
’n Ster in haar sak en ander kortverhale is onlangs deur Lapa uitgereik.
’n Afrikaanse kortverhaalbundel vir leerlinge wie se derde of vierde taal Afrikaans is, is onlangs deur Lapa uitgereik.
’n Ster in haar sak en ander kortverhale fokus op gr. 10-leerlinge wat Afrikaans Tweede Addisionele Taal neem, sê Marieta Nel van Lapa, wat die bundel saam met Bennie du Plessis en Liesbet Gelderblom behartig het.
Dit bestaan uit ou sowel as nuwe stories deur skrywers soos Christo Davids, Erns Grundling, Wendy Maartens, EKM Dido en P.J. Haasbroek.
“Dit is lekker stories wat iets om die lyf het,” sê Nel oor die vyfde kortverhaalbundel waarvan sy medesamesteller is.
“Die verhale bevat die perspektief van die tiener. Ons hoop dit sal in skole voorgeskryf word. Ons teikenmark is elke keer ’n sekere groep leerlinge.”
Elke verhaal word deur ’n paar begripsvrae vergesel asook biografiese inligting oor die skrywer.
Davids se verhaal “Johnny Hollywood” en Christine Barkhuizen-le Roux se verhaal “Groot dag” is nuwe verhale.
Die bundel se titel is die naam van Martie Preller se verhaal.
“Dit het dadelik reg geklink,” sê Nel.
“Die titel het net uitgespring. Dit handel oor ’n meisie wat met ’n klip in haar skooltas loop. Dis magies.”
Die verhale moet verskillende tieners se smaak bevredig.
“Dit is hoekom daar ook altyd ’n bietjie sport hier en daar voorkom, soos in ‘Die krieketkolf’ deur Erns Grundling.”
Die bundel se inleiding handel oor die kortverhaal as genre en die boek bevat ’n woordelys wat literêre begrippe verduidelik.
“Ons hoop dat dit belangstelling in die kortverhaal as genre sal bevorder. Volwassenes kan dit ook geniet. Dis ’n wonderwêreld wat wag om ontdek te word.”