Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lees: Tom Dreyer se roerende wen-gedig aan sy oorlede vriend, Jaco Botha
Die skrywer en digter Tom Dreyer het die Avbob-poësieprys in die Afrikaanse kategorie gewen vir sy roerende gedig oor sy ontslape vriend, die skrywer Jaco Botha.

Die skrywer Tom Dreyer se aangrypende gedig “Slaap jy solank, dan hou ek die fort”, wat handel oor sy vriendskap en herinneringe aan sy vriend die ontslape skrywer Jaco Botha, het aan hom die Avbob-poësieprys in die Afrikaanse kategorie besorg.

Botha, ’n skrywer, digter, draaiboekskrywer en regisseur, het in 2016 sy eie lewe geneem.

“Hy was ’n baie goeie vriend van my, ná sy dood kon ek nie oor hom skryf nie. Die gedig was die eerste wat ek oor die verlies kon skryf,” het Dreyer gesê.

Die Engelse afdeling is deur die skrywer en digter Jaco Fouché gewen vir die gedig getiteld “A feeling like leaving harbour”.

Die jaarlikse kompetisie is in 2017 begin en is oop vir gedigte in elk van die 11 amptelike landstale. Avbob het die kompetisie begin om die dood en die invloed daarvan op die mens te probeer

Die digter en skrywer Jaco Fouché het die Avbob-poësieprys in die Engelse kategorie gewen.

verwoord. Vanjaar is 29 000 inskrywings ontvang. Volgens die beoordelaars was die kaliber van die gedigte wat ontvang is besonder hoog.

Avbob se Poësiegala is op 25 Julie in die St. George-hotel in Pretoria aangebied. Naas Dreyer is Gaireyah Fredericks in die tweede plek, Hélen Möller in die derde plek en Maretha Maartens in die vierde plek in die Afrikaanse kategorie.

In die ander nege kategorieë is die wenners: Ndebele: Mfana Solomon Skhosana; Xhosa: Simphiwe Ali Nolutshungu; Zoeloe: Halalisile Patience Mkhize; Sepedi: Kgabo Sebatjane; Suid-Sotho: Kaizer Tjokoane; Tswana: Thatayaone Dire; Swazi: Nokukhanya Mahlalela; Venda: Matodzi Fortunate Magoro; en Tsonga: Patrick Khosa.

Op die aand is die tweede volume van die kompetisie se gedrukte bloemlesing, I Wish I’d Said 2, bekend gestel. Dit is saamgestel deur die digter en hoofredakteur Johann de Lange en die akademikus en skrywer Mandla Maphumulo. Dit bestaan uit 101 gedigte met Engelse vertalings: 55 gedigte is in opdrag geskryf en 44 is gekies uit die tweede jaar se kompetisie. Twee gedigte van die !Xam-

digter, Diä!kwam is ingesluit ter huldiging van die Khoi-San-tale. Die omslag is geïnspireer deur die kunstenaar Keith Joubert, wie se kuns ’n uitdrukking is van sy aangetrokkenheid tot menslike kulture wat nou saam met die natuurlike omgewing bestaan het.

Die derde Avbob-kompetisie begin op 1 Augustus. Voornemende digters het tot 30 November die geleentheid om hul gedigte in te stuur. Besoek die webblad www.avbobpoetry.co.za vir meer inligting.

*Die bloemlesing kan by www.naledi.online bestel word of kontak 078 648 8616.

“Slaap jy solank, dan hou ek die fort”

Tom Dreyer

(vir jaco botha 17 sep 1972 – 19 okt 2016)

beteuterd soos twee pienk kwitansies

pas ontvang vir twaalf kopieë

van ons m.a.-verhandelings

dwaal ek en jy na die middel-kampus

van uct platane platane en ’n flitsblik

van die see onthou jy hoe jy daai aand

in ons gehawende flat neffens de waal-park

mooitjies vir jou ’n sigaret uit jou kwitansie rol

sodat jy weer behoorlik kan asemhaal?

onthou jy die nag toe ons bo enigiets op aarde

die more wou sien breek oor magersfontein?

met die wegtrek het jy nonstop gepraat

oor die verskille tussen fisante en patryse,

maar skuins ná drie was die maan kil

oor clanwilliam se water die more ver

patryse net so stom soos fisante ons was koud

en moerig individueel maar meestal vir mekaar

ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis staan

en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla dis

gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel nes daai

aand by die kknk toe jou trane so vryelik soos gemorste

whisky op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan

slaap eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

intussen sal ek nog vir ’n rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank ek

onthou kan jy met ’n halwe glimlag op jou gewel blý

staan: wagtend op daardie onverstaanbare golf wat toe

meer verwoestend as enige woord oor jou sou breek

Die skrywer en digter Tom Dreyer (links), wat die Afrikaanse afdeling gewen, die digter Daniel Hugo, redakteur van die kompetisie vir die Afrikaanse gedigte, en Frik Rademan (regs), die uitvoerende hoof van Avbob.
Van links na regs: Simphiwe Nolutshungu (Xhosa), Tom Dreyer (Afrikaans), Thatayaone Dire (Tswana), Kgabo Sebatjane (Sepedi), Matodzi Fortunate Magoro (Venda), Patrick Khosa (Tsonga); Mfana Skhosana (Ndebele), Kaizer Lucas Tjokoane (Suid-Sotho), Halalisile Mkhize (Zoeloe) en Nokukhanya Mahlalela (Swazi).

Meer oor:  Tom Dreyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.