Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lapa wil 'wênkbroue' laat lig
Johan Jack Smith Foto: Andre Badenhorst

Boeke wat dalk “die wenkbroue sal laat lig” en nie in ’n spesifieke genre val nie, word beplan vir Wênkbrou, ’n nuwe druknaam van Lapa-uitgewers.

Die eerste boek uit dié kraal word in Mei uitgereik met die publikasie van Réney Warrington se tweede roman, Smit Motors. Skrywers kan ook manuskripte voorlê.

“Lapa se hooffokus was vir baie lank romanzas, misdaadfiksie en jeugboeke,” sê Johan Jack Smith, uitgewer by Wênkbrou en ook die redakteur van die ATKV se tydskrif Taalgenoot is.

“Ons het in ’n stadium gevoel dat ons ’n bietjie wil uitbrei en diversifiseer. Die gedagte het by Izak de Vries en Sylvia de Wet (Lapa se bedryfshoof) ontstaan. Ons wou ’n bietjie wegbeweeg van die genres waarin ons gewoonlik werk, maar daar is nie nou minder aandag aan romanzas, misdaad of kinderboeke nie. Dit gaan nie afgewater word nie. Wênkbrou is ’n bykomende been.”

Tot dusver word sewe publikasies vir 2019 beplan. Dit sluit werke van debuut- sowel as gevestigde skrywers in.

“Ons begin redelik klein. Dit sal momentum kry soos wat ons aangaan. Dis ’n redelike groot taak om deur manuskripte te sif wat by Lapa is. As manuskripte voorheen ingedien is en dit nie in ’n spesifieke genre gepas het nie, het ons dit eers opsygeskuif. Ek sal nou moet gaan kyk of daar nog juwele versteek is wat ’n mens kan publiseer of mee kan werk.”

Poësie en Engelse boeke word ook ingesluit.

Die naam Wênkbrou is ’n idee van De Vries en De Wet.

“Dit sinspeel daarop dat dit die soort publikasies gaan wees wat die wenkbroue so ’n bietjie gaan lig,” sê Smith. “Ons gaan nie skroom om iets te publiseer wat dalk ’n bietjie omstrede gaan wees nie.”

Dit is ook ’n bietjie tong in die kies bedoel.

“Deesdae is dit in elk geval moeilik om met ’n literêre werk die wenkbroue te laat lig. Gebeur dit nog? ’n Mens moet nogal redelik ver gaan om te skok.”

Smith, ook ’n digter wie se verse in die bundel Nuwe stemme 6 opgeneem is, sal by die manuskripontwikkeling tot bemarking betrokke wees.”

’n Bewusmakingsveldtog word ook beplan sodat skrywers kan sien watter soort manuskripte Wênkbrou wil publiseer.

“Op die ou end glo ek ’n goeie storie hoef nie noodwendig in ’n kassie geplaas te word nie. Ons wil net so ’n bietjie wegbeweeg van die stereotipiese genres van fiksie. ’n Sterk manuskrip is ’n sterk manuskrip, of dit nou in ’n genre pas of nie.

“Dit val ook so reg in my kraal. Dit is die soort literatuur wat ek self lees.”

* Indien jy ’n manuskrip wil voorlê, kan jy ’n e-pos na JohanS@atkv.org.za stuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.