Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kroniek van grond verstom

Kroniek van turf

Dolf van Niekerk

PROTEA, R160

Die kwessie van grond en grondeienaarskap het onlangs weer begin opvlam in die retoriek van politici soos Julius Malema, en selfs ook by linksgesinde ANC-politici.

Dit is omdat die besit van grond vir eeue reeds ’n bron van konflik en, in sommige gevalle, die oorsaak van bloedvergieting was, en steeds is.

Dolf van Niekerk se jongste prosawerk Kroniek van turf neem ’n historiese aanslag waarin grond, of turf, die sentrale tema is wat verweef word in die verhaal van ’n paar geslagte van ’n enkele bloedlyn.

Gerrit is die eerste geslag wat hom in die Kaap vestig. Hy en sy Anna kry vir hulle ’n lappie grond in die Roggeland, maar in hul afwesigheid word hul huis en grond gestroop en hulle vlug met hul kinders.

So begin een van vele verhale wat afspeel teen die land se geskiedenis, van die stigting van die verversingstasie in die 1600’s tot vandag. Gerrit se verskeie nageslagte bevind hulle telkens op ander plekke en raak betrokke by gebeurtenisse soos die grensoorloë teen die Xhosas, die Groot Trek en die Slag van Bloedrivier, die Anglo-Boereoorlog en later die Grensoorlog en die oorgang na demokrasie.

Gerrit se seun Johannes ruil vee vir ’n stuk grond by ’n Boesman wat hy Skeel Kobus noem. Skeel Kobus is eintlik Kousop, ’n stamhoof. Johannes se nageslagte woon vir baie jare hier in Blaauwkrans, totdat ’n nasaat van Kousop ’n grondeis teen die huidige nasaat van Gerrit instel.

Die grondkwessie is egter nie slegs van toepassing op Gerrit se familie nie. Die dreigende Engelse koloniale mag het dit ten doel om groot dele grond vir homself op te eis en met geweld af te neem. Dit plaas die soeklig op eeue se ontworteling deur kolonialiste en vyandige regerings se strooptogte deur Suid-Afrika, waarin baie mense – veral swart en bruin – van hul grond ontneem is ter wille van die een of ander ideologiese of ekonomiese oorweging.

In slegs 135 bladsye kry Van Niekerk dit reg om ’n bykans ondenkbare hoeveelheid historiese gebeurtenisse te ontsluit. En telkens skryf hy dit met die selfvertroue van iemand wat self daar was.

Maar dit is die emotiewe grondkwessie wat die verhale van die verskillende geslagte en hul geliefdes aan mekaar verbind. Die kompleksiteit van eienaarskap van grond wat verkry is deur onteiening, oorlog of historiese predisposisie is die “Catch22” wat nóg in die boek, nóg in die werklike lewe ’n ontknoping bied.

Kroniek van turf is ’n verstommende eksistensiële werk deur ’n skrywer wat sy praatwerk tussen die lyne doen.

Riaan Grobler is ’n vryskutresensent en redaksielid van City Press.

Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.