Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lesers stuur boek lustig aanlyn rond

Sophia Kapp, skrywer van hoofsaaklik liefdesromans, was die afgelope week siedend en het selfs met regstappe gedreig toe dit aan die lig gekom het dat haar jongste boek, Kanaän (Lapa­-uitgewers), wyd en syd in PDF-formaat op WhatsApp-groepe gedeel is.

Die oorsprong was aanvanklik ’n groep genaamd “Storieboeke”, wat reeds in Januarie verlede jaar gestig is en uit 277 lede bestaan wat hoofsaaklik Afrikaanse boeke met mekaar deel.

“Nadat ’n kollega my van die groep bewus gemaak het, het ek gevra om deel daarvan te word.

“Toe ek die lede op die groepie vra of hulle bewus daarvan is dat hulle diefstal pleeg, was sommige baie aanvallend en beledigend. Party het geskerm en gesê dis nie diefstal nie; hulle deel dit maar net met mense wat nie boeke kan bekostig nie. My antwoord was of ek asseblief hul Merc of iPhone kan kom haal en dit aan iemand gee wat dit graag wil hê en ook nie kan bekostig nie,” sê Kapp.

Sophia Kapp

Sy sê mense besef nie watter impak die gebruik om boeke, koerante en tydskrifte te deel het nie en die skokkende feit is dat verreweg die meeste mense nie dink dis verkeerd om dit te doen nie.

Kapp, wat 15 boeke en talle vervolg- en kortverhale gepubliseer het, sê dit neem sowat ’n jaar se harde werk vandat die idee in haar kop ontstaan totdat die boek klaar geskryf is.

Kanaän is ’n historiese liefdesroman en ek het heelwat navorsing vir die boek gedoen,” sê sy.

Bedags is sy heeltyds taaladviseur vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).

“My skryfwerk doen ek dus nauurs. Ek skryf soggens vroeg voor werk en naweke wanneer almal kuier en braai.

“Buiten Deon Meyer, maak skrywers in ons land regtig nie baie geld nie en dis ook nie vir die geld wat ek dit doen nie. Ek skryf, want dis vir my lekker.

“Maar ’n mens wil nie vir niks werk nie. Dis steeds my werk en my eiendom,” sê Kapp.

Niemand weet wie die kuberkraker is wat Kanaän in PDF-formaat omgeskakel en begin versprei het nie, maar Kapp weet dat haar boek nie die enigste is wat só versprei word nie.

“Ander skrywers word ook geteiken en die hartseer deel is dat baie van hulle om den brode skryf.

“As jy nie ’n boek kan bekostig nie en steeds graag wil lees, begin ’n boek-stokvel in jou omgewing waar jy en 11 ander vriende een keer ’n jaar ’n boek koop en julle dit onder mekaar deel.

“Die sondaars op die Whats­App-groepie het geredeneer dat mense dan boeke vir mekaar leen of dat jy boeke gratis by biblioteke kan uitneem. Dit is nie dieselfde nie. Net soos wat jy ’n ontwerpersrok in ’n winkel mag koop en vir jou vriendin mag leen, só mag jy boeke uitleen. Maar jy mag nie ’n ontwerpersrok in die winkel steel, 2 000 kopieë van die rok maak en dit uitdeel asof jy die rok ontwerp het nie.”

Sy wik en weeg nog of sy regstappe gaan doen, juis omdat dit haar ’n klomp ekstra geld uit die sak gaan jaag wat sy juis nie het nie.

Ander skrywers sê:

Jeanette Ferreira

Lesers wat boeke op hierdie manier bekom, moenie “opgevoed word oor boeke” nie, maar oor integriteit. Boeke is ’n duur produk met ’n duisternis rolspelers wat betaal moet word. Lesers wat vat in plaas van koop, steel by uitgewer, skrywer, keurder, teksredakteur, uitlegkunstenaar, drukker, bemarkingsbeampte, boekwinkel.

Hans du Plessis

Hierdie is ’n baie groot probleem vir baie skrywers. Wanneer jy ’n boek kopieer en aanstuur, vat jy letterlik partykeer kos uit mense se monde uit. Dink volgende keer daaraan.

Marita van der Vyver

Baie mense wat boeke gratis aanlyn versprei, sal opreg geskok wees as jy hulle van diefstal beskuldig. “Maar is julle skrywers nie bly ons lees julle boeke nie?” vra hulle. Natuurlik is ons bly, maar bly koop nie kos vir ons kinders nie. Dis bitter moeilik om ’n bestaan te maak uit Afrikaanse skryfwerk. Daar’s net ’n handjievol van ons wat dit nog reggekry het sonder ’n ‘day job’ of ’n ryk metgesel of ’n goeie erfporsie. Dit word elke jaar moeiliker – en hierdie Covid19-virus met gevolge soos boeke wat gratis versprei word, is moontlik die laaste spyker in ’n paar van ons se doodskiste.

Meer oor:  Sophia Kapp  |  Whatsapp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.