Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lina Spies op 80: 'n Gedig kom van 'iets wat jou aangryp'

Die digter Lina Spies is Woensdag 80 jaar oud en sy ervaar groot waardering en dankbaarheid. Maar tot vandag toe het sy nog nooit besluit om ’n gedig te skryf nie. Sy het met AJ Opperman gesels.

Prof. Lina Spies Foto: Werner Hills

Vandag, op die bekroonde digter prof. Lina Spies se 80ste verjaardag, gaan haar skryfloopbaan ongesteurd voort, maar sy skryf gewis nie elke dag poësie nie.

“Ek het nog nooit in my lewe op ’n dag besluit vandag gaan ek nou ’n gedig skryf, en voor ’n papier gaan sit en woorde neerskryf nie,” sê Spies.

Sy lees poësie amper elke dag; ’n gedig per dag, min of meer, maar met die skep van gedigte is sy volkome afhanklik van inspirasie.

“Ek dink ek wil dit verduidelik; dis nie ’n bonatuurlike ding nie. Dis iets wat jou aangryp, iets wat jy sien, wat jy hoor, ’n koerantberig wat jou boei. Dit kom op alle maniere na jou. Ek dink in versreëls. Daar kom ’n reël by my op na aanleiding van ’n waarneming of ’n ervaring.”

Sy beskou dit as ’n genre waarin troos ook opgesluit is.

Spies se debuutbundel, Digby vergenoeg, is in 1971 uitgereik.

Die digter D.J. Opperman het ’n groot invloed op die aanloop tot haar debuutbundel gehad. Spies was lid van sy eerste Letterkundige Laboratorium aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy was later ook sy assistent.

Haar gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” is die eerste gedig wat Opperman volkome aanvaar het.

“Hy het drie van my manuskripte gelees. Hy wou hê dat ek ’n sterk debuut moes hê.

“Hy was elke keer simpatiek oor die manuskrip wat ek voorgelees het. Hy het my op ’n dag besoek en gesê: ‘ek kan vir jou môre ’n uitgewer kry’. Maar toe het hy my aangeraai om te wag en te gaan kyk wat doen Nederland. Toe het ek sy wyse raad gevolg.”

Digby vergenoeg is met die Ingrid Jonker-prys en die Eugène Marais-prys bekroon.

“Dis nog altyd een van die sterkste bundels in my oeuvre. Dit gaan nie by mense verby nie, want hulle bloemlees aanmekaar (die verse) ‘ ’n Paternoster vir Suid-Afrika’ en ‘Vir Anne Frank van Het Achterhuis’.”

Dit bring ons gesprek by ’n saak wat sy nie heeltemal begryp nie.

“Daar word altyd verwys na Lina Spies se baie persoonlike poësie. Dis vir my ’n frustrasie dat ek op daardie manier uitgesonder word, want persoonlike verse kom tog in enige vrouedigter se werk voor. Jy kry temas by hulle almal wat by die belydenisvers skakel. Met hulle kinders, in my geval waar ek nie kinders het nie, die huishouding.

“En tog is al my bekendste verse, wat my ’n plek in die Afrikaanse literêre tradisie gegee het, bo persoonlike verse. Soos ‘Vir Anne Frank van het Achterhuis’ en ‘Lied van die kinders’.”

Spies is ontsettend dankbaar vir die waardering en erkenning wat na haar kant toe kom.

Sy woon al jare op Stellenbosch, maar het in Augustus na ’n nuwe blyplek hier verhuis.

“Ek kon gelukkig al my boeke behou en my kat Mouschi is nog absoluut deel van my daaglikse bestaan, hoor!”

Die naam Mouschi sluit weer aan by Anne Frank.

“Ek het jare lank met die naam in my kop geloop en besluit ek mag nie ’n kat so noem nie, want dit was Peter van Pels (wat ook een van die inwoners in Die Agterhuis was) se kat se naam. Hy het sy kat saamgevat na die Agterhuis. Die dag toe die Gestapo ingeval het, het Mouschi agtergebly. Toe het een van die vroue wat vir hulle bygestaan het, Mouschi onder haar vlerk geneem.

Toe het ek gewag vir die dag wat ek ’n kat moes red.”

Sy het haar Mouschi gered toe ’n vrou wat ’n klomp katte aangehou het, verhuis het.

Spies het as kleuter twee jaar op Stellenbosch gewoon, maar sy het op Harrismith in die Vrystaat grootgeword.

“Oor Stellenbosch sê ek altyd dat ek nie die pieke of die pragtige akkerbome onthou het nie, maar die skilpaaie in die Jan Marais-park. Maar ernstig, dit was iets van die atmosfeer. Harrismith is ’n mooi dorp in die Oos-Vrystaat. Ek het nou die dag vir vriende vertel hoe ek my ’n Kapenaar voel, en toe sê die vrou vir my: ‘Lina, onthou net, jy sou nie ‘ ’n Paternoster vir Suid-Afrika’ geskryf het as jy nie in die Vrystaat grootgeword het nie’.”

Spies het nog steeds ’n gehegtheid aan Harrismith, maar “ek het op 16 laas vir die Vrystaatse rugbyspan geskree”.

Sy het in die verlede dikwels graag saam met vriende tyd op Nuweland deurgebring.

Sy het ook ’n ironiese gedig geskryf “By die dood van N.P. van Wyk Louw” met die versreël “Die gees van my land is ’n voetbal.”

“En toe sien iemand wat die gedig ken, my die dag op die pawiljoen en dink, liewe vader, maar sy geniet die rugby en sy skree. En dan sê sy ’n nare ding oor rugby in ’n gedig . . .

“Toe het ek vir haar gesê moet nooit die mens en die digter 100% met mekaar identifiseer nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.