Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Laat ons oor nóg sterre lees

Jonathan Ball-uitgewers se ‘Road to Glory’-reeks is ’n blink plan om vir kinders meer inligting te gee oor die sportsterre wat hulle bewonder, maar ná die sesde boek oor Chad le Clos het Stella Malan ’n paar voorstelle om die reeks nóg beter te maak.

Chad le Clos: Road to Glory deur Jeremy Daniel. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R100.

Chad le Clos. ’n Suid-Afrikaanse swemmer wat goed is in vlinderslag. Dít is omtrent al wat ek geweet het toe ek die boek Chad le Clos: Road to Glory opgetel het. Maar die voorblad het my genoeg geïnteresseer om dadelik my foon neer te sit.

’n Uur later was my kop vol kennis en bewondering vir Chad – nie net oor sy prestasies in die swembad nie, maar ook oor sy uithouvermoë en hoe hy sy probleme oorkom het. Nou weet ek die goed wat die meeste mense weet, soos dat Chad in 2012 vir Michael Phelps van sy troon afgeswem het en dat sy pa vir die woord “unbelievable” bekend is, maar ek weet ook ’n klomp dinge wat nié algemene kennis is nie.

Chad het byvoorbeeld eers op agt met swemlesse begin nadat hy op ’n strand in Durban gewys het wat in hom steek. Ek weet ook hy het op agt dieselfde swemafrigter gehad as op 25 en dat albei sy ouers net voor die Olimpiese Spele in 2016 kanker gekry het en dat Chad toe nie eens in die 200 m-vlinderslag ’n medalje kon wen nie. Ek weet ook Chad het op tienjarige ouderdom omtrent drie uur lank na dieselfde video van Phelps gekyk om uit te vind wat sy swak punte is.

Hierdie boek is die sesde in die reeks en die eerste een wat op watersport fokus.

Die feit dat ek so min van Chad le Clos geweet het, selfs al stel ek belang in swem, wys die meeste kinders weet nie regtig veel van ons land se sportsterre nie, al bewonder ons hulle. Jonathan Ball-uitgewers het dié probleem raakgesien en die Road to Glory-reeks begin wat kinders meer inligting gee oor die sportsterre wat hulle bewonder.

Hierdie boek is die sesde in die reeks en die eerste een wat op watersport fokus. Ek dink die reeks kan verbeter word deur meer boeke oor vrouesportsterre te skryf (uit die huidige sewe boeke in die reeks fokus net een op ’n vrou, Caster Semenya) en ook oor minder bekende sterre met interessante lewens, soos die gestremde swemmer Natalie du Toit of die swemmer Charlene Wittstock, wat later die prinses van Monaco geword het.

Waarvan ek hou, is dat die boek redelik kort is met groot letters en dit laat jou voel of jy die karakters ken. Jy raak hartseer as die karakters ly en voel gelukkig as hulle iets bereik. Nog ’n pluspunt is die chronologiese hoofstukke wat keer dat jong lesers gou deurmekaar raak. Die probleem met sulke eenvoudige boeke is dat die skrywers kinders partykeer onderskat en interessante inligting weglaat om dit eenvoudiger te maak. Daarom voel ek die boek is meer gepas vir kinders van agt tot 12, al sê die uitgewer dis gemik op tien- tot 14-jariges.

Die gebrek aan inligting wat my die meeste gepla het, is oor Chad se broers en suster. Sy suster, Bianca, word ’n paar keer genoem, maar ’n mens weet nie eintlik wat sy gedoen het in die tyd toe Chad rekords gebreek het soos eiers in ’n tuimeldroër nie. Chad het ook twee broers, Jordan en Justin, wat nooit eens in die boek genoem word nie. Dit het my geweldig geïrriteer, veral toe ek ná ’n bietjie navorsing agterkom Jordan is ook ’n swemmer!

Ondanks my klagtes het ek dié boek baie geniet en sal dit aanbeveel vir lesers effens jonger as ek wat belang stel in enige sport, maar veral swem, of mense wat net meer wil uitvind oor Chad le Clos en sy eksentrieke pa.

  • Stella Malan is ’n gr. 6-leerling aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Die ander boeke in die Road to Glory-reeks fokus op AB de Villiers, Wayde van Niekerk, Siya Kolisi, Hashim Amla, Caster Semenya en Percy Tau.
Meer oor:  Chad Le Clos  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.