Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lewe in die letterlike en figuurlike woesteny

Poësie

Brisant

Hein Viljoen

NALEDI, R220

In 1971 publiseer Chris Barnard sy hoorspel Die rebellie van Lafras Verwey, wat handel oor ’n amptenaar wat sielsongelukkig is en onder meer dagdroom oor sy rol as terroris.

48 jaar later verskyn Hein Viljoen se digbundel Brisant, wat oor iets soortgelyks handel. Nou het ons ’n akademikus, Jan, wat uit weerwraak beoog om met geweld hom teen sy omstandighede te verset. Hy herinner aan die karakter William Foster (vertolk deur Michael Douglas) in die fliek Falling Down, wat nadat sy motor gaan staan het, op ’n gewelddadige tog deur die stad gaan.

Hein Viljoen bied hierdie gegewe in epiese vorm aan, nes T.S. Eliot, na wie hy in die gedig intertekstueel verwys.

Daar word ook in gesprek getree met ander digters en van hulle tekste word ingeweef of in ’n ander idioom herskryf, soos Opperman in die volgende: “sy hande in lateks soos oor ’n klavier / gryp en vou gryp en vou smal strokies papier”.

Die titel van die bundel word op bl. 56 soos volg uit Wikipedia.nl. aangehaal: “De term brisantie verwijst naar de kracht van een explosieve kracht van een explosieve stof. De brisantie wordt bepaald door de snelheid van de schokgolf na een detonatie, dus hoe groter de detonatiesnelheid des te groter is de brisantie van een explosief.”

In aansluiting hierby word die bundel struktureer in afdelings wat ingelei word deur aanhalings (onder meer deur die Unabomber) en titels soos “Dag D Minus 1”, “Middag Dag D Minus 1”, “Laatmiddag Dag D Minus 1”.

Die gedig weerspieël stilisties die snelle pas wat gepaardgaan met die afwagting wat geskep word deur die titel, aanhalings, ens. Bernard Odendaal verwys op die agterplat na die toneelmatigheid van die gedig.

Die ontnugterde subjek van die lang gedig is ’n akademikus en doseer letterkunde en word ingelig dat sy fakulteit tien poste moet besnoei. Hy troos homself daaraan dat hy heelwat navorsingsgeld ingebring het en hulle hom sal wil behou.

Tussendeur wroeg hy ook oor sy verhouding met sy gesin (Ansu en Toinette is die pretensieuse name van sy kinders).

In die sogenaamde “heilige halle van die letterkunde” word die “wroegings van ’n dooie wit man gepreserveer”.

In die sogenaamde “heilige halle van die letterkunde” word die “wroegings van ’n dooie wit man gepreserveer” en as uitgeworpene wil hy hom wreek op diegene wat hom uitsluit.

Ter wille van transformasie word hy ’n pakket aangebied: “die dekaan stoot die vel papier na hom toe oor / is dit wat hulle hom aanbied? ’n skamele / paar miljoene? vir twintig jaar diens? sy onbesproke / rekord die navorsing hy’t nou wel vasgedraai / in Agamben maar tog [.]”

As bitter middeljarige wit man vind hy geen plesier meer in die letterkunde (“die poësie is deesdae ook maar vaal”), sy studente vind hom hoogdrawend en stel meer in hulle selfone belang as wat hy te sê het en die swaard van “rasionalisasie transformasie” hang gedurig oor sy kop. Hy word ook van seksuele teistering aangekla omdat hy een van sy studente as Poplap aanspreek.

Tussendeur is daar selfbesinning by die subjek soos blyk uit die volgende: “Nee wag wag dis darem ook te seksisties / al die ou clichéërige mannefantasieë / ’n nes van obsessies en fetisje / laat ek weer probeer.”

Hy is ook ontnugter met sy medemens, met die vroue wat “keurig netjies / onder hulle mans se gesag” staan en die mans wat “[klets] oor naai en rugby om die vuur”.

In teenstelling met die bomobsessies in die res van die gedig word afgesluit met ’n kopknik na T.S. Eliot se vuursermoen – trouens die vuurmotief kom deurlopend voor. Eliot se Teems word nou transponeer na Rietspruit en daar word sterk klem geplaas op die grond, die modder en die transformerende en transmuterende krag van vuur.

Anders as by Eliot waar die Boeddha waarsku teen ’n oorgawe aan aardse luste is die klem hier op die paradoksale transformende en vernietigende potensiaal van die vuur.

Nes Jorik en Awater moet Jan sinvol probeer leef in die letterlike en figuurlike woesteny en myns insiens slaag Hein Viljoen goed daarin om dit te ondervang en te verwoord.

Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.