Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
KYK: Dís waarom misdaadfiksie so gewild is

Resensente wat hom maan “om op te pas” vir ander misdaadskrywers op sy spoor, maak nie sin nie, sê Deon Meyer.

“Waarvoor met ek nou oppas?” vra dié gewilde skrywer.

Hy meen daar is geen mededinging tussen skrywers nie. Daar is plek vir al die skrywers in die misdaadgenre en resensente wat anders suggereer, verstaan nie “krimi”-lesers nie.

“Inteendeel, dit is hoekom ek so trots is op dié twee kollegas van my. Hoe meer mense ons in boekwinkels kan inbring, hoe beter is dit vir ons almal.”

Meyer was Saterdag op ’n seldsame geleentheid in Bloemfontein in gesprek met twee ander groot Afrikaanse misdaadskrywers, Rudie van Rensburg en Chris Karsten, met Gert Coetzee, Volksblad se redakteur, as gespreksleier. 

Al drie skrywers het immers hul loopbaan by dié koerant begin.

The Blue Gem in die Prellerplein-sentrum het uit sy nate gebars van boekliefhebbers wat kom luister het na dié drie skrywers wat vir die eerste keer in 40 jaar weer bymekaar was.

Geen krimi-leser lees net een skrywer nie, het Meyer gesê. 

“As geesdriftige leser van misdaadfiksie soek ook ek voortdurend nuwe, lekker skrywers.”

Van Rensburg sê Meyer en Karsten het hom geïnspireer om ook te skryf.

“Nie dat ek hulle ooit kon nadoen nie.

“Een van die beste eindes was in Die afreis van Abel Lotz, die laaste boek in die Abel-trilogie van Karsten, waar een van die karakters die polisie bel en sê: ‘Ons het vier linkervoete gekry.’ Dis great!”

Karsten sê vir elke krimi-skrywer is daar ’n nis.

“Ons probeer net mense kry om Afrikaans te lees, en hoe meer daar van ons is wat skryf, hoe meer opgewondenheid is daar oor boeke en Afrikaanse boeke, hoe meer voete kry jy in boekwinkels. Dit is al wat ons wil hê.”

Van links gesels Gert Coetzee, Volksblad-redakteur, Saterdag met die misdaadskrywers Deon Meyer, Rudie van Rensburg en Chris Karsten in The Blue Gem in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Wanneer kom Meyer se eerste digbundel?

Karsten het tong in die kies vir Meyer gevra wanneer hy sy (Meyer se) eerste digbundel kan lees, waarop dié geantwoord het: “Chris, nooit nie. Ek is nou heeltemal woordeloos.”

Coetzee het ook die skrywers gepols oor hul skryfproses, karakterskepping en die oorgang van joernalistiek na die wêreld van fiksie. 

Karsten het onder meer sy teorie gedeel oor waarom misdaadfiksie so gewild is in Suid-Afrika, met die “pandemie van 50 mense wat daagliks gewelddadig sterf”.

Hy het in sy navorsing agtergekom lesers van misdaad is nie net na ontspanning op soek nie, maar ook na orde.

“In ’n artikel in The New Yorker het ’n skrywer ’n mooi woord gebruik. Hy’t gesê misdaadfiksie is ’n minuet tussen orde en chaos.”

Daar is eers chaos en namate die boek vorder, word orde geskep.

“ ’n Skrywer van sulke boeke het ’n verpligting, ’n kontrak met sy lesers. Aan die einde gáán die slegte ou gevang word. Dit maak nie saak of die boek ’n oop einde het nie, daar moet ’n aanduiding wees wie die slegte ou is en dat hy aan die pen gaan ry.”

In Suid-Afrika, daarenteen, word ’n klein persentasie van die moorde opgelos, sê Karsten. “Maar in ons boeke sien lesers dat daar iets gedoen word aan ’n moord.”

Meer oor:  Deon Meyer  |  Vermaak  |  Boeke  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.