Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lerina Erasmus se 4de boek nou op rak
Lerina Erasmus se vierde boek, Die leliemoordenaar, het onlangs verskyn. Foto: Alet Pretorius

Iemand het Lerina Erasmus lank gelede ’n (grusame) storie vertel – en dit wou haar nie met rus laat nie.

Toe pak sy iets ouds en nuuts aan met haar boek Die leliemoordenaar wat onlangs by Human & Rousseau verskyn het.

Soos met haar vorige skryfwerk, het sy weer in die geskiedenis gedelf en speel die verhaal weer in Johannesburg af, maar sy het dit saamgesnoer met die genre van speurverhaal, ’n eerste vir haar. Sy is ook halfpad met ’n volgende riller onder die werktitel Sondes van die vaders.

Die leliemoordenaar is haar vierde boek.

“Ek dink die man het ’n obsessie gehad,” sê sy oor een van die karakters.

“Dat hy mense se harte wou verplaas. Die wrede harte. Met harte wat goed kan doen. Sy lelies is natuurlik die mooiste in die dorp.”

Dit het baie jare geneem, ook voor die fisieke skryf begin het.

Sy het soms getwyfel.

“Daardie storie het by my gespook vir ’n baie lang tyd en ek het gedink die storie moet vertel word. En dan het ek maar rondgeloop daarmee en gedink ag, ja, dit gaan nie werk nie. Niemand stel meer belang in die apartheidsjare nie, kry ’n ander hoek.

“Maar die storie wou my nie laat los nie. En die gevolg is Leliemoordenaar. Daarom ook die twee tydperke waarin die storie afspeel.”

Die leliemoordenaar deur Lerina Erasmus

Haar man, Gunther Schmikal, ’n Oostenryker, sê wanneer hulle Leisurebaai weer besoek, moet hulle die manuskrip saamneem. Hy lees gedurig speurverhale.

“En ons het die ou dikke kadawer saamgeneem. Gunther was die een wat altyd geloof gehad het. Lochner de Kock het in ’n stadium daar vir ons kom kuier en hy het gesê hy wil saamlees. En hulle twee het met groot geesdrif gelees en weer en toe weer. En toe het ek gedink dit kan werk. Nadat ons hom deurgewerk het in Leisurebaai, het ek besluit ek gaan dit voorlê.”

Sy het die skrywer Deborah Steinmair gevra om dit te redigeer. Steinmair het toe vir haar laat weet sy het dit nie geredigeer nie, maar dit is ’n verdomp goeie boek.

“Sy sê toe vir my om saam met Nèlleke de Jager (van NB Uitgewers) middagete te eet en sy gaan vir haar van die boek sê. En Nèlleke het my toe gebel.”

Die drie boeke in Die Mannheim-sage-reeks het Erasmus self uitgegee. Die Mannheim-sage was eers ’n radioverhaal, toe ’n televisiereeks en toe gee sy dit self uit in boekvorm.

“Ek het natuurlik nie geweet wat ek aanpak (met selfpublikasie) nie. Maar ek het hulle gedruk en die voorblaaie so soort van saam met Robert Hamblin ontwerp. Toe was ek my eie posjuffie, telefoonjuffrou wat bestellings neem. My eie bemarkingsmens. Al die boeke is uitverkoop, maar dit het my ’n taamlike tyd gevat.”

Sy glo Die leliemoordenaar is ook verfilmbaar “en dit sal baie goedkoper as Die Mannheim-sage wees”.

Die televisiereeks is in 1986 uitgesaai toe Johannesburg ’n eeu oud was.

Saam met haar belangstelling in geskiedenis, voel sy, ’n gebore Namibiër, sy ken Johannesburg die beste en daarom speel haar storie weer in Johannesburg af. Dis die omgewing waar sy die langste in haar lewe woon. Sy het by Tukkies drama geswot en haar man in Pretoria ontmoet, maar dekades al is Johannesburg haar tuiste.

“As ek navorsing doen, kom ek op feite af wat my totaal verstom. En ek dink, ja, ek is in die duister en daarom stel ek belang. Dan vat dit my so lank om navorsing te doen, want ek verdwaal. Dan wil ek nog meer lees, nog meer uitvind. Dis vir my vreeslik lekker, maar ek dink ek is ’n swak navorser, want ek dwaal af, ek hou nie by die punt nie.”

Die skryf van die boek was meer gedissiplineerd. Tog was dit baie besige jare.

Ná die geboorte van haar enigste seun, Stefan-Pieter, het sy besluit om meer op skryf te fokus.

“En toe word ek ouma van twee pragtige kleindogters. Dis nogal lekker om met hulle te speel. En toe het ek so bietjie van ’n nare klap gekry van kanker.”

Die fisieke skryf van die boek was sowat drie jaar, skat sy.

“As jy skryf, doen jy sommer alles. Dan speel jy al die rolle – manlik en vroulik. Jy is die regisseur. Om dialoog te skryf is maklik, want ek hoor mense praat. Hulle praat in jou kop as jy daai ses weke lank deurgebring het. Jy wil jou mense leer ken. En dan daarna vat hulle oor, skryf hulle die dialoog en vertel hulle wat aangaan. Dis gewoonlik as jy ’n droogte kry, dat jy verkeerd dons in een of ander plek, en dan moet jy maar teruggaan.”

As speler was Erasmus onder meer in Wolwedans in die skemer (’n storie wat as radioverhaal, televisiereeks, rolprent én boek die publiek bereik het). Sy dink haar laaste werk as aktrise was in Reza de Wet se toneelstuk Mirakel.

“My tap shoes is opgehang. Ek skryf nou. Daar in die studeerkamer is my lêplek. Ek dink ek is net ’n storieverteller wat smokkel met karakters.”

Meer oor:  Riller  |  Johannesburg  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.