Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kunstenaar­-kurator se inventaris van verlies

Fiksie

Vin

Lien Botha

QUEILLERIE, R280

Is dit geregverdig van ’n kunsmaagd om ’n mening uit te spreek oor ’n kunsroman?

Dalk juis, want dit word dan ervaar uit die oogpunt van ’n gewone leser, nie ’n kunskenner nie.

Lien Botha is self ’n internasionaal gerekende kunstenaar en kunskurator en het wyd gereis en uitnodigings na kunsresidensies in verskeie wêreldstede aanvaar.

Die boek nooi die leser om dit ook deur haar lens te beleef deur ’n skakel te verskaf waar foto’s van die plekke waaroor sy skryf en van die kunswerke self te sien is.

Hierdie vreemde roman, wat begin met brokkies tussenin van die verstrooide liggaamsdele in ’n Weskus-veld, is vir my soos ’n driedimensionele sirkel. Dis soos ’n collage van kuns wat kenmerkend is van hierdie kunstenaar se eie werk; van reis, van kuns en kunslandskappe, van verbrokkelende verhoudings en van eie ontheemdheid.

Hierdie vreemde roman, wat begin met brokkies tussenin van die verstrooide liggaamsdele in ’n Weskus-veld, is vir my soos ’n driedimensionele sirkel.

Dis altyd ’n plesier om iets te lees wat in jou eie omgewing afspeel, waar jy in die skrywer se spore loop en lees van kunswerke waarvan jy self foto’s geneem het en by dieselfde plekke geëet het, of die klipstruktuur in die see ken waar ’n tragedie afgespeel het. Sy gebruik ook name van werklike kunstenaars, soos die tweelingbroers Hasan en Husain Essop, Nadja Daehnke, Svea Josephy, Nomthunzi Mashalaba en Shar­lene Khan.

Brokstukke uit Vin Verster se lewe as kunstenaar en kunskurator neem ons saam na haar kunsresidensies op plekke soos Bordeaux, Florence, Venesië, Trento, New York, San Francisco, die eiland Sylt, Doha en Mali. Die boekmerk met sy QR-kode was nuttig om na die foto’s van plekke en kunswerke op Botha se webblad te gaan kyk.

Sintuie speel deurgaans ’n rol, selfs die afgesnyde liggaamsdele wat wag op die kake van ’n dier is dié wat die sintuie verteenwoordig.

Water en alles wat dit verteenwoordig, speel ook deurgaans ’n rol in die boek en die sewende bottel van haar Bordeaux-projek word ná ’n winterstorm by Valeyrac deur ’n visserman en sy seun teen die rivieroewer gevind. Die eenvoud van die foto van die bottel op die webblad het ’n emosionele reaksie gelaat van verwerp en vind, breek en bou.

Vin beleef alles om haar in terme van kuns, wat dit vir die leser ’n sinnelike ervaring maak. “ . . . kleure wat klop in die regte verhouding: geel – met die eerste oogopslag die ligste en helderste, dog swaar soos die son.” En: “Vin is in Magritte-wolke.” Ook plekke word in terme van kuns gesien. “Benewens ’n kunstaal wat sy implisiet verstaan, het Amerika die silwerdoek as subteks.”

Musiek speel dwarsdeur die boek, die vreemde klanke op Vin se speellys klink ook deur hierdie leser se oorfone toe ’n insident op Sylt/Fook-eiland veroorsaak dat Vin ’n draaipunt bereik en antwoorde soek by die lank gestorwe Hendrick Averkamp.

Verlies en dood beleef sy rou en smerig, met al haar sintuie.

Verlies en dood beleef sy rou en smerig, met al haar sintuie. Die verlore skildery van Avercamp wat haar oupa uit Nederland saamgebring het, verteenwoordig ook die verlies van haar ouers, wat sy op tragiese wyse op 17-jarige ouderdom verloor. Die soeke na die skildery loop saam met Vin se toenemende vervreemding van haarself, van haar samelewing en haar land. Haar verhouding met haar man, Ryk, verbrokkel soos haar lojaliteit aan haar geboorteland.

Vin het ’n obsessie met haar eertydse boelie, Sloan Kent, wat ook bande met haar familiegeheime het en oral opduik waar sy haar bevind. Die enigmatiese Alice en die meer ewewigtige Ryk met sy versameling Marvel-strokiesverhale het egter geen geduld met haar obsessie nie. Die leser word met Vin se lewensverhaal meegesleur; die ontrafeling daarvan word amper angstig afgewag.

Vin is ’n waterwese, al sien sy haarself tans as ’n tor wat om en om karring. Sy moet swem of sink, maar dikwels trap sy net water.

In die eerste gedeelte van die boek was dit nie duidelik vir hierdie leser of dit ’n reisjoernaal was teen ’n kunsagtergrond, of ’n kunskatalogus met reis as tema nie

ie skrywer se eie, persoonlike verliese die laaste paar jaar het waarskynlik bygedra dat sy verlies in soveel rouheid kon uitbeeld.

In die eerste gedeelte van die boek was dit nie duidelik vir hierdie leser of dit ’n reisjoernaal was teen ’n kunsagtergrond, of ’n kunskatalogus met reis as tema nie. Soms het al die vreemde name heeltemal oorweldigend geword. Is dit funksioneel in die sin dat kuns ook jou sinne oorweldig?

Lesers wat aanklank vind by Ingrid Winterbach en Etienne van Heerden se boeke sal sonder twyfel hierdie boek so gulsig lees as die gulheid waarmee dit geskryf is. Vin is selfs meer gewaagd as Botha se bekroonde distopiese debuutroman, Wonderboom. Hierdie boek vra vir ’n behoorlike herlees, om die sirkels van ons bestaan te bekyk deur Vin, want as die leser asemloos by die einde kom, neem dit jou weer terug na die begin.

As leser kon ek spoorsny op die lewe en ontheemdheid van Vin deur die oë van Lien Botha. Dit laat die leser ook die self konfronteer, met eie ontnugtering van die lewe wat nie altyd uitspeel soos in ons naïewe jongmensdrome nie.

Trisa Hugo is ’n skrywer en vryskutresensent van Kleinmond.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.