Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lekkerte in lees én kyk

’n Goeie kinderboek voer die leser weg na ’n ander wêreld en versoen realiteit met fantasie. Dianne Hofmeyr se ‘Kiets in Parys’, met illustrasies deur Piet Grobler, is die perfekte voorbeeld, skryf Magdel Vorster.

Kiets in Parys deur Dianne Hofmeyr met illustrasies deur Piet Grobler. Uitgewer: Lapa. Prys: R155.

’n Mens hoor dikwels mense wat sê hulle wil graag ’n boek skryf, maar “sal maar met ’n kinderstorietjie begin”.

Toe Kiets in Parys deur Dianne Hofmeyr met wonderlike illustrasies deur Piet Grobler op my lessenaar beland, het ek weer besef sulke uitgesproke amateurskrywers weet van kinderboekskryf duidelik soveel as ’n kat van saffraan. ’n Goeie kinderboek, en vernaam ’n prenteboek waarby meer as een kreatiewe skepper meestal betrokke is, voer die leser weg na ’n ander wêreld en versoen slim elemente van realiteit met fantasie.

Kiets in Parys is veel meer as ’n storie oor ’n kat wat in kafees en nagklubs rondhang, probeer sing en dans, skelmpies teatrale kostuums van oorskietmateriaal saamflans en uiteindelik op die verhoog beland. Dit is duidelik daar was heelwat kommunikasie tussen Hofmeyr oor haar inspirasie agter die storie en Grobler se vertolking daarvan. (Lees meer hieroor in Laetitia Pople se insiggewende onderhoud met die twee wat op 26 Januarie op Netwerk24 verskyn het.)

Kiets in Parys vertel die verhaal van ’n Franse straatkat met hope selfvertroue en “houding” wat haar pad tot op die verhoog oopdans, maar dan huis toe verlang en besluit om haar eie Katakombeklub oop te maak. Dele van Kiets se storie herinner sterk aan dié van Édith Piaf, die “Mossie van Parys”. Ook die beroemde danseres Josephine Baker en haar troeteljagluiperd word een keer genoem. Dit is die gedetailleerde illustrasies wat bevestig dat daar wel na dié beroemde danseres verwys word. Grobler se plakkate van haar en Chiquita is variasies van die werklike plakkate van daardie tyd.

Wees ook vroeër, in die toneel waar Kiets klaaglik as sangeres misluk, op die uitkyk vir die subtiele plakkaat van Piaf op die kafeemuur. Dié sangeres word tipies in ’n swart rok uitgebeeld.

Grobler se atmosferiese en energieke illustrasies in ’n mengsel van ink, waterverf en collage plaas die leser onmiddellik in die strate van Parys in die 1920’s. Vir dié wat presies wil weet waarheen Kiets se ekskursies haar geneem het, is daar op die skutblaaie ’n kaart van die stad met die belangrikste bakens aangedui.

Grobler breek weer ’n lansie vir die ontwikkeling van visuele geletterdheid deur die storie agter Hofmeyr se katstorie perfek deur middel van sy illustrasies oor te dra. Soos gewoonlik is Grobler se vertolkings ook gelaai met humor. Die komieklike, karikatuuragtige konsertgehore het my laat skaterlag – sou ’n mens (of kat) byvoorbeeld vir applous rose of visse na ’n katkunstenaar op ’n verhoog gooi?

Kiets in Parys ís veel meer as ’n katstorie – of ’n “kinderstorietjie” wat die uitgewer op lesers van vyf en ouer mik. Hier moet daar ewe veel aandag aan die illustrasies as die teks geskenk word om die hele storie te “lees”. Kinders word boonop op prettige wyse (eerder as prekerig) aangemoedig om hul drome na te jaag, maar om altyd te onthou waar hulle vandaan kom.

Ek beveel hierdie lekker gekattemaai met groot vreugde vir oud en jonk aan.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Kinderboek  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.