Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Liplekker, diep donker, met genoeg variasie

Kortverhale

Lyfskap

Saamgestel deur Sophia Kapp & Leonie van Rensburg

LAPA, R250

Van die verhale skilder onvergeetlike, sensuele prentjies. Ander laat jou giggel oor die snaakse situasies waarin begeerte jou kan laat beland, skryf Annelise Erasmus.

Daar is twee probleme, eintlik drie, waarmee ’n resensent stoei wanneer die “erotiese” geëvalueer moet word.

Die eerste probleem is die intense subjektiwiteit waarmee enige leser die onderwerp benader en die tweede probleem is die definisie van eroties. Hierdie twee probleme is nou met mekaar verweef.

“Erotica is in the eye of the beholder.” Hierdie is die heel eerste les wat ek geleer het en dit is spesifiek ter sprake wanneer ons na die leser of verbruiker van erotiek verwys eerder as na die skrywer of skepper daarvan. Die een se erotiese verhaal is die ander se pornografie.

Wanneer dit by seks kom, val alles vir elke leser iewers op ’n skaal en daar is ’n hele paar skale wat gelyk deur die individu gebruik word. Veral in Afrikaans is daar eerstens die moraliteitskaal, wat baie erotiek op die pornografiehoop laat beland. Dan is daar ook die seksuele skale. Elke leser (en skrywer) lê byvoorbeeld iewers op die heteroseksueel/homoseksueel-skaal, iewers op die dominant/ondergeskik-skaal en iewers op die kinky/“normaal”-skaal. Waar iemand op daardie skaal lê, sal bepaal of ’n spesifieke storie hom of haar prikkel – en laasgenoemde is een van die aspekte waaroor dit in erotiek behoort te gaan.

Die subjektiewe oog van die leser mag nie die basiese definisie en kenmerke van erotiek beïnvloed nie.

Die subjektiewe oog van die leser mag nie die basiese definisie en kenmerke van erotiek beïnvloed nie. Die erotiese kan nie net subjektief beoordeel word nie, want dan sou die woord later geen betekenis hê nie. Daar is ’n basiese voorwaarde of twee wat die erotiese eroties maak. Vir die doel van hierdie resensie is dit belangrik om te weet dat die meeste definisies “seksuele stimulasie” as ’n noodsaaklike voorwaarde van die erotiese sien.

In haar boek Towards a Definition of Eroticism besluit Made­leine Morris op die volgende de­finisie: “Eroticism is some form of transcendent experience fuelled by sexual desire, complicated by transgression, and exhibiting resistance to language. And if we accept that eroticism is a place where language breaks down, then we must be prepared to find bliss, as Barthes says, between the cracks and in the silences.”

Dit is myns insiens belangrik om te besluit wat die doel van ’n boek is wanneer dit spesifiek as erotiese stories bemark gaan word. As die doel is om van ons beste en bekendste Afrikaanse skrywers se pogings om erotiek te skryf in een bundel saam te vat, het hierdie boek geslaag. Die benadering het gelei tot ’n bundel wat talle tipes seksualiteit en talle tipes verhale bied.

As Lyfskap se doel was om die leser seksueel te prikkel, het dit net soms geslaag – juis omdat lus word by die leser lê. Maar omdat lus meer dikwels nader aan die pornografie- of “seksskryf”-deel van die skaal geprikkel word, was lus maak dalk nooit regtig deel van die plan nie.

Al die verhale is goed en die boek kan net om daardie rede aangeskaf word, maar almal is myns insiens nie eroties nie – by sommige is enigiets “seksueels” amper terloops, of die skrywer te laat onthou het dis vir ’n erotiese bundel. Baie van die verhale sal jy lank onthou, maar net sommige omdat hulle jou seksueel geprikkel het.

Watter leser sal teleurgesteld wees? Moontlik die leser wat soms waaghalsiger woorde nodig het om regtig geprikkel te word.

Iets is nie eroties net omdat dit iewers iets oor seks in het nie, maar iets wat geen seks in het nie is ook nie regtig erotiek volgens die meeste definisies nie. Dis moeilik, want van hierdie verhale smokkel met die definisie en daag die “reëls” uit deur net met ’n sin of twee by die agterdeur in te glip.

Ander verlei jou sintuie en wil jou laat skreeu dat dít tog is waaroor erotiek gaan. Maar is ’n verhaal oor kosmaak eroties as die leser die dis kan “proe” en “ruik” en “sien”? Die skrywer verlei die leser, maar nie noodwendig die stukkie van jou wat geprikkel behoort te word nie.

Met die gegewe dat hierdie resensent op die mees subjektiewe onderwerp subjektief gaan reageer, maar hopelik met ’n objektiewe definisie langs my op die lessenaar, wil ek vyf van die 25 verhale uitsonder as diep eroties: “Nagblom” deur Johan de Nysschen; “Skarlakenroos” deur Maya Fowler; “Dissels” deur Leon van Nierop; “Die soetheid van die vlees” deur Fanie Viljoen; en “Oggendvrug” deur Marlise Joubert.

Van die ander verhale skilder onvergeetlike sensuele prentjies wat soos voorspel jou voorberei vir die verhale wat volgens jou smaak jou oor die rand kan stuur.

Ander laat jou giggel oor die snaakse situasies waarin begeerte jou kan laat beland. Sommige is liplekker, diep donker. Genoeg variasie vir al die skale waaraan jy kan dink.

Watter leser sal van Lyfskap hou? Enige oopkopleser wat van kortverhale hou. Watter leser sal teleurgesteld wees? Moontlik die leser wat soms waaghalsiger woorde nodig het om regtig geprikkel te word. Die leser wat naby of oor die “veilige” grense van wat aanvaarbaar is, eers lus word. Maar daardie leser sal waarskynlik ook nie deur erotiek, per se, geprikkel word nie.

Erotiek transendeer, skep iets nuuts, oortree. Dit speel af in ’n plek waar woorde sukkel om te bestaan. As ons na hierdie definisie kyk, word daar baie min erotiek gepleeg en meer seksskryf gedoen, selfs in hierdie bundel. Miskien moet “seksskrywers” en “seksstorie-uitgewers” eerliker daaroor word en die grense weer so ’n bietjie verskuif.

Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.

Meer oor:  Sophia Kapp  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.