Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
KYK: Skrywer lees oor kletskamers en ewige liefde
Donatello & Volksie
Marion Erskine Foto: Sonya Olivier

Met sy boek Donatello & Volksie, wat onlangs heruitgereik is, wou die skrywer Marion Erskine ’n boek skryf wat mense lekker laat lag en van die wrede wêreld laat vergeet.

“Want daar is ’n wrede wêreld daarbuite,” sê Erskine oor die boek wat in 2010 die eerste keer by Queillerie verskyn het.

’n Leser het hom eendag gekontak om hom te bedank omdat die boek haar lewe gered het.

“Sy en haar man het lank probeer kinders kry. Sy het besluit om haar eie lewe te neem, want net te veel slegte goed het met haar gebeur. Haar suster het basies haar lewe gered en haar hospitaal toe geneem. In die hospitaal het sy net na die wit muur oorkant haar gekyk. Haar suster bring toe vir haar die boek, want dit het ’n kleurvolle voorblad gehad. Sy het gesê lees net iets om jou gedagtes hiervan af te kry.”

Die vrou het aan Erskine vertel dat hy die eerste mens is wat haar weer laat lag het. Elke keer wanneer sy ’n slegte dag het, lees sy uit die boek totdat sy lag.

“Dis waar die waarde van skryf inkom. Die boek het nou al meer as een persoon gekry om ’n bietjie anders na die lewe te kyk of net ’n bietjie van jou eie omstandighede te vergeet.”

Die verhaal speel af in die dae van kletskamers. Zoë, die hoofkarakter, sit op Oukersaand eensaam voor haar rekenaar. Onder die naam “Volksie” ontmoet sy op die Matchmate-webtuiste vir “Donatello”, ’n advokaat.

“Dit was voor Tinder en ander apps waarmee ’n mens maklik iemand in jou omgewing kon ontmoet het. Dinge het nog nie so vinnig versprei nie. Daar was iets opwindend daaraan dat iemand aan die ander kant van ’n rekenaar met jou kon gesels. Daar was nie so baie om op slimfone te doen nie."

Hulle het eers oorweeg om die boek op te dateer, sê Erskine.

“Toe besef ons egter dat die draad van die storie is dat hierdie twee karakters nie genoeg van mekaar geweet het nie. Baie van hul ontdekkingsreis was juis om mekaar aanlyn te leer ken.

“As jy dit moderniseer, gaan jy wegneem van wat die oorspronklike storie behels het.”

Op die heruitgawe se flapteks word genoem in watter tyd die storie afgespeel het, met die doel om ook ’n soort nostalgie teweeg te bring.

Donatello & Volksie
Donatello & Volksie deur Marion Erskine.

“Ek dink in daardie tyd was dinge nog anders,” sê Erskine.

“Dit was voor Tinder en ander apps waarmee ’n mens maklik iemand in jou omgewing kon ontmoet het. Dinge het nog nie so vinnig versprei nie. Daar was iets opwindend daaraan dat iemand aan die ander kant van ’n rekenaar met jou kon gesels. Daar was nie so baie om op slimfone te doen nie.

“Dit was ’n kort rukkie wat mense so aanlyn kon kuier. Daardie tyd het jy mense beter leer ken voordat jy hulle in lewende lywe ontmoet het. Die groot ding was ook dat jy dikwels ’n ou foto vir iemand gestuur het, want jy het nie ’n selfoonkamera gehad om ’n opgedateerde foto te kan deel nie of iets wat nou dadelik gebeur het nie,” sê hy.

“Baie mense het mekaar ontmoet vir dates en dan het hulle glad nie gelyk soos op die foto’s wat hulle vir mekaar gestuur het nie.”

Erskine het ook onlangs ’n video op sosiale media geplaas waarin hy ’n gedeelte uit die boek voorlees.

Een van sy gedagtes met die skryf van hierdie gedeelte was hoe dit is om vir ewig verlief te wees.

“Ek het besluit dat Volksie dieselfde vraag gaan vra. Zoë gaan vra wat is die geheim van party mense, ook in vandag se tyd – dat ’n man net na ’n vrou kyk en hulle net heeltemal verlief op mekaar kan wees. Wat is hul geheim? ’n Mens sien so min daarvan deesdae.”

* Donatello & Volksie word deur Queillerie uitgegee en kos R215.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.