Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekpryse: Drie debute dubbel benoem

Die kortlyste van die kykNET-Rapport- en Jan Rabie-boek- pryse vir die beste Afrikaanse fiksie en niefiksie van 2018 is pas bekend gemaak.

Lodewyk G. du Plessis

Met hul grensverskuiwende debuutromans het die skrywers Lodewyk G. du Plessis (Die Dao van Daan van der Walt), Charl-Pierre Naudé (Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey) en Chase Rhys (Kinnes) pas die kortlys in twéé kategorieë van die gesogte kyk­NET-Rapport-boekpryse gehaal.

Lodewyk G. du Plessis, die skrywersnaam van oudregter Andries Buys, wat met sy debuutwerk reeds die Eugène Maraisprys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk, die W.A. Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie én die UJ-debuutprys ontvang het, en Charl-Pierre Naudé, wenner van vanjaar se UJ-prys, is benoem vir sowel die kykNET-Rapportprys vir fiksie as die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede fiksiewerk. Chase Rhys is vir die Jan Rabie-Rapportprys én die filmprys benoem.

“Daar sal teruggekyk word na 2018 as die jaar van die groot debute. Mog dit die begin wees van ’n gans nuwe blomtyd in ons letterkunde,” het die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz, in reaksie gesê. Volgens haar was die keurders verras deur die verskeidenheid, diepgang en nuwe perspektiewe wat veral aan die fiksiekant na vore gekom het.

Charl-Pierre Naudé

Die sterk mededinging in die debuut­kategorie het ook meegebring dat die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys vanjaar uitgebrei is tot vier titels.

Die pryswenners word op Saterdagaand 14 September 2019 in Kaapstad bekend gemaak, waar die wenners van die fiksie- en niefiksieprys elk R250 000 sal ontvang. Die prysgeld vir die kykNET-Rapport-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys beloop R125 000 elk.

Die kykNET-Rapport-boekpryse is ingestel as aansporing vir skrywers in Afrikaans om steeds vernuwend en verbeeldingryk gestalte te gee aan verhale wat erkenning verdien as bakens in die Afrikaanse letterkunde.

Ingrid Winterbach

kykNET-Rapportprys vir niefiksie

* Ingrid Jonker:  ’n Biografie deur Petrovna Metelerkamp (Penguin)

* Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Veary (Tafelberg)

* Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd (Tafelberg)

kykNET-Rapportprys vir film

* Prooi deur Deon Meyer (Human & Rousseau)

* Kinnes deur Chase Rhys (Kwela)

* Stormkind deur Riana Scheepers (Tafelberg)

Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke

* Die Dao van Daan van der Walt

* Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

* Stof deur Alettie van den Heever (Queillerie)

Petrovna Metelerkamp
Jeremy Veary
Wilhelm Verwoerd
Chase Rhys
Riana Scheepers
Alettie van den Heever
Deon Meyer

Die keurpaneel

Fiksie: Prof. Thys Human (NWU), die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven, prof. Louise Viljoen (US) en Darryl David (UWK).

Niefiksie: Die skrywer Valda Jansen, prof. Andries Bezuidenhout (Fort Hare-Universiteit), prof. Herman Wasserman (UK) en die rolprentvervaardiger Herman Binge.

Filmprys: Die regisseur Gerrit Schoonhoven, die rolprentvervaardiger Herman Binge en Tina Kruger (kykNET).

Jan Rabie-Rapportprys: Die ouduitgewer Alida Potgieter, prof. Steward van Wyk (UWK) en die skrywer en joernalis Danie Marais.


Meer oor:  Chase Rhys  |  Wilhelm Verwoerd  |  Kinnes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.