Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Liedjieboer aan die praat in biografie

Die liedjieboer Anton Goosen vertel ná meer as 40 jaar in die musiekbedryf sy verhaal. Baie mense se name word genoem in dié biografie wat hy saam met die joernalis Hanlie Retief aangepak het. AJ Opperman het met hulle gesels.

“Die lewe is Yin en Yang. Swart en wit. Dag en nag.”

So sê die liedjieboer Anton Goosen oor sy biografie wat pas verskyn het en waarin hy “amper alles” vertel.

Anton Goosen in die laat 1980’s.

“Dit was vir my belangrik om negatiewe goed oor myself ook te vertel. Daar moes ’n balans wees. Niemand is sonder foute nie. Trouens, ’n mens maak baie foute.”

Goosen het saam met die joernalis Hanlie Retief ’n paar jaar lank aan Anton Goosen: Liedjieboer gewerk.

Hy vertel van sy grootwordjare in die Vrystaat, die Musiek-en-liriek-beweging, sy ouers en familie en rusie met Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Bles Bridges.

Hy skryf oor baie mense in die boek.

“Maar die boek is deur die lawyers. Daar is mense wat verwag dat sekere mense gaan kwaad wees. Daar is dele waar ons mense kon seermaak, maar dit was onnodig. Dit is eerstens ’n biografie. Wat alles in die musiekbedryf gebeur het, is ’n aparte ensiklopedie.”

Retief het in 2004 en 2016 onderhoude met Goosen vir Rapport gevoer.

Hanlie Retief Foto: Carinè Müller

“Reeds in daardie onderhoud in 2004 kon ek agterkom hoe Anton woorde weeg,” sê Retief.

“En dit het my in 2016 weer opgeval hoe hy homself uitdruk en verbaliseer. En sy lirieke was nog altyd vir my verstommend. Dit was vir my baie belangrik om deurlopend sy stem te behou. Dis sy storie wat hy vertel.”

Die boek het onder meer uit verskeie stemnotas gestalte gekry. Retief het wel ook in persoon met ’n bandopnemer met Goosen gesels.

“Maar daar was duisende voice notes. Jy het hierdie eindelose inligting wat jy moet verkort. Daar was baie transkripsiewerk. Jy moet heeltyd timmer en skryf. Daarna moes ons sif om die lekkerste goed steeds te behou. Die oorspronklike manuskrip was dubbeld so lank as die uiteindelike boek.”

As artikelskrywer is Retief gewoond aan stories verkort.

Anton Goosen by die prehistoriese monument Stonehenge in Wiltshire in Engeland.

“ ’n Lang storie is nie noodwendig ’n beter storie nie. ’n Boek is ’n diep duik. Jy het eintlik nie ’n snorkel nodig nie, jy het ’n gasbottel nodig. Maar met ’n boek kan jy al die vrae vra waarvoor jy nie noodwendig in ’n artikel plek het nie. As jy Anton prikkel, begin hy onthou. Dan begin sy denkproses. En hy het ’n geheue soos ’n olifant. Hy is die stem van eras in Afrikaanse musiek. Dit is ’n leeftyd se geskiedenis om te vertel. Ek hou van sy eerlikheid en sy manier van waarneem.”

Goosen beskryf Retief as ’n engel. Hy hou ook van haar joernalistieke werk.

“En gelukkig het sy my Monty Python-humor verstaan.”

Tydens ons gesprek tel Goosen sy selfoon op en sê die hele boek is daarop.

“Ek het my leë tyd gevul deur voice notes aan haar te stuur. Voor en ná konserte, as ek in ’n gastehuis bly, as ek see toe stap. Ek het myself ingestel om te onthou. Ek het sommige goed herhaaldelik vertel, want Hanlie het gesê daar kom dalk ’n ekstra detail by. En dit was so.

“En toe begin die proses van ping pong. Ons sou mekaar e-pos. Goed weglaat, weer terugsit en so. Ek het die woord ‘plaag’ reeds midde-in die lockdown bygevoeg.”

Anton was in die 1970’s ’n sokkerskeidsregter by St. Stithians in Johannesburg.

Goosen is op Middelburg in die Oos-Kaap gebore en sy gesin het in Kroonstad gaan woon toe hy vyf jaar oud was.

Die digter Antjie Krog se ma, die skrywer Dot Serfontein, was vriendinne met Goosen se ma.

“Ek onthou toe Antjie se debuutdigbundel uitgereik is. En jy kan dink die hele Kroonstad het allerhande aannames gemaak.”

"’n Mens mis jou ouers. Maar ek het baie sagte herinneringe. Jy onthou nie die sad of die goeie nie, jy onthou die totaliteit.”

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het in die Goosens se tuin gewerk.

“Hy onthou dit,” sê Goosen.

“Hy is op my Facebook en ek het hom daaroor gevra. Hy het ook twee strate hoër op gewerk. Hy is ’n bietjie jonger as ek.”

“Stephan Bouwer, Clarabelle van Niekerk en Max du Preez kom ook van Kroonstad af. Dis nie sommer net ’n weggooiplek nie, nè.”

Goosen dra op die foto op die omslag nie ’n bril nie. Sy vrou, Estie, het dit geneem.

Dit was een van ’n paar foto’s wat as opsies aan die uitgewer gestuur is.

“Die uitgewer het van hierdie een gehou. Ek was aanvanklik nie so mal daaroor nie, want ek hou ’n pyp vas en ek het lankal ophou rook. Maar dit fokus op een oog. Die boek is uit ’n buitestander-oogpunt geskryf. En die ander oog is al deur ’n hele paar operasies.”

Anton Goosen: Liedjieboer deur Goosen en Hanlie Retief

Hy skryf onder meer oor sy eerste twee huwelike en sy derde troudag.

Hy skryf ook oor sy ouers wat albei in die 1970’s dood is.

“Ek dink my pa sou baie trots wees. Hy was meer Afrikaans as Afrikaans. Hy was trots op die taal. Hy kon drie tale praat. Hy het Duits leer praat binne drie maande in die destydse Suidwes-Afrika. My ma kon sewe tale praat. Wanneer hulle nie wou hê die kinders moet weet waaroor hulle praat nie, het hulle Duits gepraat.”

Sy pa was ’n ateïs en was pro-Nasionale Party.

As kind het Goosen se pa hom na ’n politieke byeenkoms in Kroonstad geneem.

“De Villiers Graaff het gepraat. My pa het my op sy skouers getel en gesê: Kyk, my seun, só lyk ’n Sap. Ek het net die groot snor raakgesien. Verder het hy maar vir my soos ’n gewone ou gelyk.”

Anton Goosen

Sy ma het sy liedjie “Jantjie” gehoor.

“Maar sy het die meeste van my loopbaan nie ervaar nie. ’n Mens mis jou ouers. Maar ek het baie sagte herinneringe. Jy onthou nie die sad of die goeie nie, jy onthou die totaliteit.”

Sy ma het die liefde vir kuns, skryf, musiek en kultuur by hom gekweek, en sy pa die liefde vir Afrikaans.

Toe die Musiek-en-liriek-beweging in 1979 posgevat het, was mense onder die indruk dat ’n groep mense op hooibale met ’n Groot Verseboek optree.

Goosen het dit in die kiem gesmoor.

“Lirieke en gedigte verskil van mekaar. Ek dink daar is uitsonderings waar dit kan oorvleuel.”

Goosen het wel gedigte getoonset, onder meer van Breyten Breytenbach.

“Ek het wel soms woorde verander, juis om dit meer liries te maak. ’n Lied moet liries wees. Maar alle lirieke is nie poësie nie. (Bob) Dylan het iets gesê van Shakespeare se werk wat die beste op die verhoog is, eerder as wat jy dit lees. Ek voel so oor goed wat jy sing. Dit kan op papier leef, maar nie net op papier nie.”

Anton Goosen: Liedjieboer word deur Tafelberg uitgereik en kos R290.

Meer oor:  Tafelberg  |  Nb-Uitgewers  |  Hanlie Retief  |  Anton Goosen  |  Kroonstad  |  Musiek  |  Sanger  |  Liedjieskrywer  |  Boeke  |  Liedjieboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.