Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kwaksalwer-praktyke kry nie aandag hier

Lore of Nutrition

Tim Noakes & Marika Sboros

PENGUIN, R290

Niefiksie

Prof. Tim Noakes vroeër in die Baxter-teater in Kaapstad. Foto: Yunus Mohamed

Linus Pauling, Luc Montagnier. Tim Noakes.

Wat is die verband? Al drie is briljante wetenskaplikes. Pauling en Montagnier het die hoogste kruin bereik met die toekenning van die Nobelprys. Noakes het as sportwetenskaplike revolusionêre denke teweeggebring, sy internasionale status gevestig.

In die beoordeling van loopbane weeg jy prestasies nie in isolasie nie; op die skaal beland nie net goudklonte nie, maar ook grint uit die wetenskaplike delwer se sif. Hoewel Einstein se relatiwiteitsteorie sy roem gevestig het, is sy foute nie vergete nie. Sy beskrywing in 1917 van ’n statiese heelal is in 1929 deur Edwin Hubble verkeerd bewys. Einstein het die fout as “my greatest blunder” beskryf.

Kwaksalwery werp ook soms skaduwees oor die loopbane van knap wetenskaplikes. Pauling verkondig in sy laaste jare vitamien C kan kanker voorkom; hy is op 93 dood aan prostaatkanker, ondanks ’n daaglikse gebruik van tot 40 000 mg.

Montagnier is deesdae meer in die nuus omdat hy hom heelhartig skaar by die anti-inentingsveldtog wat outisme onwetenskaplik koppel aan inentings. So verkeer hy saam met glanspersoonlikhede soos Jenny McCarthy, Oprah Winfrey, Robert De Niro, Jim Carrey en ander medies onkundige kwaksalwers.

Lore of Nutrition is ’n goeie voorbeeld van toeganklike wetenskapkommunikasie, knap geskryf en met ’n magdom wetenskaplike data wat enige onkundige leser sal oorrompel – soos duidelik blyk uit die kultusaanhang wat Noakes het, met Sboros, sy medeskrywer, ’n onkritiese volgeling wat duidelik te lank ’n leefstyljoernalis is, die afdeling in die media waar die ergste kwaksalwery verkondig word.

Diëte en dieetboeke is kenmerkend van kultusvorming en wemel dikwels van onwetenskaplike uitsprake en kwaksalwery. Lore of Nutrition gee ongelukkig nie aandag aan die kwaksalwerpraktyk en -metodes wat ook deel is van Noakes se laekoolhidraat-hoëvetdieet (LCHF) nie, blindelings geïgnoreer deur sy kultusvolgelinge. Hier is net ’n paar:

  • Noakes glo so vas aan sy nuutgevonde dieet dat hy ’n fundamentele beginsel van wetenskapbeoefening verontagsaam. Wetenskap is ’n voortdurende proses van herevaluering van bestaande bevindings; dit duld nie sensuur nie. Die LCHF-dieet is inderdaad ’n herbesoek van die rol wat koolhidrate, vet en cholesterol in voedingkunde speel. Maar sy en Sboros se boek gaan mank aan enige verwysing na moontlike nadelige langtermyngevolge. Bewese mediese bevindings geskied oor dekades, selfs generasies en belangrike studies, onder meer in die vaktydskrif Nature, wys noodsaaklike bakterieë in ons ingewande word deur die dieet binne ’n enkele generasie vernietig. Hy pas sensuur toe deur kritici se menings op sy Twitter-rekening te blokkeer sodat sy volgelinge nie daardie kritiek kan lees nie; en dikwels is dit juis kritiek deur gerekende wetenskaplikes. Wetenskap is ’n lewendige, debatvoerende stelsel wat elke aanspraak op die skaal weeg of dit genoegsame bewyse bevat. As nuwe bevindings bestaande teorieë omverwerp, sensureer ons dit nie, maar soek bewyse voordat dit aanvaar word. Carl Sagan vra elkeen moet ’n onsinverklikker aanskaf want die hart van die wetenskap is ’n essensiële balans tussen twee oënskynlike botsende houdings – ’n openheid tot nuwe idees, maak nie saak hoe bisar of kontra-intuïtief nie.
  • In 2014 neem Noakes op die Franschhoekse Boekefees deel aan ’n debat met sy mentor, prof. Lionel Opie. Op ’n vraag uit die gehoor gee hy die versekering dat “as jy ’n hoëvet-dieet jou hele lewe lank volg, sal jy nie diabetes, nie kanker, nie demensie kry nie, dit kan ek jou waarborg”. Dit is hoogs gevaarlik vir enige mediese wetenskaplike om enige absolute waarborge oor gesondheid te gee; meer nog, geen waarborge bestaan teen kanker nie; verstommend onwetenskaplik.
  • Soos by Montagnier bestaan tekens dat Noakes hom in die anti-inentingsveldtog se kamp begeef. In ’n onderhoud met Gareth Cliff op 29 November verlede jaar sê hy openlik geen bewyse bestaan dat inentings veilig is nie en vermy hy direkte antwoorde of hy dink inentings lei tot outisme; dit sluit aan by sy ontduiking van direkte vrae op Twitter of hy ’n anti-inentingsondersteuner geword het kort nadat sy kwaksalwer-kenmerke op die eerste internasionale konferensie oor kwaksalwery en pseudowetenskap op Stellenbosch in referate uitgelig is.
  • Soos ’n tipiese kwaksalwer wend Noakes hom tot samesweringsteorieë wanneer hy gekritiseer word. As dit nie die suikerbedryf is nie, is dit sy kollegas by die Universiteit van Kaapstad, of die Centres for Disease Control and Prevention (CDC) in Amerika oor die teenwoordigheid van Thimerosal in kinderinentingsmiddels, al kom dit sedert 2001 nie daarin voor nie, ’n feit wat Noakes gerieflik verswyg.
  • Noakes se een medeskrywer aan die topverkoperboek The Real Meal Revolution is Sally-Ann Creed, glo ’n opgeleide voedingkundige volgens die publisiteitsmateriaal van die boek; dus betroubaar as wetenskaplike oor diëte en voeding? Creed meld sy het ’n nagraadse kwalifikasie in voedingkunde, maar sy weier om detail oor haar voorgraadse opleiding te gee. Haar nagraadse kwalifikasie is by die Australiese korrespondensiekollege van die International Academy of Nutrition. Toelatingsvereistes: “Candidates should have com­pleted studies equivalent to uni-versity entrance or final school year standard. However, all applicants will usually be accepted” (my kursivering).

Die boek gee uitvoerig aandag aan die saak oor sy nou berugte kinderadvies-twiet wat die voedingkundige Claire Strydom teen Noakes voor die Gesondheidsberoepsraad gemaak het. Strydom en almal wat Noakes wou kruisig, moes liewer TS Eliot se woorde gelees het in Murder in the Cathedral: “Saint and Martyr rule from the tomb.” Noakes en Sboros se boek is ’n eensydige hagiografie van ’n wetenskaplike teorie waaroor daar bittermin langtermynnavorsing bestaan. Die boek is nie gebalanseerd nie en behoort met jou onsinverklikker aangeskakel gelees te word.

* Koop die boek hier by takealot.

  • George Claassen is ’n bekroonde wetenskapjoernalis en direkteur van die Sentrum vir Wetenskap- en Tegnologiemassakommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Tim Noakes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.