Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘La dolce vita’ wink in reis

Fiksie

Stillewe

Marie Spruyt

LAPA, R250

Marie Spruyt se Stillewe spring teen die regte pas weg en daar is gou die belofte van ’n stórie.

Lizette de Klerk is ’n reisende joernalis, ’n leefstyl wat groot opwinding inhou. Lizette ontdek ’n brief wat deur haar oupa, wat in die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika en Italië geveg het, geskryf is. Hy is in Italië gewond en die De Lucas-gesin het hom onder hul vlerk geneem. Wat presies in dié tyd gebeur het, is heerlik enigmaties.

Lizette besluit om, soos haar oupa in sy brief gevra het, die De Lucas-gesin te besoek en ’n bedrag geld aan hulle te oorhandig. Sy sal haar broer, Dawid, wat kuns in Italië studeer, ontmoet – en ook die kunsdosent en amper-eksentrieke Alphonso Lombardi, ’n “Afrikaanse Italianer” by wie Dawid loseer.

Die geheim oor wat destyds met oupa Izak in Italië gebeur het, dryf albei verhaallyne – hede en verlede – en die bevredigende oplossing bring die twee tydperke netjies byeen.

Op die vlug na Italië wonder Lizette of haar broer gay is en ’n verhouding met sy vriend Nathan het. Dié aspek van Stillewe, soos die mans wat vroeg in die verhaal figureer, word nie behoorlik uitgespeel nie, maar dis die skrywer se voorreg om eerder ánder aspekte van die verhaal te ontgin.

Daar is dinge wat Stillewe nié is nie. Die terugblikke na die verlede uit oupa Izak se perspektief word “vertel” eerder as wat lesers dit aktief meeleef. Dis vergeeflik omdat dié sekwense juis vertellings en dikwels in briefvorm is; dis boonop goed dat die trant van die terug­blikke­ verskil van die onmiddellikheid van vertellings in die hede. Die terugblikke kon wel “avontuurliker” gewees het – maar Stillewe is nie ’n avontuurverhaal nie.

Vroeg in die verhaal is daar seksuele speling, maar nooit ’n volledig romantiese spanningslyn nie. Die tikkie erotiek teen die einde voel byvoorbeeld soos ’n cop out – maar Stillewe is ook nie ’n liefdesverhaal nie.

Die verhaal voel soms ámper te veel soos ’n geskiedenisles, maar die skrywer kom daarmee weg omdat dié sekwense interessant en funksioneel is. Die reisbeskrywings – ten koste van sterker intrige en spanningslyne – sou in baie boeke dalk opdringerig voorkom, maar Stillewe ís deels ’n reisbeskrywing.

Die geheim oor wat destyds met oupa Izak in Italië gebeur het, dryf albei verhaallyne – hede en verlede – en die bevredigende oplossing bring die twee tydperke netjies byeen. Daar kon wel sterker wisselwerking tussen die twee storielyne gewees het. Die tikkies lewenswaarheid na aan die einde: “Ek hoef nie kant te kies, mense is soos hulle is. Goed én sleg.” (bl. 290) is nie juis aardskuddend nie, maar in die konteks van die boek is dit geldig.

Die vertelstyl is onderhoudend en soms heel sjarmant; dit bied ’n gemaklike leeservaring aan verdraagsame lesers.

J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.