SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Boeke
Kuier saam met Etienne van Heerden by Olive Schreiner

Later hierdie maand trek bekende Afrikaanse skrywers op Cradock saam vir die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée aan die voet van die koppie waar Olive Schreiner begrawe lê. Wilna de Klerk vertel.

Etienne van Heerden en van die besoekers tydens laasjaar se soirée by die sarkofaag op Buffelskop. Foto: Verskaf

Rofweg 17 kilometer buite Cradock, met die R337 langs in Cookhouse se rigting, 1 000 meter bo seespieël op ’n koppie met ’n uitsig oor Buffelshoek, die plaas waarop dit lê, en die Karoovlaktes en –randjies wat tot op die gesigseinder strek, staan ’n koepelvormige sarkofaag.

Dis in dié sarkofaag waar Olive Schreiner, een van die land se bekendste skrywers uit die 19de eeu en stryder vir vroueregte, saam met haar baba en hond, Nita, en haar man, Samuel Cronwright Schreiner, begrawe lê.

Wanneer ’n mens by die graf staan, is dit nie moeilik om te begryp waarom Olive so ’n eksklusiewe rusplek uitgekies het nie.

Dirosie se lapa is gesellig wanneer die vure brand. Foto: Verskaf

Die twaalfjarige Schreiner het in 1867, nadat haar sendelingpa bankrot verklaar is, saam met haar broer William en suster Ettie op Cradock kom woon by hulle ouer broer Theo wat hier skoolhoof was. Later jare sou Schreiner ’n nomadiese lewe lei, as huisonderwyseres op verskeie plase dwars oor die Karoo en die Oos-Kaap, maar Cradock was haar hartsplek.

Gedurende hierdie tydperk het sy begin skryf aan kortverhale en ook ’n roman, maar dit was eers haar Story of an African Farm wat in 1880 verskyn het wat haar beroemd gemaak het. Omdat dit in daardie tyd ongehoord was vir vrouens om boeke te skryf, het die eerste uitgawes onder die skuilnaam Ralph Irons verskyn.

Buffelshoek se ou opstal is omskep in gasteverblyf. Foto: Verskaf

Olive is in 1894 met Samuel Cronwright, boer van Krantz­plaats in die Cradock-distrik, getroud. Hy het ná die troue as Cronwright Schreiner bekend gestaan. Terwyl hulle eendag in die veld gestap het, het Olive hom laat belowe dat hy haar eendag op Buffelskop sal begrawe.

Die huis by Cross-straat 9 op Cradock, waarin sy en haar broers en suster gewoon het, staan vandag bekend as die Schreiner-huismuseum (een van ses oor die land) en Buffelshoek behoort deesdae aan Dirk en Rosie Visser wat dit oor die afgelope paar jaar omskep het in die Dirosie-vakansieplaas met geriewe vir onthale, bosberade, sportbyeenkomste en enigiemand wat in die Karoo wil ontspan.

Jy kan onder meer kameelperde sien op Buffelskop se wildbesigtigingsroete. Foto: Berend Photography

Dirk laat ’n mens toe om die sarkofaag te gaan besoek, maar dis ’n stywe stukkie voetslaan met die bergpaaie langs tussen Buffelshoek se wildkampe deur. As jy nie kans sien om al die pad te stap nie, kan jy ’n saamrygeleentheid kry op een van Dirosie se viertrekvoertuie wat jou sal neem tot op ’n plato onder die kruin en van daar is daar nog ’n styl klim van 600 meter tot by die graf. Die uitsig is indrukwekkend en ’n mens wonder of sy dié plek gekies het omdat sy uiteindelik rus en vrede wou hê of omdat sy vir besoekers ’n uitdaging wou stel.

Langs Buffelshoek lê die buurplaas, Beaulah Lands. Dit is die grootwordplek van Etienne Van Heerden, een van Suid-Afrika se bekendste hedendaagse skrywers. Hy het op Cradock skoolgegaan waar sy ma ’n onderwyseres en sy pa een van die broers in die Van Heerden Broers Merinostoet was. Dis ook hier in Cradock waar die storie en karakters van sy mees onlangse boek Die wêreld van Charlie Oeng lewe gekry het. Dit is dus nie verbasend dat Buffelshoek die plek is waar die Etienne van Heerden Veldsoirée aangebied word nie.

Tydens die langnaweek in September (22 tot 25 September) is Buffelshoek vir die tweede agtereenvolgende jaar die bymekaarkomplek vir mense wat nie net van die land se gewildste Afrikaanse skrywers wil ontmoet nie, maar ook hul eie skryfvaardighede wil slyp onder leiding van Van Heerden en ander bekendes soos Fanie Olivier, Bibi Slippers en Chanette Paul.

Daar is selfs toerbusse vanaf Kaapstad, Stellenbosch, Johannesburg en Pretoria vir die geleentheid gereël.

Die kapel staan reg vir troues. Foto: Berend Photography

Die praatjies, lesings, uitstallings en optredes is alles gratis, maar ’n mens moet jou eie verblyfreëlings tref. Buffelshoek se ou opstal is nou ’n gastehuis met ses slaapkamers en badkamers, ’n gemeenskaplike sitkamer, kombuis en braai-area vir mense wat op die plaas self wil oornag. Daar is ook 12 kleiner huisies op die plaas waar jy saans voor jou eie afgesonderde braaivuur kan sit en tuur oor die landskap. As dinge onder die Karoo se uitspansel erg romanties raak, is daar selfs ’n klein kapelletjie vir huwelikseremonies en ’n wittebroodsuite aan die bergvoet.

Vanjaar se fees strek verder as net Cradock tot by Somerset-Oos waar besoekers lesings by die Jakes Gerwel-huis kan bywoon waar skrywers soos Dana Snyman, Ronelda Kamfer, Karin Brynard, Bettina Wyngaard en Nathan Trantaal die woord sal voor. Daar sal ook geleentheid wees om by die Walter Battiss-museum in te loer.

’n Besoek aan die Schreiner-sarkofaag bly egter letterlik en figuurlik een van die hoogtepunte van die Veldsoiree, tesame met die merkwaardige storie daaromtrent.

Die Schreiners het later jare in Kimberley en De Aar gewoon en was ook dikwels oorsee. Dit was juis toe Cron in die buiteland was dat Olive op 10 Desember 1920 in Kaapstad gesterf het. Sy is op 12 Desember in die Maitland-begraafplaas langs haar broer, Will (in ’n stadium eerste minister van die Kaap Kolonie), te ruste gelê.

Wilna de Klerk

Met Cronwrigt se terugkoms in Suid-Afrika het hy, trou aan sy belofte, begin met reëlings om Olive op Buffelskop te laat herbegrawe. Hy het die dienste van Joe Mann, plaaslike messelaar ingespan om ’n ronde sarkofaag van ysterklippe wat op die kop versamel is, te laat opgerig.

Mann het agterna vertel hy het net twee handlangers gehad om hom te help. Hulle het die sarkofaag binne veertien dae voltooi en is sestig pond (destyds R120) vir die werk betaal. Met die afronding van die stene het hy sement in ’n konfytblikkie gemeng, maar dit was so koud op die berg dat die sement gevries het voor die blikkie leeg was.

Die herbegrafnis het op 13 Augustus 1921 plaasgevind, nadat Olive per trein vanaf Kaapstad na Cradock vervoer is. Die oorskot van haar baba, wat in 1895, kort ná geboorte oorlede is, en haar hond het vanaf De Aar saam met die kis gery.

Die begrafnisondernemers J T Schooling & Kie, wat vandag nog op Cradock sake doen, het die herbegrafnis onderneem. Tien draers het die dag voor die begrafnis die drie kiste na die plato net onder Buffelskop geneem – die einste een waar ’n oornaghut vir stappers nou staan. Daar was 33 mense, insluitende die draers, teenwoordig by die herbegrafnis, waaronder Maria Cronwright van Dijk, die dogter van die destydse eienaar van die plaas.

Kortliks

Die Etienne van Heerden Veldsoirée

Wanneer: 22-25 September

Waar: Dirosie Gasteplaas, Cradock - Jakes Gerwel-huis, Somerset-Oos

Prys: Gratis

Meer inligting: etiennevanheerden.co.za/etienne-van-heerden-veld-soiree/#2

Kontak: davidd@ukzn.ac.za; 

Dirosie Gasteplaas 

Meer inligting: buffelshoekdirosielodge.co.za

GPS:S32.283096, E25.678503

Kontak: 060 433 4797 of buffelshoek.gamelodge@gmail.com

Olive Schreiner

Olive Schreiner

1855 - Olive Emilie Albertina Schreiner word op 24 Maart gebore op die Wittenberg-sendingstasie in Basoetoland (nou Lesotho). Sy is die negende van twaalf kinders van Gottlob en Rebecca Schreiner née Lyndall. Haar name is afgelei van dié van drie van haar ouer broers, Oliver, Emile en Albert, wat as kleuters gesterf het. Haar vriende en familie noem haar Emilie.

1867 - Olive, haar ouer suster Ettie en jonger broer William gaan bly by hul ouboet Theo, ’n skoolhoof op Cradock.

1871 - Ná haar blootstelling aan die skryfwerk van onder meer Ralph Waldo Emerson besluit sy dat sy voortaan as Olive bekend wil wees en nie meer Emilie nie.

1872 - Olive werk as skooljuffrou in Dordrecht en raak verlief op Julius Gau, ’n politikus en diamantsmous. Sy trek saam met Theo en Ettie na New Rush (later bekend as Kimberley), waar sy skoolhou vir die delwers se kinders. Sy begin skryf aan drie van haar romans, waaronder The Story of an African Farm (eers getiteld Thorn Kloof, Mirage).

1875 - Undine is bykans voltooi en Olive is terug op Cradock waar sy skoolhou vir die Fouche’s op Klein Ganna Hoek.

1876 - Olive se pa sterf.

1880 - ’n Skotse uitgewer wys The Story of an African Farm van die hand en stel wysigings voor.

Beatrix Potter

1882 - Olive poog om te studeer as 'n vroedvrou by Endell Street Hospital in Londen, maar moet haar studies staak weens siekte. Sy maak vriende met onder meer Eleanor Marx (Karl Marx se dogter) en Beatrix Potter.

The Story of an African Farm

1883 - Die uitgewers Chapman and Hall publiseer The Story of an African Farm in twee dele. Dis ’n reuse-sukses. Dit word gou herdruk. Daar was 15 uitgawes van die boek in Olive se leeftyd.

1890 - Ná nege jare in Europa trek Olive terug na Suid-Afrika en vestig haarself in Matjiesfontein. Sy ontmoet vir Cecil Rhodes en nooi hom om by haar te kom bly.

1892 - Sy verbreek haar verbintenis met Rhodes en ontmoet vir Samuel “Cron” Cronwright, ’n volstruisboer.

Olive Schreiner en Samuel Cronwright

1894 - Sy trou op 24 Februarie met Samuel Cronwright en hy verander sy van na Cronwright-Schreiner. Die egpaar verhuis na Kimberley.

1895 - Olive skenk geboorte aan ’n babadogter wat kort daarna sterf.

1899 - Die Anglo-Boere-oorlog breek uit en Olive publiseer An English South African’s View of the Situation, wat die Boere ondersteun. Dit veroorsaak ’n rusie met haar broer Will, die eerste minister van die Kaapkolonie.

1900 - Olive spreek haar by vrouebyeenkomste in Kaapstad en Graaff-Reinet uit teen die oorlog. Sy leef onder krygswet in Hanover.

1903 - Olive se ma sterf in Kaapstad.

1907 - Die Schreiners verhuis na De Aar. Sy beywer haar vir stemreg vir vroue.

Mahatma Gandhi

1909 - Olive skud in die openbaar hand met Mahatma Gandhi voor hy Kaapstad verlaat en ondersteun sy beweging vir vreedsame verset.

1913 - Sy bedank uit die Women’s Enfranchisement League omdat dié organisasie slegs stemreg vir wit vrouens wil beding. Sy vertrek na Engeland en laat haar man agter. Haar gesondheid verswak.

Eerste Wêreldoorlog

1914 - Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog bly sy in Engeland.

Olive Schreiner word herbegrawe.

1920 - Cronwright-Schreiner sluit by sy vrou aan. Olive, nou baie kranklik, keer terug na Suid-Afrika. Sy sterf op 10 Desember in Kaapstad en word by haar familie in die Maitland-begraafplaas begrawe. Cron, keer terug uit Europa en kry toestemming om sy vrou te laat herbegrawe op Buffels­kop.

Samuel Cronwright

1924 - Cronwright-Schreiner publiseer Olive se biografie – The Life of Olive Schreiner – en haar briewe – The Letters of Olive Schreiner. Hy redigeer ook haar agtergeblewe manuskripte vir publikasie. Hy trou weer in Engeland en doen nou afstand van die Schreiner-gedeelte in sy van.

1936 - Samuel Cronwright sterf in Rondebosch en word langs sy tweede vrou begrawe.

Meer oor:  Cradock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.