Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Krog onder die loep by kongres
Antjie Krog se werk word belig op die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging in Stellen- bosch.

Plaaslike en Nederlandse letterkundiges trek vandeesweek saam vir die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging op Stellenbosch. Die digter en skrywer Antjie Krog se werk kom in fokus op dié kongres, wat van môre tot Vrydag gehou word.

Jildou Fabriek van die Universiteit Utrecht gaan Krog se plek in die Lae Lande belig, Yves T’Sjoen van die Universiteit Gent bespreek haar en Herman de Coninck se werk en Jerzy Koch van die Adam Mickiewicz-Universiteit in Pole sal besin oor Krog se digkuns in vertaling.

Hoewel Krog se werk die brandpunt vorm van die kongres, “Antjie Krog en die vele raamwerke van die Afrikaanse literatuurwetenskap’, kom die poësie van Johann de Lange onder meer onder bespreking môreoggend in ’n uitgebreide gesprekreeks oor manlikhede onder voorsitterskap van Neil van Heerden van Unisa. Francois Smith van die Universiteit Vrystaat lewer ook ’n referaat getiteld “Queerteorie en die waarde van ’n skewe blik”. Ná middagete môre is ’n praatreeks gegroepeer onder die titel “Feminismes” onder voorsitterskap van Ihette Jacobs van Unisa. Feministiese stemme in Afrikaans word belig en Malgorzata Drwal van die Adam Mickiewicz-universiteit bespreek Marié du Toit se Vrou en feminist, die eerste feministiese boek in Afrikaans, wat reeds in 1921 verskyn het. Ná teetyd môre word S.J. Naudé se roman Die derde spoel bespreek.

Donderdag word die sensuursake rondom Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein! opnuut ondersoek en die werk van Abraham Phillips en E.K.M Dido bespreek. Ná middagete is leesstrategieë vir digitale literatuur, Fanie Viljoen se jeugroman Pleisters vir die dooies en apokaliptiese literatuur in Afrikaans aan die beurt. Die werk van Marlene Van Niekerk, Pirow Bekker, Dalene Matthee, Breyten Breytenbach en Carina Stander is Vrydag onder die loep.

Krog is self môremiddag om 17:00 aan die woord met “Vertaling as werktuig om nuwe maniere van mede-wete te ondersoek”.

Die hoofreferaat oor Krog se werk word môreoggend om 08:45 deur Susan Smith van die Universiteit van Fort Hare gelewer. Smith lewer ’n ekokritiese invalshoek op ’n gedigteks van Krog.

Daarna word Krog se werk vanuit verskeie invalshoeke belig in die loop van die kongres. Môre se oggendgesprekke handel oor haar impak op verskeie diskoerse, die middag is haar intertekste onder die soeklig en laatmiddag word Afrikaanse skrywers se plek in die wêreld belig. Donderdag vroeg word die vertalings van Krog se werk ondersoek en ná middagete haar bundel Mede-wete. Vrydagoggend word ’n vergelyking tussen Krog se Lady
Anne
en Shaka Zulu van Alfred Schaffer getref, persepsies en humor van Krog in ’n Ander tongval word uitgelig en daar word besin oor leesstrategie van die outbiografiese poësie van vrouedigters aan die hand van Krog se gedig “hoe en waarmee oorleef mens dit?”

Die publiek kan registreer teen R500 per dag. Die kongres word aangebied in die Wallenberg-navorsingsentrum by Stias.

Navrae kan per e-pos gerig word aan alv2018@sun.ac.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.