Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Limerence’ smokkel met jou kop

Die tydsgees én verhoudings in Vincent Pienaar se speelse roman ‘Limerence’ is intens en obsessief, en as Trisa Hugo Martin Scorsese was, het sy wragtie teen die Coen-broers gebie om die fliekregte te bekom.

Limerence deur Vincent Pienaar. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R280.

Vincent Pienaar se roman met die vreemde titel Limerence spéél – met woorde, perspektiewe, karakters, rolprente, boeke, musiek en bowenal met die leser se kop.

Veral opvallend is die spel met perspektiewe. Aanvanklik lyk dit of Scout se storie in die eerstepersoon uitspeel en dié van die vyf belangrike vroue in sy lewe in die derdepersoon. Veel later blyk dit word eintlik in die tweedepersoon vertel, maar omdat dié perspektief nie so algemeen gebruik word nie, is die leser nie daarop voorberei nie.

Musiek is diep verweef in Scout se psige. In die proloog maak ons kennis met die koning van Deltablues, Robert Johnson, wat sy siel aan die duiwel verkoop in ruil vir ’n suksesvolle musiekloopbaan.

Uiteindelik blyk dit ’n leidraad te wees oor die tweedepersoonsverteller. Die legende loop ook ’n volle sirkel deur die boek.

Scout is die klassieke lovable rogue uit wie se hand vroue van jongs af eet. As jong man in die 1980’s werk hy in die Hillbrow Record Centre, waar sy deeglike musiekkennis klante beïndruk en vroue verlei.

Dit sal ’n nostalgiese snaar roer by lesers wat dié kosmopolitiese era van Fontana se gebraaide hoender, Estoril Books, Club 58, Question Mark en Café de Paris in Hillbrow en Yeoville beleef het.

Pienaar speel ook met die karakters se name.

Die gees is intens en suggestief, romanse hang oral ryp in die lug, die verhoudings is obsessief, soos die titel suggereer.

Daar is Daisy die limerence-junkie wat kaal dans op ’n tafel; die kettingroker-beroepsbruid Holly Go-not-so-lightly wat nou ’n suurstoftenk soos ’n ekstra ledemaat moet saamsleep; Candi-not-da wat seks orkestreer waar haar man kan toekyk; Ripley wat weier om te sê waarom sy haarself so noem, believe it or not; Alice met haar trop honde; en Clarissa wat haar as Clarry kortstondig in ’n huwelik met Scout begewe het.

Ons leer ken die gladdebek, eksentrieke Scout met sy panamahoed en sy vyf ekse, almal sterk en suksesvol, maar met die een of ander hindernis en baie ondervinding van die lewe.

Hy ken Melville se drinkplekke soos die palm van sy hand waarin platboomglase vol goedkoop rooiwyn gemaklik pas.

Dan loop hy, wat sy lewe lank platsak was, hom vas in ’n situasie waar hy ’n groot klomp geld nodig kry.

Scout soek sy ekse om die beurt op en vra elkeen vir ’n groot bedrag geld, maar beloof ’n teenprestasie. Ons ontmoet die klomp weer gelyktydig in die kantoor van ’n prokureur waar de laaste een oortuig is daar gaan ’n testament gelees word . . .

“Deep point of view” word tot die uiterste ingespan om in die leser se kop te bly wanneer ons die vroue leer ken in hul poging om agter die kap van die byl te kom.

Die verhaal word baie slim vertel en dieselfde insident word dikwels uit twee oogpunte gesien, of dit in splitscreen afspeel. Dit verg jou volle aandag om te sien hoe die twee karakters ook aan verskillende stukke musiek herinner word tydens ’n gebeurtenis of ’n toneel in twee verskillende flieks.

Die titel word nêrens verduidelik nie en tog gebruik sy ekse telkens die woord omdat dit so tekenend van hul verhoudings met hom is of was: “Limerence is a state of mind which results from a romantic attraction to another person and typically includes obsessive thoughts and fantasies and a desire to form or maintain a relationship with the object of love and have one’s feelings reciprocated. Limerence can also be defined as an involuntary state of intense romantic desire.”

Dit is doelbewus nie ’n pandemieroman nie. Die gees is intens en suggestief, romanse hang oral ryp in die lug, die verhoudings is obsessief, soos die titel suggereer.

As ek Martin Scorsese was, het ek teen die Coen-broers gebie om die fliekregte vir Limerence te bekom. Met Billy Bob Thornton in die hoofrol.

’n Groot gehoor sal Limerencegeniet – nie net mense wat in die 1980’s in die omstreke van Mel­ville, Hillbrow en Yeoville gewoon het en die kosmopolitiese glorie van die eertydse Johannesburg wil herleef nie.

Maak jou gereed om die skrywer se spel te speel.

Pienaar played me. And he played me well.

  • Trisa Hugo is ’n skrywer van Kleinmond en medestigter van die boekwebwerf Boekemakranka.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.