Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Laaste Duitse boekwinkel in Kaap sluit
Van die Duitse kinderboeke wat in Buchhandlung Naumann verkoop is. Foto: Facebook

Die Duitse boekwinkel Buchhandlung Naumann, wat bekend is as “die mees suidelike Duitse boekwinkel in Afrika”, gaan einde vandeesmaand sy deure in Kaapstad sluit.

Die boekwinkel in Tamboerskloof is in 1959 deur Ulrich Naumann begin en voer sedertdien Duitse boeke en tydskrifte vir Duitssprekende Suid-Afrikaners en buitelanders na Kaapstad in.

Volgens Andrea Schmidt, wat die leisels van die winkel in 2014 by Naumann se seun, Reinhard, oorgeneem het, was die winkel tot ’n paar jaar gelede nog gewild; dit was daarom moeilik om haar nou by die onderneming se onvermydelike lot te berus.

“Toe ek aanvanklik die besluit geneem het (om die winkel te sluit), was ek hartgebroke, maar ek het nou vrede daarmee gemaak,” sê Schmidt, oorspronklik van Berlyn.

“Dit was nie ’n hartsbesluit of omdat ek die land verlaat of weens enige ander rede nie – die winkel sluit geheel en al weens ekonomiese redes.”

Schmidt sê 2018 was een van die eerste jare wat “nie maklik was nie”.

“Baie Europeërs het weens die waterkrisis nie meer na Kaapstad gereis nie en baie Duitsers wat hier in Kaapstad gewoon het, het óf besluit om weer na die buiteland te verhuis, óf die oorgrote deel van die jaar in die buiteland deurgebring. Ons het dít aan ons sak gevoel,” sê sy.

Hoewel die winkel volgens haar nie ’n seisoenale onderneming was nie, het hulle ook in 2018 tussen Mei en Augustus ’n swak seisoen gehad; daarby het ’n “krisis” ontstaan toe die prys van boeke en tydskrifte, brandstof, invoerkoste én BTW van 14% tot 15% gestyg het, “wat alles ’n reuse-impak op ons gehad het”.

Ons grootste mededingers is eintlik (Duitse) oumas en oupas wat vir hul kinders en kleinkinders in Suid-Afrika kom kuier en vir hulle boeke saambring.
Andrea Schmidt

Schmidt sê sy het uiteindelik in die laaste kwartaal van 2019 besef die skrif is aan die muur.

“Ek het deur ons (finansiële) boeke vir 2019-’20 gewerk en tot die slotsom gekom dat ons mense steeds sou geld skuld, al verkoop ons al ons voorraad teen volprys.

“Ek moes toe besluit of ek nog ’n swak jaar wil aandurf – en het eindelik tot die slotsom gekom dat ek op ’n finansiële en emosionele vlak eenvoudig nie daarvoor kans sien nie.”

Sy het haar drie werknemers kort daarna in November ingelig dat hulle hul werk gaan verloor.

Volgens Schmidt sluit die winkel én hul aanlyn winkel nié weens ’n plaaslike of aanlyn mededinger wat hulle uit die mark verdryf het nie.

“Ons grootste mededingers is eintlik (Duitse) oumas en oupas wat vir hul kinders en kleinkinders in Suid-Afrika kom kuier en vir hulle boeke saambring,” sê sy.

“Tot ’n paar jaar gelede nog, was mense ook nie so mobiel soos hulle vandag is nie: Nou ken almal iemand wat oorsee reis en ook vir hulle ’n boek kan saambring.”

Schmidt en haar span hou tot 28 Februarie, tussen 08:00 en 16:30, ’n uitverkoping in die boekwinkel in Kloofnekstraat 91 om van hul laaste voorraad ontslae te raak. Die winkel sal amptelik op 29 Februarie sluit.

Die Duitse boekwinkel K&P Lohmiller in die Cresta-winkelsentrum in Johannesburg sal daarna vermoedelik die laaste Duitse boekwinkel in Suid-Afrika wees.

  • Vir meer inligting oor Buchhandlung Naumann se laaste boekuitverkoping bel 021 423 7832.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.