Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Liefde, ja, maar ook diepte te vind

Die krag van stories om trauma te hanteer kom na vore in Helene de Kock se liefdesroman ‘Elisabet se oorlog’ wat ten tyde van die Tweede Wêreldoorlog afspeel, skryf Trisa Hugo.

Elisabet se oorlog deur Helene de Kock. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R310.

Om liefdesromans teen die agtergrond van ’n spesifieke oorlog te skryf, sit nie in enige skrywer se broek nie. Wat vir ons as lesers bedrieglik eenvoudig lyk, is nie noodwendig die geval nie – die skrywer moet immers heelwat navorsing doen om by die feite te hou.

Helene de Kock skryf graag oor die liefde, maar net so belangrik in haar werk is die klem op die werklikheid en die eise wat dit aan verhoudings stel. Haar roman Dieper water (2007), ’n uitvloeisel van haar meestersgraad in skeppende skryfkuns, het ’n era van ernstiger verhoudingsverhale ingelui. Net soos Chanette Paul, Irma Joubert en Wilna Adriaanse het De Kock bekendheid verwerf as liefdesverhaalskrywer. Maretha Maartens was as pienkboekie- en jeugromanskrywer bekend toe sy Jacoba Afrikaner (2001) geskryf het – ’n roman wat nooit die erkenning gekry het wat dit verdien nie.

Lesers vind dit skynbaar moeilik om uit hul groef te kom as skrywers sulke genrespronge maak, en tog verdien “ligter” romans soos Elisabet se oorlog meer aandag in die drukmedia, veral gegewe De Kock se gewildheid.

Elisabet Uys besef sy sal haar eie oorlog moet veg omdat sy nie bereid is om in die groef te bly waarin haar verhouding met haar verloofde, Johannes Barnard, beland het nie. Johannes, haar buurman, het eerstens ’n vrou nodig en Elisabet is beskikbaar – hulle is amper cliché-agtig die paartjie wat die twee plase sal verenig. Haar ouers is konserwatiewe mense wat hul goeie naam en gewaande morele verpligtinge bo Elisabet se geluk stel. Hul streng veroordeling het ook finale verwydering gebring in die nabye familie, wat voordelig is vir Elisabet wanneer sy alleen na Londen vertrek.

Temas van veroordeling, verlies, soeke na identiteit, heling en vergifnis word ondersoek.

Die hoofkarakter is ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit is en wat besef daar moet meer in die lewe wees as haar behoudende ouers en haar stil, betroubare verloofde. ’n Man van min woorde – te min vir Elisabet.

Haar soeke na ’n eie identiteit binne ’n multikulturele samelewing én die uiterste omstandighede van die Tweede Wêreldoorlog bring vir haar diepe geluk. Waar Irma Joubert in haar nuutste roman, Na ’n plaas in Afrika (2021), veel meer op feite rakende die oorlog konsentreer, fokus De Kock eerder op interpersoonlike verhoudings teen die agtergrond van die oorlog. Die gevolge van oorlog vir gewone mense, byvoorbeeld kosskaarste en goedere wat onbeskikbaar is, word egter skraps uitgebeeld en lesers voel nie die karakters se intense honger nie.

Temas van veroordeling, verlies, soeke na identiteit, heling en vergifnis word ondersoek. Dié temas, asook uiterste koppigheid wat lewens verwoes, duik ook in De Kock se ander werke op.

Die krag van stories en boeke om trauma te hanteer en emosionele welstand te verseker word goed aangewend, veral waar die klein Skotse Heather verlies ervaar. Die skoonheid van die digkuns en letterkunde se rol in uiterste omstandighede sorg vir ’n ligtheid midde die somberheid en verskrikking van die oorlog. Verder bring boeke vir Elisabet en Heather nader aan mekaar en dit speel ’n rol in haar verhoudings met Johannes sowel as Marius Mulder.

De Kock gebruik taamlik ouderwetse, “skoon” taal om die tydgees te herskep en die leser netjies binne die era te plaas. Woorde soos “lornjet” (langsteel-verkyker) en gebruike soos mense wat “gebooie loop” voor hulle trou duik op.

Elisabet se oorlog lees maklik, stel nie besonderse uitdagings aan die leser nie en behoort wyd aanklank te vind. Dit is egter hoegenaamd nie sonder diepte nie en vertel van ’n ingesteldheid onder die Afrikaner-boeregemeenskap van dekades gelede wat baie mense erge skade berokken het.

  • Trisa Hugo is ’n skrywer van Kleinmond en medestigter van die boekewebwerf Boekemakranka.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.