Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lekker medisyne in ’n troostelose tyd

Al sal sommige Susan Coetzer se ‘Die uil in die ysbos’ as ligte leesstof beskou, moet dié nuwe roman nie onderskat word nie. Die kerntema is ernstig, maar dit word aangebied met ’n gevatheid wat Juliana Coetzer soms laat dubbel vou het van die lag.

Die uil in die ysbos deur Susan Coetzer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R325.

Maak jou reg, hierdie is ’n dik boek. Tog het die komplekse en by tye onstabiele hoofkarakter, Gracie-Jane Coetzee, my binne net 30 bladsye so totaal oorrompel dat ek dit nie kon neersit nie. ’n Mens kom mos gou agter as ’n skrywer moeite gedoen en haar hart en siel in ’n boek gestort het.

Hoewel sommige Die uil in die ysbos as ligte leesstof sal beskou, moet die roman nie onderskat word nie. Die kerntema is ernstig, maar dit word aangebied met ’n goeie skeut humor en ’n gevatheid wat die verhaal lig hou. Die skrywer handhaaf deurentyd ’n balans tussen humor en diepte. Ek het soms ’n traan gestort en ander kere dubbel gevou soos ek lag.

Ook het sy die vermoë om interessante karakters te skep; mense soos onsself en die mense wat om ons leef en met wie ons kan identifiseer. Gelukkig is niemand perfek nie. Coetzer se dialoog het my laat voel of ek mense in ’n restaurant afluister en my vasgenael gehou. Daar is ook spannende oomblikke in die verhaal, maar as leser voel jy aan daar sal ’n uitkoms wees.

Gracie is ’n kinderboekskrywer en -illustreerder wat aan ’n obsessief-kompulsiewe angsversteuring ly. Sy moet alles drie keer doen, want die getal drie laat haar veilig voel. Wanneer die angs haar beetpak, skrop en skuur sy die hele huis en pak dit in rye van drie. Daar moet selfs drie ysblokkies in haar whiskyglas wees waaraan sy haar daagliks vergryp.

Natuurlik val ’n obsessief-kompulsiewe versteuring nie uit die lug nie en traumas is deel van Gracie se geskiedenis. Die skrywer laat in die eerste helfte van die boek die venster daaroor op ’n klein skrefie oop. Die leser weet iets is aan’t kom en die eerste aanduiding word op bl. 96 gegee: “Die obsessief-kompulsiewe angsversteuring het op nege begin, onthou sy. Net ná die laaste Desembervakansie.”

Daar word ook van drie kinders melding gemaak, maar Gracie het net met die een, haar wederstrewige seun, kontak. Waar is Ada, haar middeldogter, dan? Ons weet haar oudste dogter was tydens die geboorte reeds dood. Wanneer Gracie van haar seun se skoonouers praat, is dit so goed of hulle karakters uit ’n Seder val in Waterkloof is. Die vername mense, “twee humorlose liniaal-in-die-hol snobs” (bl. 99), sien hooghartig neer op Gracie met haar Crocs en boheemse geaardheid. Daar is ’n toneel wat afspeel in ’n badkamer waar Gracie en die vername skoonma die twee toilette langs mekaar beset wat my laat skaterlag het.

Hoewel dit op die voorplat “ ’n sprokiesroman vir grootmense” genoem word, hou dit ’n mens vas in die koue werklikheid van daardie tyd.

Wanneer hierdie hovaardige mense se geraamtes uit die kas tuimel, is dit Gracie wat tot die redding van haar seun en sy kil vrou kom.

Ek het baie lekker gelees aan die kinderverhale wat Gracie besig is om te skryf vir haar nuwe boek. Dit voel soos ’n groot bederf, hierdie paar kinderstories binne die roman. (Dit sal my nie verbaas as die skrywer kinderboeke ook by haar oeuvre voeg nie.)

Die verhaal speel af net vóór en ten tyde van die inperkingstyd. Hoewel dit op die voorplat “ ’n sprokiesroman vir grootmense” genoem word, hou dit ’n mens vas in die koue werklikheid van daardie tyd. Ons word herinner aan die werkverlies, positiewe gevalle wat by die dag styg, sterftes, die verbod op reis en byeenkomste en hongersnood. Gelukkig word dit andersyds ook lig aangebied wanneer Gracie skryf van haar en haar vriende se bekommernis oor die alkohol wat minder word en slim truuks om sigarette in die hande te kry. En hoe 'n pakkie sigarette die beste geskenk word wat jy jou vriend kan gee.

Die krag van Die uil in die ysbos word opgesom deur die aanhaling aan die begin: “Call it a clan, call it a network, call it a tribe, call it a family: Whatever you call it, whoever you are, you need one.” Want op verskillende oomblikke in Gracie se lewe is dit mense se betrokkenheid wat die verskil maak. Haar ouma wat in ’n jong Gracie se onstabiele lewe ingryp en die angsversteuring in bedwang bring, die eksman se besoek om die nuwe kleinkind te ontmoet wat die klarigheid gee oor die beëindiging van hul huwelik, asook vriende wat opdaag met ’n bottel whisky wanneer die nagte lank is en die angs onbeheerbaar. En uiteindelik is dit sy wat uitkoms bring vir haar seun en sy nuwe gesin in ’n moeilike tyd.

Uit hierdie daad spruit noodsaaklike gesprekke wat haar seun berusting gee en hul verhouding herstel. Uiteindelik is dit ook Gracie wat vergifnis ervaar en stabiliteit in haar lewe kan kry.

Die uil in die ysbos is ’n lekker boek en die perfekte medisyne vir hierdie troostelose tyd waarin ons leef.

* Juliana Coetzer is ’n skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont.

Meer oor:  Susan Coetzer  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.