisverenigings aangesluit. Ek was heel onbewus van my landgenote se deelname aan die ABO.

Die onbekende Duitser wat in die slag van Steynskraal naby Amersfoort dood is, is as die Kroaat Giovanni Cella geidentifiseer. Foto: Verskaf

“Baie Kroate het in die laat 19de eeu met die koms van industrialisering na ander wêrelddele geïmmigreer. Hulle was meestal skeepsbouers wat met hout gewerk het. Die koms van stoomskepe wat van staal gebou is, het hulle verarm.

“Intussen is diamante en goud in Suid-Afrika ontdek, en het hulle ook hierheen gekom. Sommige van hulle was landbouers en boere.

Zvonimir Navala het die grafte van twee Kroate ontdek wat in 1884 in Kimberley in mynongelukke dood is. Foto: Verskaf

“Ek het Maandag die grafte van twee Kroate in die Weseinde-begraafplaas in Kimberley ontdek. Hulle is in 1884 in ’n mynongeluk dood.”

Hul nasionaliteit is in die nadraai van die Oostenryk-Pruisiese oorlog van 1867 as Oostenrykers aangeteken. Ná die oorlog is twee monargieë, Oostenryk en Hongarye, en een onafhanklike streek, die koninkryk van Kroasië-Slowenië, onder Hongaarse bewind geskep.

“Ek het drie jaar lank navorsing in onder meer die nasionale argief, biblioteke en museums gedoen, ook in plekke soos Baberton en Pelgrimsrus. Ek het ook raaisels oor onbekende gesneuwelde Kroate opgelos.”

’n Kroaat wat deel van die Carolina-kommando was, se graf is op die plaas Palmietspruit naby Amersfoort in Mpumalanga.

“Dr. Tian Schutte het my gehelp om te bevestig dat die gesneuwelde eintlik Franic Ulderik is wat in die slag van Steynskraal dood is. Hy was ’n treinkondukteur voordat hy by die oorlog betrokke geraak het.

“Ek het ook ene Giovanni Cella ontdek wat volgens die ZAR Staatskoerant in April 1900 by Modderrivier naby Bloemfontein dood is. Hy is op die Kroasiese eiland Kersto gebore wat destyds deel van die Venesiese Ryk was. Hy het in 1898 na Suid-Afrika geïmmigreer. In my navorsing het ek ontdek hy het nie in Tugela, Natal, gesterf soos aangedui is op die inskripsie op die gedenksteen by die NG kerk Verkeerdevlei nie.”

Hy is as ’n onbekende Duitser by die ABO-monument by Verkeerdevlei aangedui.

Meer oor:  Prof. Fransjohan Pretorius  |  Kimberley  |  Bloemfontein  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.