Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Léés dié radikale blik op SA verlede

As geskiedskrywing is Patric Tariq Mellet se ‘The Lie of 1652’ dalk feitelik en ideologies verdag, maar enigeen wat erns maak met ons land se bodem- en identiteitsproblematiek sal daarby baat vind om dié radikaal afwykende siening van ons herkoms en hede aandagtig te lees, meen Johann Kriegler.

The Lie of 1652: A Decolonised History of Land deur Patric Tariq Mellet. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R310.

Patric Tariq Mellet

Net op sy voorkoms dring hierdie boek hom reeds aan jou op – voorplat en rug gitswart met enorme vetdrukletters in so ’n vuilerige rooi – met ’n titel wat jou so uitdagend konfronteer dat jy onwillekeurig skerper fokus. Ná so ’n gespierde aanhef moet jy ten minste gehoor gee.

Bowendien is Patric Mellet se stem een waarna jy dalk moet luister, verál as jy nie met hom saamstem nie. Hy is ’n struggle-veteraan, ’n hardebaardaktivis met ’n besondere belang in die erfenis van ons inheemse bevolking en die voorkoloniale geskiedenis van die Kaap en sy mense. Sy gedissiplineerd-dialektiese siening verwoord hy ondubbelsinnig en onderhoudend.

Mellet se sentrale tema is dat die heersende – ofte wel wit – siening van ons land se geskiedenis deur kolonialisme en apartheid afgebuig is tot ’n onherkenbaar verwronge beeld van die werklikheid. Dit is volgens hom ’n waanbeeld wat die alomteenwoordige bestaan en onmisbare rol van gekleurde landgenote miskyk en voortgesette wit roofsug en uitbuiting verbloem. Die boek se naamgewende leuen van 1652, naamlik dat Jan van Riebeeck die Kaapse nedersetting van meet af moes vestig, is volgens die skrywer emblematies van talle der talle leuens betreffende die geskiedenis van ons land.

Die “gedekoloniseerde geskiedenis” wat hy hier oor 330 bladsye heen met erns en drif – en by tye amper geloofsoortuiging – aanbied, sal die gemiddelde leser bepaald nie aanstaan nie. Die taal is ideologies gelaai, eenogige menings word as feitestellings opgedis – meermale sonder bewysplaas – en die narratief is by tye kennelik ongeloofwaardig.

Dit is dan ook geen verrassing nie dat Dan Sleigh, ’n voorste gesaghebbende oor die geskiedenis van die Kaap onder die VOC, vir Mellet die stryd aangesê het in ’n volbladkoerantartikel (Die Burger, 31 Oktober 2020). Dit is ’n striemende aanval en weerlê saaklik stelling op stelling, ontbloot ’n opeenhoping van markante feitefoute en vernietig sodoende met vers en kapittel die geloofwaardigheid van die boek as geskiedskrywing. (Die opskrif by die artikel waarsku dienooreenkomstig: Lees op eie risiko. Myns insiens moet die waarskuwing eerder lees: Ignoreer op eie risiko.)

ONDANKS DIE BEVINDING dat The Lie of 1652 as geskiedskrywing feitelik en ideologies verdag is, trouens juis dáárom, sal enigeen wat erns maak met ons land se bodem- en identiteitsproblematiek bepaald daarby baat vind om hierdie radikaal afwykende siening van ons herkoms en hede aandagtig en geduldig te lees. Benader dit nie as geskiedskrywing nie, maar as ’n rare geleentheid om die verwysingsraamwerk, onuitgesproke (en moontlik selfs onbewuste) uitgangspunte en dryfvere van radikale swart Suid-Afrikaners van naby te bekyk. Mellet is nie ’n hierjy-straatpolitikus nie. Hy is, of doen hom betreklik geloofwaardig as sodanig voor, ’n ernstige navorser/denker en bied ons dus hier ’n gulde geleentheid om die onderbou van die “alternatiewe” geskiedenis klinies te deurgrond.

Gaan dwaal gerus in Mellet se akker.

Bowendien konfronteer hy die oorweldigende meerderheid wit Suid-Afrikaners met ’n beeld van ons geskiedenis waarvan ons nog nooit ’n snars verneem het nie. Wie van ons weet enigiets van die onderskeie Khoi- en San-groeperings, hul wedervarings aan die hand van die wit nedersetters en wat toe van hulle geword het? Wie was Jonker Afrikaner en die Oorlams Afrikaners, waar het hulle vandaan gekom, wat was hul taal en wat was hul rol in die Kaapse geskiedenis?

Wie was eintlik die Masbiekers en wat beteken hul naam? Ons hoor van eretoekennings van die Orde van Mapungubwe, maar wie weet eintlik wat en waar Mapungubwe was? Wie het nie gewonder hoekom daar twéé tuislande in die Oos-Kaap vir één Xhosa-volk moes wees nie en, daarmee saam, hoekom daar tot vandag toe nog onderliggende spanning in die Oos-Kaapse ANC is?

Maar daar is ’n dwingender aktuele rede om van die Mellet-gedagteskool kennis te neem. Die debat om die wysiging van art. 25 van die Grondwet gaan oënskynlik om grondwetlik-juridiese oorwegings, maar dis ’n dodelike oorvereenvoudiging om die debat daartoe te probeer beperk. Dit gaan eenvoudig nie om meningsverskille oor intellektuele konstrukte soos menseregte of die wesensinhoud van eiendomsreg nie. Dit gaan om oneindig dieperliggende, onuitspreekbare gevoelsake, die oerband tussen mens en bodem. Die haas atavistiese dreunsang in swart geledere oor grond is klinies-juridies beskou seer seker aanvegbaar, maar gaan lees die geskiedenis van Van Riebeeck tot 1994 uit Patric Mellet se oogpunt en jy begin verstaan hoekom Julius Malema die onteieningsnaar so vaardig kan tokkel.

Dis egter nie al nie. Vir dié van ons wat eenvoudig nie kan begryp wat die uittartende Rhodes-must-fallers se “dekolonisering” nou eintlik kan beteken nie, bied The Lie of 1652 ’n beginnershandleiding. Dit staan iedereen van ons vry om hierdie balhoriges se optrede te verfoei en hul aansprake te verwerp, maar dis stomweg onnosel en eenvoudig onverantwoordelik om dit nie te probeer verstaan nie. Jy kan sonder formele reaksie stilweg kennis neem van die geïdealiseerde Krotoa-verhaal of die outeur se aanspraak op ’n direkte afstammingslyn terug na haar en Autshumato (ook bekend as Herrie die Strandloper). Maar mites het ’n reële bestaan.

Een daarvan is Mellet se breë stelling dat wit mense grootword met die gedagte dat hul voorsate ’n leë land betrek het. Dis natuurlik ’n oordrywing wat later van dae bowendien vervang is deur ’n meer genuanseerde en ewewigtige siening dat daar wel enkele inboorlingstamme was, maar origens was die binneland onbewoon en onbenut. So, byvoorbeeld, illustreer wit weerstand teen pleknaamveranderings die uitgangspunt dat die betrokke plekke se ontstaan en bestaan uitsluitlik aan wit mense te danke is – dis húl dorp. Swart mense sien dit heel anders, en dis belangrik om deeglik kennis te neem van die siening wat Mellet voorstaan.

HY GAAN HAAL sy storie duisende jare terug toe die hele gebied suid van die Limpopo reeds deur vroeë Homo sapiens bewoon is en trek dit dan deur tot die hede. Sowat 1000 n.C. was daar ’n geleidelike migrasie van betekenisvolle getalle swart landbou-veetelers uit die noordweste – en effens later uit die noordooste – wat in aanraking kom met veeteler-Khoi en jagter-versamelaar-San. Leeg was die land bepaald nie.

Die deurlopende draad van die moderne geskiedenis is volgens Mellet een van gewelddadige uitsetting en ontheemding van inheemses deur koloniale én postkoloniale wit mense. Daarmee saam sien hy deurlopende uitbuiting van gekleurdes se arbeid, talente en kundigheid deur middel van wapengeweld, wetgewing en manipulasie.

Dit begin by formele slawerny en loop deur tot by formele apartheid. Terselfdertyd was daar sedert die beginjare onder Van Riebeeck voortdurende rooftogte en veediefstal-ekspedisies waardeur die inheemses se aardse besittings gebuit is deur die hebsugtige indringers. Hy trek dan die streep deur na wetmatige onteiening en uitsetting onder apartheid en verwoord reeds in die eerste sinne van die voorwoord “the loss of land, the loss of belonging and the loss of identity” van die krotbewoners op die Kaapse Vlakte.

Dit is tog seker vanweë hierdie belewing van ons gedeelde geskiedenis dat Helen Zille se uitlatings oor die deugde van kolonialisme so ’n heftige uitbarsting ontlok het. Mellet se verwronge en verbitterde paradigma is stellig vir die meeste Rapport-lesers verwerplik, maar dis ’n helder, samehangende en gemotiveerde uiteensetting van geskiedkundige perspektiewe en geboekstaafde alternatiewe feitestellings en standpunte wat hemelsbreed verskil van dit waaraan die oorgrote meerderheid wit Suid-Afrikaners gewoond is.

Die boek is aanbevole leesstof vir enigeen wat begaan is oor ons identiteitspolitiek in die algemeen en ook dié wat die interne wroeging van die DA beter wil verstaan, wat wil insien wie nou eintlik “Black” is soos bedoel in die strydkreet Black Lives Matter en wie nou eintlik “Black” genoeg is om voor in die ANC-soustou te mag staan.

Dit is ook feitlik verpligte leesstof as jy as belangstellende omstander vatplek wil kry aan die debat na aanleiding van die Kaapse onderwyser Glen Snyman, wat daarop staan dat hy ’n Afrikaan is en nie ’n bruin mens nie. Of dit nou ’n diepliggende beginselstandpunt is of dan wel ’n taktiese kunsgreep met die oog op bevordering weet ’n mens nie.

Die feit is dit het ’n kat in die duiwehok gegooi – of ’n sluimerende een wakker gemaak – en ’n belangrike debat ontketen. Mellet se breedlopende betoog in hierdie debat is dat die benaming of selfs begrip “bruin mens” so oor die jare deur kolonialisme en postkolonialisme vertroebel is dat dit geen sin maak nie. Volgens hom is daar nie ’n identifiseerbare afsonderlike groep wat dié benaming kan dra nie.

Inteendeel, voer hy aan, die Unieparlement het in 1911 by wyse van wetlike fiksie meer as 50 swart etniese groepe in nege taalgegronde groepe ingeprop en die nieblanke res van die bevolking tot “bruin mense” verklaar.

As gevolg van die voortdurende instroming van werkers, hetsy as slawe, inboekwerkers of onafhanklike immigrante, het daar van die vroegste tye ’n hele mengelmoes van dosyne etnisiteite, waaronder talle pikswart Afrikane van buite ons landsgrense, hulle hier tuisgemaak.

Dié is toe almal in 1911 onder één wetlik-gehekelde tjalie saamgeboender. Om dus te wil debat voer oor taal, kultuur, geloof, sosiale praktyke, politieke voorkeure – selfs benaming – by so ’n heterogene nie-groep is sinlose selfbedrog. Wat ook die ideologiese vertrekpunt of versweë opset van die skrywer, sy slotsom lyk nogal onomstootlik, ten minste lewensvatbaar en oorwegingswaardig.

As jou bloeddruk in bedwang is, gaan dwaal gerus in Patric Mellet se akker. Hy spreek miskien nie die lááste woord oor die meerderheid se belewing van ons gedeelde geskiedenis nie, maar vir die minderheid is dit dalk die éérste.

  • Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.
Meer oor:  Patric Tariq Mellet  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.