Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Liefde het ’n duisend vorme

Kleure van die liefde

Corlia Fourie (samest.)

HUMAN & ROUSSEAU, R230

Lank, lank gelede, toe selfone ondenkbaar was en mense gelees het eerder as sepies kyk, was tydskrifverhale meer as ’n nagedagte in baie Afrikaanse publikasies.

Tydskrifte wat wel nog verhale plaas, plaas veel minder. Verhale het korter geword en redakteurs meer voorskriftelik: Wáároor ’n storie gaan, speel ’n deurlopende rol in of ’n verhaal geplaas gaan word of nie.

Maar oor die liefde sal daar altyd geskryf word.

Kleure van die liefde is ’n versameling liefdesverhale wat deur die jare in rooi rose verskyn het, geskryf deur bekende skrywers. Dié name sluit groot visse in die dam in, soos Sophia Kapp, Alta Cloete en Elsa Winck­ler; maar ook skrywers wie se werk nie by uitstek by dié genre ingedeel word nie: Irma Joubert, Helene de Kock en Engela Linde se jongste boeke het meer op die hart as romanse. François Bloemhof is nie hééltemal bekend as Afrikaans se eie Barbara Cartland nie en Fanie Viljoen en Jaco Jacobs skryf kinderboeke.

Beteken dit dat liefdesverhale ’n “maklike” genre is en dat enigeen een dit kan skryf? Of dat daar in elke skrywer minstens een goeie liefdesverhaal skuil?

Die grootste beswaar teen baie van hierdie verhale is gebrekkige inspirasie. Sophia Kapp, bekend vir die begeesterdheid van haar romans, het ’n storie geskryf oor ’n egpaar wat te arm is om Valentynsdag behoorlik te vier, maar hulle is nog lief vir mekaar en dit is genoeg. Die verhaal is tematies futloos. In Irma Joubert se “Delila” moet ’n meisie aanvaar haar skoolhoof-pa wil met die nuwe skooljuffrou trou – nou nie die soort verhaal wat die verkeer tot stilstand bring nie.

’n Teenargument is dat dié skrywers hulle dalk gerig het op subtiliteit en understatement eerder as ’n liefdestert in die gevreet.

Die held in Bernette Bergenthuin se “Met die maan gepla” is gepla met ’n los meisie wat hy nie kan liefhê nie. Dis ’n goeie storie, maar die slot is nét te “maklik” en voorspelbaar. ’n Persoonlike gunsteling is “Die soen” deur Elsa Winckler: ’n Wannabe-romanseskrywer moet leer soen voordat sy die vrytonele in haar manuskrip oortuigend kan beskryf, maar wie gaan haar “leer”?

Op ernstiger trant is daar Annelie Botes se “Nagreis” en Alta Cloete se baie geslaagde “Nagmusiek”. George Weideman se “Die lay-by-bruid”, so in die trant van
Koöperasiestories
, is heerlik.

Die bundel bewys dat die liefde ’n duisend vorme aanneem en dat daar áltyd iets oor die liefde te skryf is. En dat elke skrywer minstens een liefdesverhaal, goed of minder goed, in sy of haar hart saamdra. Al sal sommige nooit die moed hê om dit te skryf nie.

J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.