Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
KYK: Boek neem Dewani se saak weer onder loep

Het Shrien Dewani weggekom met moord?

Dít is die belangrike vraag wat ’n forensiese konsultant en siviele ingenieur probeer beantwoord in hul jongste boek wat handel oor hierdie internasionale hofsaak wat in 2014 in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor is.

The Bloodied Bride – Did Shrien Dewani Get Away With Murder? is deur Thomas en Calvin Mollett geskryf en is as ’n e-boek gepubliseer.

Thomas is ’n onafhanklike forensiese konsultant en ondersoeker en Calvin is ’n siviele ingenieur. Hulle het al verskeie boeke oor hoëprofielsake, soos die Inge Lotz-moordsaak en Oscar Pistorius, gepubliseer en het ook ander sake soos die Jason Rohde- en Henri van Breda-saak bestudeer.

Dewani is op 8 Desember 2014 ná ’n suksesvolle aansoek om ontslag vrygespreek vir die moord op sy vrou, Anni Hindocha (Dewani).

Dewani en Anni is in Oktober 2010 getroud en hulle het na Suid-Afrika gekom vir hul wittebrood.

Shrien Dewani en Anni Hindocha op hul troudag op 2 Oktober 2010 in Indië. Foto: Argief

Die aand van Anni se dood op 13 November 2010 is die taxi waarin hulle gery het in Gugulethu in Kaapstad gekaap.

Hulle het aandete in die Strand gaan eet, en op pad terug het Dewani die taxibestuurder gevra om hulle na ’n plaaslike kroeg in Gugulethu te neem.

Daar is hulle gekaap en Anni is in die proses doodgeskiet.

Vier mans – Zola Tongo, Mziwamadoda Qwabe, Xolile Mngeni en Monde Mbolombo – is in hegtenis geneem en vervolg terwyl die staat vier jaar gesukkel het om Dewani aan Suid-Afrika uitgelewer te kry. Hulle het later beweer Dewani was die baasbrein agter die moord. Hulle is sedertdien gevonnis. Mngeni is sedertdien in die tronk dood en Mbolombo is as staatsgetuie nie vervolg nie.

Dewani is in 2014 uitgelewer en die verhoor het in Oktober begin. Dewani het ’n aansoek om ontslag ingedien wat regter Jeanette Traverso toegestaan het. Hy is dadelik terug Engeland toe.

Vir Thomas en Calvin Mollett was dit egter belangrik om na die forensiese bewyse te gaan kyk en verder ondersoek in te stel om baie onbeantwoorde vrae te verduidelik.

Die voorblad van die e-boek ‘The Bloodied Bride’. Foto: Verskaf

Traverso het gedurende die verhoor verskeie van die staat se bewyse nie toegelaat nie en volgens die Mollett-broers, het sy die staat se “hoender doodgemaak voordat dit kon eiers lê”.

Met ander woorde sy het nie die staat die geleentheid gebied om sy saak ten volle en as geheel aan te bied nie, aldus die broers.

Luidens die broers was dit hul doel om Dewani se weergawe te toets juis omdat dit nog nooit gedoen is nie. Hy het nie in die hof getuig nie en daarom het die broers al die bewyse gevat en dit teen Dewani se verklaring, media-onderhoude en sy pleitverduideliking getoets. ’n Opname van ’n familiegesprek ’n week ná Anni se moord is die kern van die boek. In die opname ontmoet Dewani Anni se familie en dit is hier waar die Mollett-broers aanvoer hy belangrike inligting van hulle weerhou het.

In die boek vergelyk hulle die verhouding tussen Tongo en Dewani op die dag van die moord en ook wat Dewani ná die tyd oor hom gesê het.

Ook die beweerde geld wat Dewani vir hom in ’n koevert gegee het as “betaling vir ’n helikopter-uitstappie”, wat Dewani ook eers vier jaar ná die voorval bekend gemaak het.

Volgens die broers was dit nie ’n mislukte kaping nie omdat die beskuldigdes al die tyd in die wêreld gehad het om die plan uit te voer.

Die boek is beskikbaar by TheBloodiedBride.com en ThomasMollett.com

Meer oor:  Shrien Dewani  |  Kaapstad  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.