Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Liefdesverhaal aan die Kaapse Vlakte

Die nege ontstellende, dikwels gewelddadige kortverhale  in Brian Fredericks se ‘As die Cape Flats kon praat’ – vyf splinternuut en vier verwerkings van reeds gepubliseerde stories – is nie sonder gebreke nie, maar dit bevestig dat ’n mens beslis moet kennis neem van dié bundel en eiesoortige stem, skryf Frederick J. Botha.

Brian Fredericks, ’n boorling van Elsiesrivier, woon deesdae in Belhar, van waar hy as vryskutskrywer werk. Foto: Retha Ferguson

As die Cape Flats kon praat: Green Eyes en ander stories deur Brian Fredericks. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R245.

Vir liefhebbers van die Afrikaanse kortverhaal is die naam Brian Fredericks nie onbekend nie. Hy debuteer in 2013 in die bundel Nuwe stories 2 en van sy verhale verskyn ook in Bly, die Woordfees-kortverhaalbundel van 2016, en in verlede jaar se Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk. Nou, uiteindelik, verskyn Fredericks se solobundel As die Cape Flats kon praat met vyf nuwe verhale asook nuwe weergawes van vier voorheen gepubliseerde verhale.

Die bundeltitel is ontleen aan James Baldwin se roman If Beale Street Could Talk (1974), wat in 2018 in ’n Oscar-bekroonde fliek omskep is. In sowel die roman as rolprent speel ’n liefdesverhaal af in die vroeë 1970’s in Harlem, New York. Fredericks se bundel kan eweneens as ’n soort liefdesverhaal aan die Kaapse Vlakte gelees word waarin hy stem gee aan hierdie geweldgeteisterde omgewing en die invloed daarvan op die gemeenskap. Hy besin egter ook oor die merk wat die inwoners sélf op hierdie omgewing en op mekaar los met ’n aanhaling uit Philip Roth se The Human Stain (2000) wat as motto hierdie idee ondersteun.

Die stem wat Fredericks aan die Kaapse Vlakte gee, vertel van kinders wat sonder pa’s grootword en mans wat vroue mishandel en misbruik. Dit vertel van Pollsmoor, van die nommer, van skollies en van gangsters. Dit vertel van dwelms, entjietoppertjies en die hustle. Van Judy Boucher en Tupac. Dit skree van moord, roof en verkragting.

Dit vertel van Pollsmoor, van die nommer, van skollies en van gangsters.

Hoewel die verhale nie volledig in Kaaps geskryf is nie, wyk dit tog af van sogenaamde Standaardafrikaans, met talle verwysings uit die bendelewe en bruin kultuur wat ingespan word om tekstuur en geur aan die Kaapse Vlakte te gee. Waar soortgelyke tekste dikwels ’n woordelys bevat waar verklarings vir die leser gegee word, word daar hier eerder op Fredericks se knap skryfwyse en sy talent as storieverteller gesteun – dit stel die leser in staat om self die betekenis af te lei.

Die openingsverhaal, “Die drie musketeers”, is ’n lang verhaal van oor die 70 bladsye wat duidelik geïnspireer is deur die Hannah Cornelius-saak: die Stellenbosse student wat in 2017 deur ’n groep mans ontvoer, verkrag en wreedaardig vermoor is.

Dié verhaal handel oor Michael, ’n vryskutjoernalis wat uit die bloute ’n boodskap ontvang van Angelo, ’n kindertydvriend met wie hy kontak verloor het. Saam met Emile, Angelo se broer, het hulle destyds as die drie musketeers bekend gestaan.

Angelo lig Michael in dat Emile een van die beskuldigdes in die Jessica Leigh-hofsaak is. Aangesien Angelo self kontak met sy broer verloor het, versoek hy Michael om met Emile in die tronk te gaan gesels en uit te vind of hy wel skuldig is aan die verkragting en moord op Jessica.

Aanvanklik fokus die verhaal op Michael se ambisies, sy lewe as vryskutjoernalis en die soort stories wat hy dek asook sy komplekse verhouding met sy ouers en meisies, maar later verskuif die fokus na die hofsaak wat Michael bywoon en die uitslag daarvan.

Fredericks se ambisieuse herverbeling en fiksionalisering van hierdie tragiese gebeurtenis verdien eervolle vermelding, maar die uitgesponne aard van die vertelling veroorsaak ongelukkig dat die verhaal misluk. ’n Skerper fokus sou van dié verhaal ’n treffende karakterstudie kon maak.

“Green Eyes”, die tweede verhaal in die bundel, het ook gebreke wat struktuur betref. In dié verhaal probeer ’n bendelid met tragiese gevolge wegbreek van sy misdadige lewe. Die raamvertelling wat aangewend word, lei daartoe dat die verhaal trefkrag verloor, aangesien die gevolge van Green Eyes se besluit reeds aan die begin van die verhaal aan die leser onthul word.

Fredericks vergoed egter vir die tekortkominge in hierdie twee verhale met die uitsonderlike derde verhaal, “Moenie mense judge nie”, waarin die verteller se pa hom dwing om vir oulaas vir familie in Elsiesrivier te gaan kuier voordat die gesin Johannesburg toe trek. Die verteller se teensinnige naweekkuier lei daartoe dat hy medepligtig aan bendegeweld word, met ’n onbeklemtoonde dog treffende slot wat die bundeltitel aktiveer.

Sy uitsonderlike tekening van die lewe op die Kaapse Vlakte speel af soos tonele uit flieks.

Fredericks skram nie weg van geweld nie. Sy uitbeelding hiervan skok en ontstel die leser en maak die leser byna ’n medeslagoffer van die onmenslikhede. Hierdie tematiese gegewe word egter nie deur Fredericks vir sensasionele redes ingespan nie, maar is eerder ’n manier om geloofwaardigheid aan die gevaarlike en vernietigende “stem” van die Kaapse Vlakte te gee, en die leser te dwing om hierdie ongenaakbare ruimte te konfronteer wat wêrelde verskil van die idilliese poskaartprentjies wat van Kaapstad ’n gewilde toerismebestemming maak.

Fredericks se uitsonderlike tekening van die lewe op die Kaapse Vlakte speel af soos tonele uit flieks soos Four Corners, Noem my skollie, Nommer 37 en Ellen: Die storie van Ellen Pakkies.

Die meeste van die verhale word gekenmerk deur ambisieuse hoofkarakters wat uit hul moeilike en tragiese omstandighede wil ontsnap en wat aansluit by die lirieke uit Tupac se “Better Dayz”, wat ook as motto die bundel inlei.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die uitstekende “Nadine en Elton”, wat met die suggestie eindig dat die verteller suksesvol daarin slaag om iets van sy lewe te maak, anders as Elton, sy nefie, en Nadine, sy voormalige beste vriendin op wie hy verlief was. Ten spyte van sy bereidwilligheid om die foute uit sy verlede reg te stel bly die hoofkarakter in “Gister se mistakes” steeds ’n gevangene van sy verdoemende omstandighede.

Nog ’n sterk verhaal waarmee Fredericks beïndruk, is “Die cowboy”. Nigel se pa het ’n paar jaar gelede sy rug op sy gesin gedraai. Met sy ma wat sukkel om hulle finansieel te onderhou besluit Nigel om sy pa op te spoor en hom vir geld vir sy skoolfonds te vra, net om weer ’n keer deur sy pa teleurgestel en verwerp te word.

Die beeld van die cowboy word hier uiters funksioneel en meerduidig aangewend – eerstens as verwysing na die pa wat die spreekwoordelike rondvaller is; tweedens na die jong verteller wat die “dapper” rol van ouer inneem en die pa oor sy verantwoordelikhede gaan konfronteer; en derdens in die pragtige slot waar die ma die ware cowboy word – die eintlike held op wie die verteller altyd kan steun en wat hom op speelse wyse help om weer soos ’n kind te voel en van hulle bekommernisse te vergeet.

“Die vierhoeke” is nog een van die langer verhale in die bundel, maar anders as die openingsverhaal is dit ’n boeiende en roerende karakterstudie van ’n pa wat op pad is na Pollsmoor om sy seun te gaan besoek – dít terwyl hy self verhoorafwagtend is om weer ’n keer tronkstraf uit te dien. Tydens sy reis vanaf Elsiesrivier tot Pollsmoor dink die verteller byna nostalgies en hunkerend terug aan sy tyd in die tronk, oftewel “die vierhoeke”.

Fredericks slaag hier om die kompleksiteit rondom die kultuur van bendelewe in die tronk vir die leser uit te pak en die leser ’n ontstellende blik te gee op die sielkundige werkinge van ’n oudgevangene, en spesifiek die wyse waarop die tronklewe bydra tot hulle karakter, en as’t ware hulle hele menswees vorm.

In “Die gevangene” word die dood van oudpres. Nelson Mandela gejukstaponeer met Ashley Jacobs in die Drakenstein-gevangenis se stryd om vir appèl aansoek te doen en word daar spesifiek vergelykings getref tussen Ashley se inhegtenisneming en Mandela wat as “terroris” die apartheidsregering teengestaan het en self tronkstraf moes uitdien.

Dit is jammer dat die sentimentele slot en algemene afloop van die verhaal afbreuk doen aan die potensiaal wat hierdie verhaal inhou om werklik in te speel op die verband tussen Ashley en Mandela se verskillende omstandighede.

Telkens word daar uitgewys hoe Mandela se tronkstraf bygedra het tot sy heldeverering wat hom die vader van die nasie en ’n internasionale ikoon gemaak het, terwyl Ashley, wat tronkstraf uitdien nadat die werklike skuldiges weggekom het, nou as leuenaar en misdadiger gebrandmerk word.

Hierdie verhaal sou sterker kommentaar kon lewer oor die wyse waarop politieke gevangenes se tronkstraf op positiewe wyse bydra tot hulle politieke stryd, teenoor die desperate armes wat bloot ’n stryd om oorlewing voer en dikwels as gevolg daarvan in die tronk beland, met hulle lewens wat totaal vernietig word deur hul tronkstraf.

Die laaste verhaal in die bundel, “Baksteen vir baksteen”, handel oor ’n gevangene wat vrygelaat word en terugkeer huis toe, en die oorweldiging wat hy ervaar om weer tussen sy familie te wees. Fredericks bewys met hierdie verhaal dat die krag van die kortverhaal juis in die korter lengte lê deurdat hy in slegs ’n paar bladsye die binnewêreld van hierdie verteller skets en simpatie by die leser skep soos hy besef dat dit ’n moeilike en langsame proses gaan wees om weer sy lewe – sowel as dié van sy geliefdes – van voor af te herbou.

Al is dit grotendeels die reeds gepubliseerde verhale wat in hierdie bundel beïndruk en sterker uitstaan, slaag As die Cape Flats kon praat wat tematiese eenheid betref. Dit is ’n bundel – en ’n skrywer – om beslis van kennis te neem.

  • Dr. Frederick J. Botha is ’n skrywer van Kaapstad wat, soos Fredericks, in Nuwe stories 2 gedebuteer het.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.