Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Liedjieboer’ trek sy gehoor saam

Die einde van ’n era, en die einde van ’n onskuld van daardie plek toe die Liedjieboer om middernag in sy ontreddering ná ’n plaasaanval semi-naak terug huis toe stap, het haar hart gebreek en sal haar altyd bybly.

So sê die rubriekskrywer Hanlie Retief na aanleiding van die biografie Liedjieboer wat sy oor die Afrikaanse sanger Anton Goosen geskryf het.

Natie Botes, musiekskrywer en -kenner, het ’n aanlyn gesprek met Retief en Goosen gelei wat deel vorm van Vryspraak Digitaal, die Vrystaat Kunstefees se aanlyn digitale literatuurfees wat op Lentedag begin het.

Liedjieboer, die biografie wat Hanlie Retief oor Anton Goosen geskryf het. Foto: Verskaf

Goosen se jare op die plaas Gansbaai Lapa langs die Hennopsrivier is ’n deel waaroor sy graag meer sou wou skryf, het Retief gesê.

In die boek praat hy ook oor sy nagmerrie-ervaring met die plaasaanval en hoe Sky, sy Jack Russel, deurentyd aan sy sy was.

Sy worsteling met depressie en dat hy dit oorwin het, staan vir Retief uit.

Op Botes se vraag of ál Goosen se geheime in die boek verklap word, het hy gesê die hart is ’n geheim.

“Dis kleppe wat oop- en toemaak en ’n sekere aantal woorde uitlaat en sekeres nie inlaat nie.”

Retief en Goosen het vir drie jaar aan die boek gewerk.

Aan die begin was sy by hom in Gansbaai, en later het hy vir haar WhatsApp-stemboodskappe gestuur soos wat die herinneringe hulle aangemeld het.

Retief sê ’n baie lekker wisselwerking tussen hulle is die belangrikheid wat hulle aan woorde heg.

Die heel laaste woord in die boek, “plaag”, is tydens die inperking geskryf voordat dit geredigeer en na die drukkery is, vertel Goosen.

Retief sê hoewel Goosen en sy musiekstyl verander het van die Byeboerwa tot waar hy nou is, het hy daarin geslaag om sy “ou” gehoor saam te trek.

Hierop het Goosen gesê ’n mens behou nie altyd almal nie, want soms is daar “roofluisteraars”, mense wat bloot neigings volg.

Maar dan is daar stories soos dié van ’n driejarige kind wat hom onlangs bygedam en gesê het: “Oom, ek wil net sê, oom se musiek is ‘bef*k’.” En ’n 13-jarige seun wat vir Goosen gesê het sy oupa en pa het na hom geluister, hy (die seun) luister ook na hom en hy sal sorg dat sý seun na hom luister.

Dit is vir hom ’n riem onder die hart, sê Anton, om so “die toekoms saam te sleep”.

Botes en Goosen ken mekaar reeds 22 jaar en het destyds in ’n onderhoud op die Granaatfees in Bloemfontein ontmoet.

“Die gesprek het daar begin en ek en Anton het sedertdien nooit ophou praat nie.”

* Kaartjies vir hierdie en ander gesprekke is te koop by www.vrystaatkunstefees.co.za.

Meer oor:  Anton Goosen  |  Vrystaat  |  Kunstefees  |  Toekoms  |  Liedjieboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.