Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lesers deel in reis vol nostalgie
Nolan Venter, jare lange rubriek- en vryskutskrywer vir Media24, het sy rubriekebundel getiteld Klippies in my kinderskoene onlangs op Fort Beaufort in die Oos Kaap bekend gestel.

Nolan Venter is 61 jaar gelede in ’n modderhuisie in Cofimvaba in die voormalige Transkei gebore – dieselfde modderhuisie wat op ’n foto saam met ander foto’s van sy kinders en kleinkinders op die voorblad van sy splinternuwe boek, Klippies in my kinderskoene, pryk.

Die boek bevat 170 van Venter se rubrieke wat hy die afgelope jare geskryf het.

’n Klippie in ’n skoen kan ’n onuithoubare irritasie wees, maar Venter, wat sy dringende behoefte om nostalgiese brokkies uit sy kinderdae met lesers te deel en dit simbolies met so ’n klippie in die skoen vergelyk, beskou dit eerder as ’n irriterende dog genotvolle inspirasie, vandaar ook die titel van sy boek.

Venter hoop dat die rubrieke die lesers sal laat skaterlag, maar noem ook dat daar ’n paar is wat heel moontlik die traankliere sal prikkel, so hou maar die snesies gereed!

Sy boek is op Fort Beaufort in die Oos-Kaap bekend gestel.

“Ek woon sedert 1981 op Fort Beaufort, wat vandag nog my standplaas is,” sê Venter.

“Dit was net van pas om dit daar bekend te stel, want ek skryf nog al die tyd vir die gemeenskap en hulle is my grootste ondersteuningsbasis, ek glo dat ’n mens nooit skaam moet wees vir jou verlede en waar jy vandaan kom nie.”

Sy heel eerste rubriek is in 2009 in die Oos-Kaapse Die Burger gepubliseer en sedertdien het hy gereeld bydraes as rubriekskrywer vir Van Alle Kante in Die Burger en vir Netwerk24 geskryf.

“Ek het sedert my kinderdae ’n voorliefde vir Afrikaans en onthou selfs nog die rympies uit my laerskooldae. Reeds in my tweede skooljaar kon ek die ellelange gedig “Amakeia” uit my kop vir my klas voordra.

“Hoewel ek Engels sowel as Xhosa vlot praat, bly Afrikaans vir my die mooiste taal. Op hoërskool het my Afrikaansonderwyser dikwels met my geraas omdat ek nooit by die gevraagde lengte van ’n opstel kon hou nie, want as ek eers begin skryf, raak ek só meegevoer dat ek amper nie kan ophou nie.

“My laerskoolonderrig het ek aan die primêre Katolieke kloosterskool St. James ontvang, ’n skool wat destyds met ’n ysterhand deur die nonne bestuur is.

“Nadat die Suideinde-woonbuurt destyds weens die Groepsgebiedewet gesluit is, het ek as een van die eerste leerlinge by die nuutgeboude Arcadia Senior Sekondêre Skool ingeskryf, waar ek later hoofseun was en my matriek in 1978 voltooi het.”

Die omslag van Nolan Venter se rubriekebundel, Klippies in my kinderskoene.

Nie al die rubrieke is afgestaan aan nostalgiese skrywes oor sy kinderdae nie, daar is ook dié waarin hy hulde bring aan gestorwe helde soos die krieketspeler Clive Rice, die skrywer Adam Small en die musikant Nico Carstens.

Ná skool het Venter sy onderwysdiploma by die Dower-opleidingskollege in Gqeberha verwerf.

“Ek was ook lid van die dramaklub en het verskeie hoofrolle in vele produksies vertolk,” sê hy.

“Met my diploma agter die blad het ek vir agt jaar op Fort Beaufort onderwys gegee, voordat ek tot prinsipaal van die Hertzog Primêre Skool in die Katriviervallei bevorder is.

“Op 55 jaar het ek uit die onderwys getree en in dieselfde tyd my gevorderde diploma in onderwys sowel as my BEd-graad (honneurs) deur die Universiteit van Pretoria verwerf.

“Ná ’n paar jaar se rus het die onderwysgogga my weer gebyt en nou bied ek Afrikaans by ’n plaaslike primêre skool aan.

“Voorts hou ek myself op my tone deur by streekkoerante betrokke te wees.”

Dié nuwe boek is Venter se derde publikasie. Hy het ook ’n digbundel, Dood van ’n engel (2000), en ’n kort roman, Om ’n kind te verloor (2003), oor die tragiese verdrinking van sy seun en dié se nefie byna 24 jaar gelede, gepubliseer.

“My seun Diègo (9) en sy nefie Brendan (11) het in ’n rivier aangrensend aan ons huis verdrink,” sê Venter.

“Brandan kan ek maar sê was my eie kind, want hy het sedert sy geboorte by ons gebly.

“Ek en my wederhelf, Desireè, het in Desember ons 36ste huweliksherdenking gevier.

“Ons is op my verjaardag in 1984 getroud, so ons hou elke jaar ’n dubbele makietie!”

Die egpaar het nog ’n seun, Ashley (31), en ’n getroude dogter, Rowelna (35), wat albei in Kaapstad woon.

“Ons het in die tussentyd ook twee dogters, Sharice (25) en Shaneese (27), aangeneem toe hulle nog op laerskool was,” spog hy met sy kroos.

“Benewens hulle het ons ook ’n magdom kinders wat ons deur die jare by ons in die huis ingeneem het tot hulle hul matrieksertifikate verwerf het.”

Die buiteblad van die boek is deur Venter in samewerking met Myra Lochner van Kreativ SA ontwerp.

Stuur gerus ’n WhatsApp aan Nolan Venter by 063 149 2490 of stuur ’n e-pos aan nolan.venter@­gmail­.com met navrae.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Skryf  |  Nostalgie  |  Skrywer  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.